Koronavirus: ‘Geen geval in Suid-Afrika’

Chinese werkers besoek ‘n woonbuurt in Zouping waar talle mense in kwarantyn geplaas is. (Foto: Chinatopix, AP)

Die departement van gesondheid sê hy hou die verwikkelinge rondom die verspreiding van die virus fyn dop, maar “bevestig dat geen geval van die koronavirus nog in Suid-Afrika aangemeld is nie”.

Die departement het ondersoeke van reisigers by alle grensposte verskerp en fokus op groot lughawens, het dr. Lwazi Manzi, woordvoerder, gesê.

“Daar is bewyse dat dié aanslag werk, omdat die meerderheid gevalle na gebiede buite China deur lugreisigers versprei word.”

Dit is hoogs onwaarskynlik dat asimptomatiese reisigers die virus gaan versprei.

“Daar was die afgelope 24 uur verskeie verwikkelinge wat ondersoek en by ons gereedheidsplan ingesluit moet word,” het sy gesê.

In Duitsland is ʼn sogenaamde derde-generasie-oordrag van die virus aangemeld en daar was dié naweek ook die eerste sterfgeval buite China.

Die virus is intussen van ʼn stoelgangmonster gekweek van ʼn pasiënt wat net diarree en geen ander simptome gehad het nie. Die moontlikheid dat die virus deur ontlasting oorgedra word, kan dus nie uitgesluit word nie. Die beste manier om dié soort oordrag te voorkom, is deur gereeld hande te was.

‘n Pasiënt word by Zhongnan-hospitaal behandel. (Foto: Xiong Qi/Xinhua, AP)

Manzi het gesê daar was intussen ook vals bewerings dat kenners mense aanmoedig om griepinspuitings te kry om die koronavirus te voorkom. “Ek wil dit benadruk dat daar in dié stadium geen entstof teen die koronavirus is nie, hoewel baie werk gedoen word om een te ontwikkel.”

Suid-Afrika het ook nog geen aanbeveling gemaak dat handel met China, of reise na en van die land, beperk moet word nie. Die departement het wel aanbeveel dat onnodige reise uitgestel word.

Manzi sê die Chinese owerhede en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) hou Suid-Afrika deurlopend op die hoogte van enige ontwikkeling, asook wat betref die situasie vir Suid-Afrikaners wat in China woon.

Daar is verseker dat Wuhan, waar die siekte aanvanklik uitgebreek het, genoeg kosvoorraad het. Die Nuwejaarsvakansie is ook verleng om beweging onder mense te beperk en die land se voorraad gesigsmaskers is intussen aangevul.

“Ander Afrika-lande sal hulle eie aankondigings doen oor hul reaksie op die koronavirus en ons verwag dat as daar ʼn bevestigde geval is, ons van die betrokke lande se owerhede en die WGO sal hoor.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

So die beet ding werk?

Jan

Ag wat n klug en foefie…mak die dom publiek so beikie skrik en verkoop dan lekker duur medisyne aan hulle…bewys le in die feit dat die hoeveelhede mense wat getoets is vir die vitus totaal on moontlik is…

Zetti

Daar is soveel stories op whatsapp wat se die virus is in Suid-Afrika, wonder wat moet mens glo? Uit ondervinding weet ek mense kan op hol raak oor niks en kan stories baie sterte aan kry.

netekalleen

Ons regering sal niks erken nie, want dan weet hulle gaan die publiek reageer en hulle kan dit nie handle nie

Rooikoos

Moet niemand vertrou nie…