Koronavirus: President kondig maatreëls vir SA aan

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand die Suid-Afrikaanse publiek toegespreek ná ʼn spesiale kabinetsvergadering oor die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19).

“Gegewe die skaal en spoed waarteen die virus versprei het, is dit duidelik dat geen land immuun gaan wees teen die siekte nie. Nog nooit vantevore in die geskiedenis van ons demokrasie het ons voor só ernstige situasie te staan gekom nie,” het Ramaphosa gesê.

Volgens hom is minstens 61 persone in Suid-Afrika reeds met die virus besmet en die eerste geval van plaaslike oordrag is aangemeld. “ʼn Buitengewone reaksie is dus nodig en ons kan nie halfhartig optree nie. Dringende en drastiese maatreëls is nodig om die verspreiding van die virus te bestuur, Suid-Afrikaners te beskerm en die impak te verminder.”

ʼn Nasionale ramptoestand is afgekondig om ʼn geïntegreerde en gekoördineerde rampbestuurstelsel te implementeer om die uitbreking te bestuur, het hy bygevoeg. Dit stel die regering ook in staat om nooddienssentrums op te rig.

Die president het gesê uit ʼn omvattende analise van die verspreiding van die virus wêreldwyd, sal die volgende maatreëls toegepas word:

  • ʼn Reisverbod word vanaf 18 Maart 2020 ingestel op reisigers van Italië, Iran, Suid-Korea, Spanje, Duitsland, die VSA, die Verenigde Koninkryk en China.
  • Visums vir reisigers van dié lande word met onmiddellike effek gekanselleer en visums wat vroeër uitgereik is, word teruggetrek.
  • Suid-Afrikaners word met onmiddellike effek versoek om nie na die Europese Unie, Verenigde Koninkryk en ander hoërisikolande soos China, Iran en Suid-Korea te reis nie.
  • Reiswaarskuwings sal uitgereik word vir spesifieke lande/streke en stede gebaseer op die betrokke risikovlak.
  • Enige uitlander wat die afgelope 21 dae enige van die hoërisikolande besoek het, se visums sal afgekeur word.
  • Suid-Afrikaners wat terugkeer van lande met ʼn hoë risiko word versoek om hulself te isoleer.
  • Höe-intensiteittoetsing sal gedoen word op reisigers van lande met ʼn medium risiko (Portugal, Hongkong, Singapoer).
  • Altesaam 35 van Suid-Afrika se 53 grensposte (op land) sal vanaf 16 Maart 2020 gesluit word.
  • Twee van ons agt grensposte (hawens) sal vanaf 16 Maart 2020 gesluit word.
  • Suid-Afrikaners word ontmoedig om voort te gaan met enige nie-noodsaaklike reise.
  • Byeenkomste van meer as 100 persone word verbied.
  • Groot byeenkomste (soos Menseregtedag) en ander groot regeringsbyeenkomste word gekanselleer.
  • Skole word vanaf Woensdag tot ná die Paasnaweek gesluit. Die Junie-vakansie sal gevolglik met ‘n week verkort word.
  • Die regering werk nou saam met kolleges, universiteite, die Weermag, die SAPD en gevangenisse om baie streng higiënebeheer toe te pas.
  • Besoeke aan gevangenisse word vir 30 dae opgeskort.
  • ʼn Beroep word op ondernemings en die mynboubedryf, bankwese, landboubedryf en groothandelaars gedoen om seker te maak streng higiënebeheer word toegepas.
  • Die bestuur van winkelsentrums, vermaaksentrums en ander plekke wat groot skares lok, word versoek om higiënebestuur op te skerp.
  • Kapasiteit sal by hospitale vergroot word.
  • Kapasiteit sal vergroot word vir diegene wat persone moet opspoor wat moontlik in kontak was met persone wat besmet is met die virus.

Só groet mens iemand met die elmboog, het pres. Cyril Ramaphosa in sy toespraak verduidelik (Foto: Skermgreep uit die video)

Ramaphosa maan Suid-Afrikaners om hul hande gereeld vir minstens 20 sekondes met seep en water te was of ʼn handreiniger te gebruik. “Bedek jou neus en mond met ʼn sneesdoekie of die buiging van jou elmboog indien jy nies of hoes. Vermy enigiemand wat verkoue-simptome toon. Groet mense met die elmboog en moenie bladskud nie.”

