Koronavirus: SA’ners gestrand in China

 

Leë rakke in China se winkels. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaners wat in China werk, is nou daar gestrand sonder inkomste en enige hulp vanaf die Suid-Afrikaanse regering, ná die uitbreking van die koronavirus in dié land die afgelope maand.

“Skole en ondernemings is gesluit en as jy nie werk nie, word jy nie betaal nie,” sê Gizelle Gowar, ʼn oud-onderwyseres van Boys High in Pretoria wat in die eilandstad Xiamen skoolhou.

Die huidige wintervakansie sou net twee weke duur, maar die skole gaan nie heropen soos beplan nie, wat beteken dat salarisse eers op die vroegste teen 19 Februarie betaal sal word.

Gizelle sê dis ʼn nagmerrie, want feitlik al die Suid-Afrikaners wat in China werk, moet geld huis toe stuur vir universiteitsfooie, mediese fondse en vir hul kinders of ander naasbestaandes wat van hulle afhanklik is.

Sy sê die winkelrakke raak ook leeg en pryse skiet daarom die hoogte in. “Vier appels kos reeds sowat R114, wat onbekostigbaar is.”

Al die Suid-Afrikaners met wie Maroela Media op sosiale media en per e-pos gesels het, wil baie graag huis toe kom, maar is vasgekeer. Hulle sê hulle kry nie veel inligting vanaf die Suid-Afrikaanse ambassade nie.

Joss Potgieter, een van die Suid-Afrikaners wat gestrand is in China. (Foto: Verskaf)

Joss Potgieter van Durban gee reeds langer as twee jaar onderwys in Wuhan, waar die meeste sterfgevalle weens die virale infeksie voorgekom het.

Sy sê ʼn groep van sowat 100 Suid-Afrikaners probeer om die ambassade in Beijing oor te haal om busse te stuur om hulle uit Wuhan te verwyder, of hulle net te laat weet wat die prosedure is om die stad en die land te verlaat. Al antwoord wat hulle tot dusver ontvang het, is ʼn nota wat sê hulle moet self regkom en aan plaaslike vereistes gehoor gee.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdag aan joernaliste in Johannesburg gesê die departement van internasionale betrekkinge (Dirco) is in verbinding met die Chinese owerhede, asook Suid-Afrikaners in China en veral diegene in Wuhan.

“Die Chinese regering meen egter dit is nie nodig om in dié stadium Suid-Afrikaners te laat verwyder nie,” sê Mkhize. Ten spyte hiervan het verskeie ander lande soos Amerika, Australië en Japan reeds begin reëlings tref om hul burgers uit China terug te bring.

“Ons kan nie eintlik besluite neem nie,” sê Potgieter. “Om eerlik te wees, ons is nou nog méér bang omdat dit lyk of Dirco nie belangstel om ons te help nie.”

Waar Potgieter woon, het die winkels nog genoeg kos in voorraad, maar die probleem is dat openbare vervoer stopgesit is. Sy sê dit kan dus moeilik wees om by ʼn winkel uit te kom.

Nadia Meintjies, een van die Suid-Afrikaners wat gestrand is in China. (Foto: Verskaf)

Dit begin ook ʼn stryd word om maskers te bekom, vertel Nadia Meintjes wat vir ʼn hotelgroep in Zhejiang werk. Sy is reeds twee jaar in China en is oorspronklik van Limpopo.

Zhejiang is ver van Wuhan af, maar die inwoners van die stad bly ook binnenshuis as voorsorgmaatreël. “Van my Chinese vriende hier is al in isolasie geplaas, so vir my is dit nie meer nommers nie, dis name en gesigte en mense vir wie ek lief is,” vertel Nadia.

Sy sê die kameraadskap onder die Suid-Afrikaners is egter ongelooflik. As iemand mismoedig voel, is daar tien ander om hulle moed in te praat op geselsgroepies.

“Om die cabin fever hok te slaan omdat ons so vasgekeer in ons woonstelle leef, stel ons elke dag ʼn uitdaging vir almal in ons groep, iets wat jy moet doen om die aandag van die probleem af te trek. Vandag bou elkeen ʼn fort met ʼn kombers.”

Die Chinese ambassade in Pretoria het Suid-Afrikaners intussen gevra om nie na Wuhan te reis nie.

Dirco het ook ʼn beroep op Suid-Afrikaners in China gedoen om die nuus oor die koronavirus dop te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Bess ·

Ag wat n klug die syfers is onmoontlik…tiendusende virustoetse is binne enkeke ure deur laboratoriums gedoen en geveeifieer om vals posiriewes uit te skakel..en onthou virustoetse is duur en neem lank per toets gaa kyk maar na enige patologielab…en dis n nuwe virus so waneer is die roetse ontwikkel…

Liewer nie ·

Daai een wat nie ‘n dronknes in ‘n brouery kan reël nie? Ja, hy is slaggereed.

Sarel ·

Lees ek reg. Die Ambasade in China het mense laat weet hulle moet self regkom maar plaaslik vertel onse Regering dat hulp verledn word. Waar is Pinokio???

Landie ·

Dis pateties dat ons land nie ‘n plan maak om ons burgers uit China uit te kry nie. Om so oorgelaat te word aan ‘n ander land se genade is nie reg nie. Hulle gaan heel 1ste omsien na hulle eie mense voordat hulle ander gaan help. Kom nou waar is die sogenaamde besluitmakers hier. Of is hulle te besig om in hulle koloniale pak en guess horlosie te sit en daai pepperduur wiskey te drink.

Linda ·

Hierdie Suid Afrikaners wat WEG GEHARDLOOP het uit ons land uit kan nie verwag dat ons Regering vir hulle moet sorg nie, hulle het families hier wat maar moet sorg, ons land is nie die welsyn nie !!

katerinadiekat ·

Dit kom voor dat dit blankes is wat gestrand is in China. Heel moontlik KON hul nie werk kry hier in Suid Afrika nie? In elk geval, hulle is veiliger waar hulle is.

Louis ·

Ek dink as dit dalk jou eie familie of vriende was, sou jy anders dink. Ek is self in Beijing op die oomblik en kan jou virseker dat ek nie weg gehardloop het nie. Ek is hier want in SA is daar nie vir my geleentheid nie.

Juanita ·

Linda Suid Afrikaners hol nie weg nie. In hierdie land is daar nie werk nie my kinders werk ook uit die land my dogter in China agv werkloosheid in die land. Sy het 2 grade en nie in onderwys nie maar kon nie werk kry nie. Die kinders in die buiteland het hulle families verlaat om n inkomste te kry en nie omdat dit pret is nie. In elk geval kom seker 90% van daai weghardloop geld terug SA toe. Ek stel voor jy kyk die werloosheid syfer in ons land en lewer dan weer komment. Dis maklik om te praat as jy nie in daai bootjie ry nie. Jy moet dalk n besigheid stig waar jy vir die kinders wat weghardloop werk kry met n behoorlike inkomste dat hul soos nou in ander lande selfonderhoudend is.

Louis ·

Ek is tans in Beijing. Meeste buitelanders hier hou maar die media dop om te kyk waar sake staan. Persoonlik sal ek die land verlaat as die demografiek van die virus jonger mense begin takel. Almal hier is maar bang en onseker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.