Koronavirus: SA se nasionale parke bly oop

Die ingang na die Krokodilbrug-ruskamp in die Krugerwildtuin. (Foto: www.krugerpark.co.za)

SANParke het aangekondig dat al sy parke ondanks die uitbreking van Covid-19 sal oop bly, maar dat sekere ingang- en uitgangspunte by grense gesluit sal wees.

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, het gesê personeel en besoekers se gesondheid en welstand is van kardinale belang. “Dit is om hierdie rede dat ons maatreëls instel om die higiëne-protokolle te verbeter in ooreenstemming met die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).”

Hy het die versekering gegee dat die land se nasionale parke oop sal bly en dat die nodige voorsorg getref sal word om veiligheid van besoekers en personeel te verseker.

“Nasionale parke met hul wye oop ruimtes, toerismegetalle met lae digtheid, mense wat self ry en selfsorg-akkommodasie-opsies bied uitstekende geleenthede vir isolasie, rus en ontspanning.”

Volgens Mketeni kan besoekers wat egter steeds bekommerd is oor hul vakansieplanne by die nasionale parke eerder hul reise tot later uitstel.

SANParke het sy besprekingsbeleid hersien om gaste te akkommodeer en alle wysigings en versoeke om uitstel sal nie gepenaliseer word deur bykomende heffings  nie.

Weens die sluiting van die land se ingangspunte sal die grenshekke van sekere nasionale parke ook gesluit wees.

“Besoekers wat van voorneme is om ons parke deur die volgende grensposte te betree of te verlaat: Alexanderbaai naby Sendelingsdrift in die Richtersveld Nasionale Park, Tweerivieren in die Kgalagadi-oorgrenspark en die Pafuri- en Giriyondo-grensposte in die Krugerwildtuin, moet kennis neem dat daardie grenshekke gesluit sal wees vir toegang.”

Mketeni het ʼn beroep gedoen op besoekers wat met hul reisplanne voortgaan om SANParke te help om die verspreiding van die virus te beperk deur goeie higiëne en sosiale afstande te handhaaf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Scalla

My hande het meer alkohol die afgelope tyd gekry as my lewer.

Grassie

Dankie tog. Die wildtuin is een plek waar die risiko laer sal wees, veral as jy kamp en dus meeste van die tyd tussen ons mense is. Ek sien die mense sukkel vreeslik om seep met ‘n alkoholbestanddeel te kry. Ek wonder hoekom. ‘n Bottel tiermelk is mos propvol alkohol en ‘n bietjie op die hande sal help. Dit het ‘n verdere voordeel. ‘n Goeis skeut Klippies of Jakkals en Bolf sal mos daardie koronas wat reeds in jou keel of maag nes geskrop het, op hul herrie gee. Selfs die wat in jou longe vasgebyt het sal getrek raak… Lees meer »

pestilensie

Hu , gin virus gaan in die Rigtersveld oorleef nie , vir wat sluit hulle daardie hek .