ʼn Nasionale beheerraad word aangestel onder leiding van die president. Dié raad sal minstens drie keer per week vergader om die land se reaksie op die verspreiding van die virus te koördineer en te bestuur.

Ramaphosa het gewaarsku dat die verspreiding van die virus nie net ʼn groot impak sal hê op die dag-tot-dag lewe van Suid-Afrikaners nie, maar ook op die ekonomie. “Ons het die afgelope paar weke reeds ʼn afname gesien in toerisme en die daling in wêreldwye markte. Die verwagte effek op toerisme en die ekonomie sal waarskynlik vererger weens die maatreëls wat ingestel word om die verspreiding van die virus te beperk,” het hy gesê. Die regering sal egter ʼn omvattende pakket saamstel om die impak van Covid-19 op die ekonomie te beperk, en fiskale en ander maatreëls sal met ondernemings, vakbonde en ander betrokke instansies bespreek word.

“Alhoewel ons begrip het dat die situasie angs kan veroorsaak, kan ons nie toelaat dat ons lamgelê word deur vrees en paniek nie. Hou op om vals nuus te versprei. Alhoewel ons deur ʼn mediese noodtoestand in die gesig gestaar word, is ons nie hulpeloos nie. Ons het die kennis, ervaring en hulpbronne om hierdie siekte te bestry. Ons het ook vennote in verskeie lande en die hulp van die Wêreldgesondheidsorganisasie wat deurgaans saam met ons werk. As ons vinnig reageer, kan ons die effek beperk op ons mense en ons land. Ons beperk dalk fisiese kontak, maar só epidemie kan ons nader aan mekaar bring. Ons reageer as ʼn verenigde land op ʼn gemeenskaplike bedreiging. Ons moet saamwerk, en gesamentlik aksie neem. Ons het nou begrip en deernis nodig. Diegene wat gesond is, moet diegene help wat kwesbaar is. Elke vakbond, nieregeringsorganisasie, universiteit, kollege, skool, godsdienstige organisasie, taxivereniging en stokvel moet hul deel doen.”

Hy het persone bedank wat self na vore gekom het om getoets te word wat vermoed het hulle is moontlik besmet en dat hulle self-geïsoleer het om die verspreiding van die siekte te verhoed.

“Hierdie epidemie sal verbygaan. Dit is nou in ons hande om te bepaal hoe lank dit gaan duur en hoe lank dit die ekonomie gaan neem om te herstel. Ons moet beslissend optree en dan sal ons dit deurstaan. As ons saamstaan, is ons sterk.”

Klik hier om die president se oorspronklike toespraak te lees.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Charmain ·

Mbt die boodskap op sosiale media dat skole van Maandag gesluit word? Die inligting was verkeerd: skole sluit eers van Woensdag af.

Sune van Heerden ·

Dagsê Willem

‘n Vervalste skrywe op die departement van onderwys se briefhoof is oor die naweek op sosiale media rondgestuur. Volgens dié skrywe sou staatskole vandag (Maandag) reeds gesluit het. Die omsendbrief is egter nie deur die departement van onderwys uitgereik nie. Die departement van onderwys en die departement van gesondheid het bevestig dit is ‘n vervalste brief en ons het ons lesers dus gewaarsku teen die misleidende inligting.

Die president het egter in sy toespraak later Sondagaand gesê die skole sluit vanaf Woensdag (artikel hier bo). Om verwarring te voorkom met die misleidende omsendbrief en die president se mees onlangse maatreëls, het ons besluit om die artikel oor die vervalste skrywe eerder van Maroela te verwyder.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Antjiepat ·

As ek ‘n onnosele vraag mag vra.. Kan ‘n skool weier om te sluit Woensdag? Daar is gese vanaf die skool se kant dat hul dit mag betwis en dat daar nog geen amptelike skrywe van die Dept van Onderwys uitgereik is nie….

Charmain ·

Waar kan ons uitvind watter grensposte gesluit sal wees?

Michael ·

Die minderheid toeriste kom die land via grensposte binne so hy kan al die grensposte toemaak as hy wil dit gaan weinig help

Jaco ·

Klim net oor die grensdraad of kruip onderdeur of stap net by SA in daar waar op talle plekke geen draad is nie. Dis lankal so en die SA regering doen niks teen dit nie.

