Koronavirus: Krisis in Italië

Mense in maskers loop verby die Duomo-katedraal in Italië (Foto: Luca Bruno, AP)

Italiaanse owerhede het Sondag aangekondig meer as 150 gevalle van die koronavirus is in Italië aangemeld, wat dit tot dusver die ergste uitbraak van dié gevreesde virus in Europa maak. Drie mense is reeds dood.

Luidens ʼn BBC-berig is ten minste tien dorpe en talle skole in groot stede in die Veneto- en Lombardië-streek in Italië reeds gesluit. Tot soveel as 50 000 mense kan vir die volgende twee weke nie sonder spesiale toestemming toegang toe dié gebiede kry nie. Italië het streng kwarantynbeperkings in die geteisterde gebiede rondom die digbevolkte Milaan en Venesië ingestel.

Verskeie sportbyeenkomste soos groot sokkerwedstryde is ook afgestel. Die jaarlikse karnaval in Venesië is ook die afgelope naweek kortgeknip weens dié virus.

Die jaarlikse karnaval in Venesië is ook die afgelope naweek kortgeknip weens dié virus. (Foto: Luigi Costantini, AP)

ʼn Trein met minstens 300 passasiers van Venesië is by die Oostenrykse grens gestop nadat dit geblyk het dat twee passasiers simptome van koors onder lede het. Karl Nehammer, Oostenrykse minister van binnelandse sake, het later bevestig dié twee het negatief vir die koronavirus getoets.

Teen Maandagoggend is daar reeds meer as 30 gevalle in die res van Europa aangemeld met 16 gevalle in Duitsland, 12 in Frankryk, insluitend een sterfte, twee gevalle in Spanje, een geval in België, een in Finland en een in Swede.

Intussen is die kreefseisoen aan die Suid-Afrikaanse Weskus verleng. Dit is gedoen om vissermanne te ondersteun wat deur die dramatiese afname in uitvoer van kreef na China geraak word, sedert die uitbreek van die koronavirus. Die departement van omgewingsake, bosbou en vissery het Sondag aangekondig die uitbreek van dié virus het die uitvoerprys van kreef drasties laat daal.

‘n Italiaanse polisiebeampte praat met ‘n man met ‘n masker aan by ‘n padblokkade in Italië (Foto: Paolo Santalucia, AP)

Gevolglik het kleinskaalse vissermanne die departement gevra om maatreëls te tref om die bedryf, werkers en vissers wat negatief deur die virus geraak word, te ondersteun. Soveel as 90% van alle kreef wat in Suid-Afrika gevang word, word na China uitgevoer.

Hoewel die departement die vissermanne nie vir hul finansiële verliese kan vergoed nie, het hulle besluit om die seisoen te verleng in die hoop dat hulle hul verliese sal kan opmaak.

Die departement het ook maatreëls getref om toe te laat dat die permitvoorwaardes gewysig word, sodat vissers van die Wes-Kaapse Kreefvereniging (WCRLA) én lynvisvissers oor naweke hul vangste aan land kan bring. In sulke gevalle sal visserybeamptes op die terrein wees om landings te monitor.

Intussen gaan Standard Bank Maandag ʼn kontantskenking deur die Chinese ambassade in Suid-Afrika aan die Volksrepubliek van China maak as deel van wêreldwye ingrypings om die verspreiding van die koronavirus teen te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Aai ·

‘n Paar ISIS terroriste wat jonk is kan groot probleme veroorsaak in die wereld deur om die virus te versprei onder mense en hulle sal gesond word want dit is baie gevaarlik vir mense met gesondheids probleme en ouer mense.

TOBIE ·

Dit is ‘n absolute sirkus dat die kreefseisoen verleng is, dit is om vir iemand ‘n blanko tjek te gee en vra om so veel as moontlik te gaan spandeer, aand vir aand sien ek die booitjies vanaf Paternoster na Elandsbaai vertrek, partykeer tot soveel as 30 op ‘n slag en keer die volgende oggend weer terug , en dan spog hul met tot 5000 “nekkies”per boot per nag (vir die leek, dit is die stert gedeelte van ondermaatse kreef nie veel groter as ‘n “prawn”nie wat teen R10 per stert aan Jan Publiek gesmous word), toevallig dit is onwettig vir enigiemand om na 4 in die middag en voor 8 in die oggend kreef te vang, maar hier aan die Weskus gaan dit lekker, geen polisiering, geen beheer, hoe gouer die Weskus kreef uitgeroei is, hoe beter vir die samelewing, dit is ‘n absolute skande om te sien hoe die kreefbronne dag na dag geplunder word, dank die Vader ek is allergies vir kreef!!!

jinny jualinda ·

Om te dink dat iets soos n virus wat nie met die blote oog gesien kan word nie, die hele wereld laat stilstaan.

Johann ·

Daar sterf jaarliks duisende meer mense wêreldwyd aan gewone griep as wat tans as gevolg van die Coronavirus reeds gesterf het.

Brakenjan ·

Standard Bank doen dit want hul bates is meerderheid besit deur Chinese… Maak sin, ja.

J ·

Hier by ons sal mense op strepe sterf sonder dat iemand besef dat dit a.g.v. die Corona virus is.

MIV, Tuberkulose, Malaria, Ebola, Buboniese plaag …. bedreig voordurend die massas …. ten minste een van hulle gaan handuit ruk?

Ek wonder hoekom?

Biologiese oorlogvoering?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.