Koronavirus: SA navorsers kweek laboratoriummonster

Dr. Tasnim Suliman.

Danksy samewerking tussen die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) en die Universiteit Stellenbosch het Suid-Afrika verlede maand sy eerste laboratoriummonster van die nuwe koronavirus geïsoleer.

Die universiteite sê in ʼn gesamentlike verklaring hoewel groot gewag gemaak word van die ontwikkeling van ʼn teenmiddel vir Covid-19, is dit uiters belangrik dat medici die virus behoorlik verstaan.

“ʼn Suiwer monster van die virus open talle deure vir navorsing in Suid-Afrika. Op die oomblik berus baie van die data oor die nuwe virus op die opspoor van genetiese materiaal – wat gedoen word ná die virus reeds ‘dood’ is – en dit bevestig nie of die virus steeds lewensvatbaar is en infeksie kan veroorsaak nie,” het dr. Tasnim Suliman, verbonde aan die UWK, gesê.

“Daar kan nou op ʼn lewende virus geëksperimenteer word en waargeneem word hoe dit in die laboratorium reageer.”

Suliman kon – onder uiters streng bioveiligheidsmaatreëls – selkweeksels met monsters van Covid-19-pasiënte inent en die virus só kweek.

“Ons het nie die virus geskep of op enige manier aangepas nie. Al wat ons gedoen het, was om ʼn geskikte klimaat te skep vir die virus om in te groei; in ʼn ruimte waar ons groot hoeveelhede van die virus kan oes om navorsing mee te doen. Streng veiligheidsmaatreëls het gegeld,” het Suliman gesê.

Die virus kan byvoorbeeld nou gebruik word om nuwe, antivirale middels te toets en as dit enige uitwerking op die virus het – sonder om die selletjies skade te berokken – kan dit moontlik later in kliniese proewe gebruik word.

“Suid-Afrika is die toonaangewende Afrika-land op die gebied van wetenskap en tegnologie, maar ons hulpbronne bly beperk wanneer dit met die standaard van ontwikkelde lande vergelyk word. Dit is ʼn geweldige voordeel vir ons om die virus beskikbaar te stel en ander te lei oor hoe om dit plaaslik veilig te hanteer,” het Suliman gesê.

Een van die grootste beperkings om SARS-CoV-2 te kweek is die beskikbaarheid van ʼn BSL-3-laboratorium (die bioveiligheidsvlak van die laboratorium), sodat aan die uiters streng veiligheidsmaatreëls voldoen kan word. Suliman is die enigste Suid-Afrikaner wat tot dusver ʼn sogenaamde BSL-3-koronavirus gekweek het. Sy lei nou ook ander wetenskaplikes van die Universiteit van Kaapstad hierin op.

“Aanvanklik was dit skrikwekkend. Ek was deeglik bewus dat net een ding met die oorpak kan skeefloop of daar net een ontydige fout gemaak word – en besmetting vind plaas. Met opleiding en gereelde werk in die BSL-3-laboratorium ontwikkel jy egter ʼn soort hiper-waaksaamheid. Jy raak daaraan gewoond.”

Suliman sê sy het dag en nag gewerk en gesukkel met ʼn tekort aan noodsaaklike voorraad – die afsonderingstydperk was teen dié tyd reeds ingestel en daar was agterstande met lugvragvervoer. Twee weke nadat sy begin het, het sy egter deur haar mikroskoop dooie selletjies gesien – ʼn teken dat haar virus groei.

“Ek het gesit en glimlag in daardie geïsoleerde hoëveiligheidslaboratorium met net die gesuis van die respirator in die stilte – en ek het gedink aan dít wat ek in my hande hou.”

Die lede van die span het reeds hul kundigheid met ander navorsers begin deel.

“Die siekte is baie nuut en hoewel daar op verskeie fronte vordering getoon word, is daar nog heelwat onbekendes. Nuwe dinge kom elke dag na vore en dit is hoekom dit belangrik is om soveel navorsing as moontlik te doen,” het prof. Wolfgang Preiser, hoof van die US se afdeling vir mediese virologie, gesê.

“Weens die dringendheid van die saak gebeur baie van dít wat gewoonlik agter die skerms afspeel, nou in die openbare oog. Dit kan dalk oorweldigend voel. Dit is egter ʼn wonderlike voorbeeld van hoe ons kan saamwerk om te bereik wat niemand op sy eie kan nie – en dít in ʼn tyd van groot nood.

“Dit is iets om op trots te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael 1 ·

Die mens gaan homself nog uitwis met die virusse wat in laboratoriums gekweek word.

marius ·

Die minister van gesondheid behoort die plek te besoek voor daar te veel aan madagaskar se kruie kuur spandeer word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.