Michael ·

Dit nou van n president wat nie eers elektrisiteit en water kan beheer nie,wag tot hierdie virus n plakkerskamp tref dan val sy reëlings en noodmaatreëls soos met elke krisis weer gesig eerste in die grond.

antieke antie ·

meeste glo dit sal nie plakkerskampe tref nie want hulle het nie oorsee gereis nie…. eish

Ilze ·

Hoe was jy jou hande as die regering nie eers water kan verskaf nie?? Om nie te praat van krag sodat die water warm gemaak kan word nie? Hoe isoleer jy jouself in ‘n huis sonder krag of water vir groot gedeeltes van die dag? Ons beplan alreeds al ons buite aktiwiteite rondom loadshedding.

Hein ·

Ek sal nooit Suid Afrikaners verstaan nie. Vir weke moan almal die skole moet gesluit word die travel bans moet ingestel word. Nou dat dit gedoen word nou word daar gekla omdate dit wel gedoen is. Miskien moet die klomp kla kouse van hulle couches afklim en iets begin doen vir die samelewing. Ek is nie ‘n ANC fan of Ramaphosa fan nie maar wat hy doen is nodig en dalk selfs bietjie laat. Kenya het net 3 gevalle gehad toe begin hulle reeds met skole toe maak en travel bans instel. Daar is nie nou tyd vir politieke agendas nie.

Vlooi ·

Hein dankie, ek wil met jou heelhartig saamstem. Pleks van negatiewe kommentaar, vertel liewers wat jy gaan doen om te help, of gaan die negatiewes ook maar agter oor sit tot die ramp hulle tref. Kom die kla kouse, wat sou jy gedoen het.

Patch ·

@Hein, was nogal my gedagte ook. Niks sal ooit goed en reg wees in baie mense se oë nie. Kla oor dit en dat en as daar daadwerklik iets gedoen word kla hulle daaroor ook. Ai, die mensdom…

Gemaskerde Sopbeen ·

Hein, ek stem tenvolle saam. Ek het ‘n paar nabye famililede wat ek al paar jaar ten alle koste vermy juis weens hulle aanhoudende negatiewe menings. Nie een van hulle doen iets positiefs nie maar gooi klippe. Geen normale “kuier” is moontlik nie, maar alles word oordonder deur ‘n negatiewe gekerm. Ek is realisties en deeglik bewus van alles wat verkeerd en opgemors is; ek is ook nie ‘n Ramaphosa of ANC ondersteuner nie, maar ten minste is logiese besluite geneem. Daar is beslis ‘n beperking op wat gedoen kan word. Ek kan verstaan daar sal probleme wees met die hantering van COVID. Ons woon in ‘n derde wereld land en ek is ook bekommerd oor die impak wat plakkers kampe, mense wat noodgedwonge saam in busse, treine en taxis moet ry om kos geld te verdien.
Ek weet dit is soms bykans onmoontlik om positief te wees. Wat my verder verstom is dat die meeste van die klaers hulle self as Christene beskou. Nie ‘n baie gelowige uitkyk om so negatief te wees nie, of hoe?

Hein ·

Beslis Daan ek voel daar is ‘n tyd vir alles in die lewe en nou is nie die tyd om klippe te gooi nie.

Magda ·

Moet Higiene toe gepas word in die dele waar daar nie eers water of elektrisiteit is nie Ramaphosa, julle kan dit nie eers voorsien vir die mense wat dit die meeste nodig het nie, maar NOU wil JY en korrupt regerign se die mense moet higiene toepas. To little to late. Hoop jy kan met n geruste gemoed slaap want glo my ek kan nie,

Luister ·

Ek is nog steeds banger vir ‘n inbraak waar ek ‘n skraler kans het vir oorlewing as met die Corona virus.

Vlooi ·

Ek dink dat die regering inderdaad vir eenkeer ‘n rassionele besluit geneem het. Die feit dat SA nog nie so erg geaffekteer is nie maak dit nie anders as ander lande nie, die feit is dat daar ‘n strategie/plan in plek gestel word om tog ‘n mate van beheer te kry om dit sover moontlik te beperk. Daar is egter faktore wat ‘n rol gaan speel om die sukses van die regering se poging te bepaal, die belangrikste is hoe die burgers van hierdie land gaan saamwerk, watse maatreels deur maatskappye, besighede, kantoorblokke ens ingestel gaan word om die poging te steun. Ons is nou verantwoordelik om na mekaar se welstand te kyk, die ware Ubuntu sal nou bepalend wees.
My grootste kommer is nou die impak wat dit gaan inhou vir my en ander se kinders wat nou in matriek is. Die skole sluit nou reg in die middel van ‘n toetsreeks. Ek hoop dat daar planne in plek is om dit ook te hanteer.
Dalk tong in die kies wil ek se, Eendrag maak Mag

Morne ·

China het 2 Hospitale gebou in weke. Hoe gaan SA nooddienssentrums kan op rig in tyd as hulle dan nie eers n krag stasie kan kla bou nie.

