Koronavirus: 10 redes om nie paniekerig te wees nie

Argieffoto (Foto: Darko Stojanovic/Pixabay)

Deur Ignacio López-Goñi
The Conversation

Ongeag of die nuwe koronavirus (Covid-19) as ʼn pandemie verklaar is, is dit ʼn ernstige kwessie. In minder as twee maande het dit oor verskeie kontinente heen versprei. “Pandemie” beteken ʼn volgehoue en voortgesette oordrag van die siekte in gelyktydig meer as drie verskillende geografiese streke. “Pandemie” verwys nie na die dodelikheid van ʼn virus nie, maar eerder die oordraagbaarheid en geografiese verspreiding daarvan.

Ons het beslis ʼn pandemie van vrees. Die hele planeet se media is in ʼn greep van die koronavirus. Dit is goed en reg dat daar groot kommer en massabeplanning gedoen word vir die ergste wat kan gebeur. En die gevolge skuif natuurlik van die wêreldgesondheidsfeer na sake en politiek.

Dit is egter ook goed en reg dat ons nie paniekerig hoef te wees nie. Dit sal verkeerd wees om te sê daar is goeie nuus uit Covid-19, maar daar is tog ʼn rede vir optimisme; redes om te dink dat daar maniere is om die virus te beheer en te oorwin. En lesse wat ons vir die toekoms kan leer.

  1. Ons weet wat dit is

Die eerste gevalle van Vigs is in Junie 1981 aangemeld en dit het langer as twee jaar geduur om die virus (MIV) te identifiseer wat die siekte veroorsaak. Met Covid-19 is die eerste gevalle van erge longontsteking op 31 Desember 2019 in China aangemeld en teen 7 Januarie 2020 is die virus geïdentifiseer. Die genoom was op dag 10 beskikbaar.

Ons weet reeds dat dit ʼn nuwe koronavirus van groep 2B is, dieselfde familie as Ears, wat ons SARSCoV2 noem. Die siekte word Covid-19 genoem. Daar word vermoed dat dit verband hou met die koronavirus van vlermuise. Genetiese analise het bevestig dat dit ʼn onlangse natuurlike oorsprong het (tussen die einde van November en die begin van Desember) en dat, alhoewel virusse deur mutasie voortbestaan, is die mutasiekoers waarskynlik nie baie hoog nie.

  1. Ons weet hoe om die virus te diagnoseer

ʼn Toets om die virus te diagnoseer is sedert 13 Januarie 2020 beskikbaar. 

  1. Die situasie verbeter in China

Die streng beheer- en isolasiemaatreëls wat in China toegepas is, dra vrug. Die getal gevalle wat gediagnoseer word, daal reeds daagliks die afgelope paar weke. ʼn Gedetailleerde epidemiologiese opvolg word in ander lande uitgevoer; uitbrekings is geografies baie spesifiek en dit kan dus baie maklik beheer word.

  1. Ongeveer 80% van gevalle is matig

Die siekte veroorsaak geen of matige simptome in 81% van gevalle. In 14% van gevalle kan dit natuurlik tot erge longontsteking lei en in 5% van gevalle kan dit lewensgevaarlik of selfs dodelik wees. Dit is nog nie duidelik wat die sterftekoers gaan wees nie. Maar dit kan laer wees as die huidige beramings. 

  1. Mense word gesond

 Meeste van die data wat aangemeld is, hou verband met die toename in die getal bevestigde gevalle en die getal sterftes, maar meeste persone wat besmet is, word gesond. Daar is 13 keer meer gevalle van mense wat gesond word, as mense wat sterf, en dié verhouding neem steeds toe.

Persone wat daagliks gesond word. Koronavirus Covid-19 wêreldwye gevalle deur by Johns Hopkins CSSE

  1. Kinders toon slegs matige simptome

Slegs 3% van gevalle kom voor by mense jonger as 20, en die sterftesyfer vir persone jonger as 40 is slegs 0,2%. Simptome by kinders is só gering dat dit onopgemerk verby kan gaan.

  1. Die virus kan skoongevee word

Die virus kan doeltreffend onaktief gemaak word op oppervlakke met ʼn oplossing van etielalkohol (62%-71% alkohol), waterstofperoksied (0,5% waterstofperoksied) of natrium- hipochloriet (0,1% bleikmiddel), binne slegs een minuut. Die mees doeltreffende manier om besmetting te voorkom is om gereeld jou hande met seep en water te was.

