Koronavirus: Duisende SA studente veilig in China

China se ambassadeur in Suid-Afrika, Lin Songtian (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

China se ambassadeur in Suid-Afrika, Lin Songtian, het Vrydag gemeenskappe gerus gestel dat die duisende Suid-Afrikaanse studente wat by verskeie instansies in China studeer, beskerm word en veilig is.

“Altesaam 27 uit miljoene uitlanders in China is met die nuwe koronavirus (COVID-19) gediagnoseer. Drie persone is reeds genees en uithospitale ontslaan,” het Songtian tydens ʼn perskonferensie in Kaapstad gesê. “Twee persone is oorlede en hul lande is in kennis gestel. Altesaam 22 persone ontvang mediese behandeling. Daar is sowat 500 000 buitelandse studente in China.”

Songtian het gesê van dié studente is meer as 80 000 van Afrika en 5 000 is in Wuhan geleë. Daar is sowat 3 000 Suid-Afrikaanse studente in China, insluitend 165 in die Hubei-provinsie. Tot dusver is geen geval van die koronavirus bevestig onder Suid-Afrikaanse studente nie.”

Verskeie Suid-Afrikaners het verlede jaar beurse van die Chinese Ambassade in Suid-Afrika ontvang om in China te studeer, spesifiek in wetenskap en tegnologie.

Songtian het ook sy dankbaarheid betuig teenoor pres. Cyril Ramaphosa, die regering, politieke organisasies en sakeondernemings wat hul ondersteuning aangebied het sedert die virus uitgebreek het.

“Dit is tans die veiligste, goedkoopste en beste besluit vir uitlanders om tans in China aan te bly en streng te hou by China se voorkoming- en beheermaatreëls en instruksies. Dit is onveilig, duur en gevaarlik vir uitlanders om na hul tuislande terug te keer,” het hy bygevoeg. “Hulle kan moontlik die virus saam terugbring en ʼn bedreiging wees vir hul familie, vriende en mede-Suid-Afrikaners se gesondheid.”

Prof Lynn Morris, tussentydse uitvoerende direkteur van Nios

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het intussen gesê geen nuwe lande is oor die afgelope vyf dae aangemeld waar gevalle van COVID-19 bevestig is nie.

“Nios het tot en met 14 Februarie 2020 reeds 71 individue getoets vir moontlike besmetting met COVID-19, en alle uitslae was negatief,” het Sinenhlanhla Jimoh, woordvoerder van Nios, gesê.

Bykomende opleiding is Vrydag aan staat- en privaat gesondheidsorgpraktisyns verskaf om persone te identifiseer wat getoets moet word. Die opleiding sluit ook infeksie, voorkoming en beheer by hospitale in, insluitend pasiëntvloei en -bestuur en oorplasing van pasiënte na spesifieke hospitale.

Nagenoeg 1,5 miljoen persone het Vrydag in Hongkong in ʼn ry gestaan om gesigmaskers te koop. ʼn Tekort aan gesigmaskers het tot bykomende angstigheid gelei oor die verspreiding van die siekte.

Hongkong (14 Februarie 2020) (Foto: AP Photo/Vincent Yu)

ʼn Plaaslike handelaar het aan die uitsaaier RTHK gesê slegs sowat 30 000 persone kon gesigmaskers aanskaf. Altesaam 1,49 miljoen mense het in die ry gestaan om te registreer om ʼn gesigmasker te kan koop.

Wêreldwyd is meer as 64 000 persone reeds met die koronavirus besmet. Die jongste statistiek (Vrydag) is soos volg:

– China: 1 380 sterftes onder 63 851 gevalle; waaronder meeste in Hubei;
– Hongkong: 56 gevalle, 1 sterfte
– Macao: 10 gevalle
– Japan: 255 gevalle, waaronder 218 van ʼn passasierskip in Yokohama, 1 sterfte
– Singapoer: 58 gevalle
– Thailand: 33 gevalle
– Suid-Korea: 28 gevalle
– Maleisië: 19 gevalle
– Taiwan: 18 gevalle
– Viëtnam: 16 gevalle
– Duitsland: 16 gevalle
– VSA: 15 gevalle (een Amerikaner is in China oorlede)
– Australië: 14 gevalle
– Frankryk: 11 gevalle
– Verenigde Koninkryk: 9 gevalle
– Verenigde Arabiese Emirate: 8 gevalle
– Kanada: 7 gevalle
– Filippyne: 3 gevalle, 1 sterfte
– Indië: 3 gevalle
– Italië: 3 gevalle
– Rusland: 2 gevalle
– Spanje: 2 gevalle
– België: 1 geval
– Nepal: 1 geval
– Sri Lanka: 1 geval
– Swede: 1 geval
– Kambodja: 1 geval
– Finland: 1 geval

-Bykomende beriggewing deur dpa en AP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

katerinadiekat ·

Wel hulle is Definitief veiliger in China as Hier. Virus ofte nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.