Koronavirus: Parlement sluit vanaf Woensdagmiddag

LP’s tydens ‘n parlementsitting. (Foto: GCIS)

Die parlement sal vanaf Woensdagmiddag gesluit wees weens die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19).

Vir die eerste keer sedert die ontstaan van parlementêre nasionale regering vir Suid-Afrika in 1910 is die parlement ook vir toegang deur die algemene publiek gesluit. Parlementslede, parlementêre amptenare en joernaliste wat by die parlement geakkrediteer is, word steeds op die parlementêre terrein toegelaat, maar elke keer dat hulle die terrein betree word hulle vir simptome getoets deur verpleegsters.

Alle parlementêre komitee-aktiwiteite, insluitend die werk van die ad hoc-komitee oor die verandering van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, is ook onbepaald opgeskort. Dit sluit alle oorsigkomitees van die parlement in.

Die Nasionale Vergadering sal wel Woensdagoggend byeenkom om die Wetsontwerp op Verdeling van Inkomste goed te keur. Daarsonder sal provinsies nie geld hê om noodsaaklike dienste te lewer nie.

Pres. Cyril Ramaphosa vergader Woensdagoggend om agtuur met alle leiers van opposisiepartye. Dit gebeur te midde van groot onsekerheid in alle tersaaklike kringe oor hoe die land grondwetlik korrek bestuur gaan word met parlementêre oorsig opgeskort.

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, sou Dinsdag ‘n mediakonferensie daaroor gehou het, maar dit het nooit gematerialiseer nie. Na Maroela verneem, wortel die oponthoud juis in meningsverskil oor hoe verantwoordbare landsbestuur moet voortgaan, en kan dit die kern van Ramaphosa se bespreking met opposisieleiers vorm.

Alle groot politieke partye steun tans die regering se optrede teen die koronavirus, hoewel die DA selfs strenger maatreëls vir gebiede onder DA-beheer (die Wes-Kaap, die Thabazimbi-munisipaliteit, die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in Modimolle/Nylstroom, die Midvaal-munisipaliteit in Meyerton en die Kouga-munisipaliteit in Humansdorp) aangekondig het.

Die DA het ook alle DA-aktiwiteite in die Noord-Kaap afgestel en sy beleidskonferensie onbepaald uitgestel.

Die EFF het alle party-aktiwiteite landwyd afgestel, insluitend hul groot saamtrek op Menseregtedag by Sharpeville in die Vaaldriehoek.

Die IVP het die party se 45ste verjaardagviering in Ulundi afgestel.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Oelala… nou gaan ons weer lekker vakabsie hou op anderman se kostes.

antieke antie ·

gaan hulle ook miskien inboek by die vriend se hotel saam met die ingevoerdes…. of kry elkeen nou sy eie dr

Jims ·

Of die parlement nou oop of gesluit is sal nie veel van n verskil maak nie.
Daar word in elk geval nie baie gewerk nie.

Scalla ·

Sal geen verskil maak nie, TV hoef nie dan cartoon program uit te saai nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.