  1. Wetenskaplikes werk wêreldwyd daaraan

Dit is die era van internasionale wetenskaplike samewerking. Ná slegs ʼn maand was 164 artikels op PubMed beskikbaar oor Covid-19 of SARSCov2, en talle ander beskikbaar in bronne van artikels wat nog nie hersien is nie. Dit is voorlopige werk oor entstof, behandeling, epidemiologie, genetika en filogenie, diagnose, kliniese aspekte, ens. 

Die artikels is deur ongeveer 700 outeurs saamgestel en word wêreldwyd versprei. Dit is samewerkende wetenskap – wat deursigtig is en gedeel word. In 2003, met die Ears-epidemie, het dit meer as ʼn jaar geduur om minder as die helfte van dié getal artikels te bereik. Boonop bied meeste wetenskaplike joernale oop toegang tot hul publikasies oor koronavirusse. 

  1. Daar is reeds entstof-prototipes

Ons vermoë om nuwe entstof te ontwikkel, is verstommend. Daar is reeds meer as agt projekte aan die gang om ʼn entstof te soek teen die nuwe koronavirus. Daar is groepe wat aan entstofprojekte werk teen soortgelyke virusse. 

ʼn Entstofgroep van die Universiteit van Queensland in Australië het aangekondig hy werk reeds aan ʼn prototipe deur van ʼn tegniek genaamd “molekulêre klamp” gebruik te maak – ʼn nuwe tegnologie. 

Dit is maar net een voorbeeld wat kan veroorsaak dat entstof in rekordtyd vervaardig kan word. Prototipes sal binnekort op mense getoets word. 

  1. Antivirale proewe is reeds aan die gang

Entstowwe is voorkomend. Tans is die behandeling van mense, wat reeds siek is, baie belangrik. Daar is reeds meer as 80 kliniese proewe wat koronavirus-behandeling analiseer. Dit is antivirale middels wat reeds vir ander infeksies gebruik word, wat reeds goedgekeur is en wat ons weet veilig is.  

Een van die middels wat reeds op mense getoets is, is remdesivir, ʼn breëspektrum antivirale middel wat steeds bestudeer word en getoets is teen Ebola en Ears/Mers.

Nog ʼn kandidaat is chlorokien, ʼn anti-malariamiddel wat ook kragtige antivirale aktiwiteit toon. Chlorokien voorkom virale infeksie deur die pH-vlak van die endosoom te verhoog, wat nodig is vir die samesmelting van die virus met die sel, en dus sy toegang beperk. Daar is bewys dat dié samestelling die nuwe koronavirus in vitro blok en word reeds gebruik op pasiënte wat koronavirus-longontsteking opgedoen het.

Ander voorgestelde eksperimente word gebaseer op die gebruik van oseltamivir (wat gebruik word teen die griepvirus), interferon-1b (proteïen met antivirale funksie), antiserums van mense wat herstel het of monoklonale teenliggaampies om die virus te neutraliseer. Nuwe terapieë is voorgestel met inhibitoriese middels, soos baricitinibine, gekies deur kunsmatige intelligensie.

Die griep-pandemie van 1918 het tot meer as 25 miljoen sterftes in minder as 25 weke gelei. Kan iets soortgelyk nou gebeur? Waarskynlik nie. Ons was nog nooit beter voorberei om ʼn pandemie te bestry nie.

The Conversation

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

Dankie Maroela vir positiewe goeie nagevorsde inligting. Mens is al skoon naar vir elke huis video of stempos wat meer weet en gruweliker wil oorkom. Dit moet nie ligtelik opgeneem word nie, maar sowaar party mense ruk dit heel uit verband. Dan het jy weer die groep wat glo hul sal niks oorkom, wel as jy moeilikheid soek, sal jy dit kry, maar jy hoef nie die hele winkel se toiletpaier in jou toilet te he nie.

JC Venter

Ek is nie paniekerig oor die virus nie, ek is paniekerig oor hoe die ANC die situasie kan aangryp na die dryf van hul ideologie. Ek dink ook aan die gryp van private gesondheid en waarmee hulle ons kan verras. SEB en regstellende aksie is in plek, hulle het hul oog op grond/eiendom, die NGV.

Leon

En hy hou gladnie van hitte nie. Hou jou neus en sinusse warm en drink baie warm vloeistof, dan maak jy die lewe baie moeilik vir die virus.

Gawie

Dankie vir die positiewe nuus!

Wielspore

Daar is heelwat eenvoudige goed wat Suid Afrikaners kan doen om hulle risiko van die siekte te verminder en dit kos niks, dit is gratis. Sonlig, of te wel die hitte van die son, hitte maak virusse dood en ons lekker SA sonskyn kan klaarspeel met enige virus. Sit bietjie buite in die son, lees ‘n boek, dan kry jy sommer vitamien D as bonus.
Afrika is nie vir sussies.