BRBR ·

Goeie verskoning om “tenders” heeltemal te vermy…watch this space.

Gert ·

Ek kon nog geen statistieke sien van hoelank die virus buite die liggaam leef nie. Op trapreelings, posstukke van ander lande, ens. Dit behoort nie moeilik te wees om dit na te vors nie! In koue en warm omstandighede!

pieterweskaap ·

Alle eer aan ons Skepper dat hierdie ding ons NIE in die Zuma-era getref het nie !!

Smurf ·

In 2009 is meer as 61 000 000 mense met varkgriep gediagnoseer , meer as 500 000 het gesterf en daar was toe nie naastenby so n ophef van gemaak nie , daar was ook GEEN voorkomende matrieels van hierdie skaal in plek nie..Dit wat nou aan die gang is laat my yskoud .

BRBR ·

Stem saam! Dit is omdat daar ‘n redelike verskil is.

Jou nommers dui aan dan 0.8% van die wat met Varkgriep gediagnoseer was gesterf het.

Met COVID-19 staan die nommer tans op +-3.8%, en dit sluit nuwe diagnoses in. As jy net kyk na gevalle waat die persoon of gesond geword, of dood is, staan die nommer tans op 8%.

Die hele punt is om te probeer vermy dat miljoene siek word.

charmaine ·

Die skole sluit 2dae vroeer nou is al die mamma’s nou weer wat maak ons nou met ons kinders(gooi hande in lug) maklik indien moontlik reel met jou baas en werk van die huis af jy het nie nodig om verlof te vat vir dit nie, die krisis is uit mense se hande as Cyril die skole sluit dan kan hy, so dit sal net menslik wees om ouers te gemoed te kom vir 2 dae en dan is daar vir 2 dae minder mense op kantoor, veral hier by ons in ons ooplan kantoor.

Oe la la ·

Charmaine, dis nie moontlik vir almal om van die huis af te werk nie.

Johan Venter ·

Charmain, kyk dat hierdie ‘n krisis is, is so, maar was dit nou vir hom nodig om die skole 2 dae vroeër te laat sluit, dan sou die vakansie in alle geval aangebreek het. Weer sê ek dit is mos ‘n krisis, maar dan vergader die kabinet op ‘n Sondag, dit kon netsowel vandag of verlede week gewees het. Hierdie laat my eerder daaraan dink dat die ‘regering’ sy stempel wou afdruk en bewys hy is in beheer. Plaas dat hy net doen dan sal mens nie die regering se motief oor tydsberekening bevraagteken nie.

Luister ·

Ah, jy meen hy moes dit eers oor ‘n maand gedoen het? Sou dit beter tydsberekening gewees het?

Nell ·

Ek wonder oor die gegroetery met die elmboog – dieselfde elmboog waarin daar genies en gehoes word??

Johan Venter ·

Hallo Maroela, Smurf het effe hoër op in sy kommentaar van die varkgriep van 2009 – 2010 melding gemaak en syfers genoem. Ek het dit ook nou gaan Google, dit sal nou interessant wees as Herman Toerien of een van die ander rubriekskrywers ons meer daaroor, met statistiek, kan toelig en dit dan met die huidige pandemie betreffende hierdie virus wat die wêreld tans ervaar vergelyk.

Ja, ek kan my nie herinner dat die wêreldekomomië toe tot stilstand gekom het nie. Was reise ook toe beperk, vlugte, edm?

Adriana ·

Wonder wat sê Mnr Malema van die situasie. Sy vriende in die ooste wat die ding nou begin het en nie die Europeêrs wat hy altyd so sleg sê en verantwoordelik hou vir als wat gebeur. Gaan jy jou nou ook afsonder.

