Koronavirus: SA wetenskaplikes tans in China

Lin Songtian, China se ambassadeur in Suid-Afrika, aan die woord. Foto: ANA)

Suid-Afrikaanse wetenskaplikes werk tans in China om ’n entstof vir die gevreesde koronavirus te kry.

Só het Lin Songtian, China se ambassadeur in Suid-Afrika, Maandagoggend in Pretoria gesê. Hy het die media toegespreek oor die situasie in China.

Dié siekte het reeds 360 lewens geëis en 17 205 gevalle van die koronavirus is in China bevestig.

Volgens Lin is daar tot op hede geen gevalle van die virus in Suid-Afrika aangemeld nie. Verskeie Suid-Afrikaanse wetenskaplikes werk wel saam met Chinese wetenskaplikes in Wuhan in China se Hubei-provinsie aan ’n entstof. Die meeste gevalle en sterftes is hiér aangemeld.

Die ambassadeur het ook gesê dat twee Suid-Afrikaanse entrepreneurs ook tans maskers vir China vervaardig. Air China sal vandeesweek sowat 30 000 maskers na Wuhan neem, waar dit tans verpligtend is om maskers te dra.

Lin het bygevoeg dat enkele lede van sy personeel vandag teruggekeer het na die Chinese ambassade in Suid-Afrika, nadat hulle China tydens die Chinese Nuwejaar besoek het. Volgens hom was dié reisigers verplig om ná hul tuiskoms eers sewe dae tuis te bly voordat hulle kon terugkeer werk toe.

‘n Tweede hospitaal word opgerig vir pasiënte met die Koronavirus. (Chinatopix via AP)

Altesaam 475 pasiënte het ook reeds van die virus herstel en is intussen uit ’n hospitaal ontslaan.

Lin het vanoggend met groot lof van China se hantering van die viruskrisis gepraat. Chinese burgers werk volgens hom dag en nag om die virus hok te slaan.

Die meeste openbare plekke in China soos fliekteaters en gimnasiums is tans gesluit en openbare vervoer is steeds opgeskort. Mense word ook aanbeveel om tuis te bly.

Intussen het die Suid-Afrikaanse poskantoor gewaarsku dat kliënte wat items uit China per pos verwag, dié pakkies waarskynlik later sal ontvang. “Dit is as gevolg van lugrederye wat vlugte na en van China opgeskort het om die verspreiding van die koronavirus te beperk,” sê Johan Kruger, woordvoerder van die poskantoor.

‘n Vrou se bagasie word Sondag in Frankryk nagegaan nadat ‘n vlug vanaf Wuhan geland het. (Foto: Arek Rataj, AP)

Die poskantoor raai kliënte wat items na China wil pos aan om eerder te wag totdat vlugte na die Chinese hoofstad weer ingestel word. Die poskantoor verwag ook om teen dié tyd opgehoopte pos te hê wat dan voorkeur sal kry.

Volgens Lin is ʼn hospitaal wat spesialiseer in die behandeling van die koronavirus verlede maand binne tien dae in China opgerig. ’n Tweede hospitaal sal oor die drie dae operasioneel wees.

“China moet ’n duur prys betaal om teen ’n onverwagte en onbekende virus te baklei om die mense van China en die wêreld te beskerm,” het Lin gesê.

Die ambassadeur het Suid-Afrikaners in China aangemoedig om enige navrae aan die Suid-Afrikaanse ambassade in Beijing of die konsulaat in Sjanghai te rig. Die ambassade kan by +86 135 0105 9041 en die konsulaat by +86 159 0045 4282 gekontak word.

Maroela Media is egter bewus van verskeie klagtes omdat die ambassade in Beijing glo gesluit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Onnie ·

Ons regering kon nie eers die Polonie-virus beheer nie, wat nog te sê die Corona-virus!

netekalleen ·

wonder as daar wel n cure of entstof is gaan dit beskikbaar wees aan alle suid afrikaners of gaan dit weer n storie wees soos met wie werk kry tans en wie nie

Frederik ·

Ag nee, gee dit maar op vir n slegte proefneming. Hulle hou net vakansie in China, gratis!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.