Koronavirus-kenner sterf

Prof. Anton Stoltz (Foto: Reint Dykema)

Prof. Anton Stoltz, hoof van die departement aansteeklike siektes aan die Universiteit van Pretoria (UP) en kenner van die nuwe koronavirus, is oorlede.

Rikus Delport, woordvoerder van die UP, het aan Maroela Media bevestig Stoltz is Woensdagaand weens komplikasies ná ʼn operasie oorlede. Hy was 59 jaar oud.

Volgens Delport het Stoltz saam met verskillende waakeenhede in die Steve Biko- akademiese hospitaal gewerk en selfs ’n eenheid vir infeksievoorkoming en -kontrole geïnisieer. Dié eenheid moes studente en hospitaalbestuurders leer hoe om aansteeklike siektes behoorlik te bestuur. Hy het hom egter sedert Februarie vanjaar vir die stryd teen Covid-19 beywer ondanks persoonlike terugslae in sy eie gesondheid, het Delport gesê.

Maroela Media het Stoltz sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie verskeie kere geraadpleeg oor die verspreiding van Covid-19, asook die behandeling daarvan.

Prof. Anton Stoltz het vroeër vanjaar aan Maroela Media se paneelgesprek oor Covid-19 deelgeneem. (Foto: Reint Dykema)

“Hy het net weereens sy toewyding aan die verbetering van ander se lewens bewys en sal vir altyd onthou word vir sy kliniese uitnemendheid, sy toewyding aan navorsing, sy onveranderlike leierskap en sy onwrikbare liefde vir sy kinders en vrou. Ons betreur die verlies van hierdie talentvolle held wat sy lewe daaraan gewy het om ander se lewens te red,” het Delport gesê.

Medelye stroom sedertdien op sosiale media in.

“Ek het die voorreg gehad om hom onlangs ’n paar keer te ontmoet en was verstom deur sy geweldige passie vir sy werk, totale toewyding en tog nederige houding. Ek sal die stimulerende gesprekke en goeie advies wat hy so geduldig gedeel het te midde van sulke chaos rondom hom, koester,” skryf ʼn sosialemediagebruiker op Facebook.

“Hy was ’n sleutel rolspeler in die Covid-19 nasionale taakspan en sy verlies laat ’n reuse leemte,” skryf ʼn ander.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Ai dis hartseer, sterkte aan die vriende en familie

Scalla

Hartseer, dankie vir dit wat u opgeoffer het in belang van u medemense, sterkte aan u naasbestaandes.

Daan

Baie groot verlies vir Dr Tania Stoltz en kinders, familie, koleggas en Suid-Afrika. Ons gebede is met julle.

Danie

My innige simpatie en medelye met familie

Toy

Dit is hartseer. Simpatie aan die familie, Dit is ‘n groot verlies vir ons land.