Gewaardeerdery ·

mense wat so winkels hardloop om kos te koop… ontspan net… die winkels gaan steeds oop bly…

Elmarie ·

Christelle, as dit baie erg raak MAG aflewerings van produkte stop of as sekere dorpe of areas in “lockdown” gaan soos Italy dan gaan daar probleme kom. So al bly supermearkte oop mag mens dalk sukkel om sekere goed te kry. Hierdie is nie fopnuus en ek glo nie iemand het dit so beskou ooit nie maar ek dink mens moet net verstandig wees en nie onnodig op hol raak en nie allerhande fopnuus rate van sg drs uit Italy glo of nonsens soos mens moet hth (swembadchloor!!)drink ens nie. Daar is ‘n spesiale Corona no wat, as jy dit in jou adreslys sit in jou whatsapp verskyn. Dit was gisteraand op Carte Blanche en daar kry mens baie inligitng. Onthou net derduisende gebruik dit so dit mag stadig wees maar dis deur Dep van Gesondheid ingestel die no is 0600123456. Moeite werd om dit in te sit en dan as di tin jou whatsapp verskyn stuur die woordjie hi en dan kry jy hele “menu” vir inlgting

Johan Venter ·

Het hy nou hier bo gewys hoe groet ‘n mens? Dit het my eerder na ‘n pomp in die ribbekas gelyk, of dalk ‘n voorarmhou.

Dit sal maar rof gaan as alle bekendes mekaar so in die winkelsentrum , of die supermark groet.

Piet parys ·

Bietjie laat ” Cyril “moes al in 94 die land as a state of disaster verklaar het . . ….. Die virus moes in die eerste plek nie ingevoer gewees het met mense wat hoë risiko lande besoek het nie. Daai mense moes van die begin af onder kwarantyn gewees het maar in die karoo sodat die virus daar van hitte gevrek het . As Anc wakker gewees het en nie dieselfde foute as oorsee begaan nie was ons nie nou in die gemors nie

Luister ·

Ja, al die ander lande het dit betyds gedoen. Dis hoekom hulle nou geen gevalle het nie!

antieke antie ·

hulle het dan die siekes ingevoer en treat hulle op n rojale vakansie

Elmarie ·

Onthou asb die Dep van Gesondheid het ‘n spesiale no geksep vir whatsapps. Dit was gisteraand op Carte Blanche. Die nommer is 0600123456. As jy dit in jou adreslys sit kom dit in jou whatsapadreslys op. Dan stuur jy die woord hi na die nommer waarop jy ingeskakel in en kry jy ‘n lys van ‘n “menu” waar jy allerhande vrae en nuus kan kry wat die nuutste is. Onthou ne tderduisende mense gebruik die nommer so dit mag paar sekeondes neem. Die moeite werd om dit in te sit en so alle nodige en nuutste info te kry

Adele ·

“Visums na dié lande word met onmiddellike effek gekanselleer en visums wat vroeër uitgereik is, word teruggetrek.” Beteken dit dan dat ‘n Visum om te reis NA Duitsland, teruggetrek word? Miskien moet julle dit duideliker stel, volgens die regering se webtuiste is dit slegs visums uitgereik AAN daardie lande, nie NA daardie lande nie.

“We have cancelled visas to visitors from those countries from today. Previously granted visas have been revoked,” he said.

Amatambo ·

Hier omstreeks 1948 (ek was toe nog op skool doerie tyd) breek daar ‘n polio (kinderverlamming) epidemie landwyd uit – inderdaad, een van my neefs is eintlik daaraan dood – en heelwat mense is in ‘n “ysterlong” lewend gehou. Dit was ook baie aansteeklik en die skole is ook vir 3 weke gesluit – ouers is gevra om hulle kinders binne hulle eie grense (eiendomme) te hou – en oorle’ Pa het TCP gekoop en daarop aangedring dat ek gereeld daarmee moes gorrel. Na die drie weke se “vakansie” het die owerhede nog ‘n ekstra week skoolvakansie aangekondig en later het (ek DINK) ene Dr. Jonas Salk ‘n teenmiddel vir polio ontwerp wat (soos ek verstan) nog vandag gebruik word om kinders mee in te ent…
Maak geen fout nie -hierdie is NIEdie eerste (en ergste)krisis wat ons land tref nie – die1918 griep het wêreldwyd ook talle lewens geëis – mense, hou alle gesondheidsreëls voor oog enpas hulle toe…

Antjiepat ·

As ek ‘n onnosele vraag mag vra.. Kan ‘n skool weier om te sluit Woensdag? Daar is gese vanaf die skool se kant dat hul dit mag betwis en dat daar nog geen amptelike skrywe van die Dept van Onderwys uitgereik is nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.