Koronavirus: Talle universiteite kanselleer klasse

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Talle universiteite het in die lig van die maatreëls wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het, besluit om vir eers alle kontaksessies te kanselleer.

Alle klasse en assesserings word vanaf Dinsdag 17 Maart by die Universiteit Stellenbosch (US) opgeskort. Prof. Wim de Villiers​, rektor en visekanselier van die US, het gesê die rektoraat van die universiteit het verder besluit die resestydperk tussen die eerste twee kwartale van 2020 begin môre vir studente op die Stellenbosch-kampus.

“Vir studente op die Tygerberg-kampus sal akademiese reëlings vanuit die dekaan se kantoor bekendgemaak word.”

Alle studente in US-koshuise word versoek om hul kamers te ontruim en terug te keer huis toe vir die resestydperk. “Aangesien ons besef dat sommige studente nie huis toe sal kan gaan nie, sal sommige studente in universiteitskoshuise gehuisves word.”

Graduandi wat die gekanselleerde gradeplegtighede in Maart/April sou bywoon, sal hul kwalifikasies in absentia ontvang, maar die geleentheid hê om in Desember gradeplegtighede by te woon vir die seremoniële toekenning van hul grade.

Noodsaaklike dienste sal voortgaan op US se kampus. Varsitybeker-wedstryde wat vanaand gespeel sou word, is afgestel, terwyl die inhuldiging van die kanselier op 8 April uitgestel is.

Die Skip (Universiteit van Pretoria) Foto: AfriForum Jeug

Die Universiteit van Pretoria (UP) het ook besluit om kontakklasse, gradeplegtighede, konferensies, massabyeenkomste en geleenthede – insluitend sportaktiwiteite – aan die universiteit met onmiddellike inwerkingtreding op te skort. Koshuise word ook gesluit.

Prof. Tawana Kupe, UP se visekanselier en rektor, het gesê kontakklasse, toetse en assesserings sal middel April hervat word.

Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het aangekondig dat sy reses op 17 Maart sal begin tot na die Paasnaweek. Alles koshuise word ook gesluit en gradeplegtighede is vir eers gekanselleer.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het ook alle klasse, toetse en praktiese opdragte met onmiddellike inwerkingtreding gestaak tot verdere kennisgewing. Volgens prof. Tshilidzi Marwala, UJ se visekanselier en rektor, het gesê sommige klasse sal aanlyn voortgaan.

Die universiteit het ook enige werkverwante internasionale reise tot 30 April opgeskort. Plaaslike reise sal beperk word.

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het alle klasse vir Maandag opgeskort, maar nie meer inligting bekend gemaak oor of klasse van Dinsdag af weer voortgaan nie. Wits het al verlede week sekere kontakklasse opgeskort nadat ʼn student positief vir Covid-19 getoets het.

Die Universiteit van Kaapstad (UK) het ook al sy klasse opgeskort en koshuise gesluit. Die universiteit het bevestig dat een van sy personeellede positief getoets het vir Covid-19. Die personeellid word tuis in isolasie behandel.

Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement is besig om almal wat kontak gehad het met die personeellid op te spoor. Lede van die gemeenskapsuniversiteit wat in kontak met die personeellid was is opdrag gegee om hulself vir 14 dae te isoleer.

Die universiteit het ook die inhuldigsgeleentheid vir sy kanselier en gradeplegtighede gekanselleer.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal het ook sy akademiese program opgeskort en gradeplegtighede is ook vir eers van die baan.

Die Unisa-kampus in Sunnyside. (Foto: Izelle Jacobs/Unisa)

Unisa het ook al sy gradeplegtighede opgeskort, insluitend ʼn geleentheid wat Maandagaand sou plaasvind. Unisa het om verskoning gevra vir die ongerief en gesê hy sal in ʼn latere stadium verder hieroor kommunikeer.

Klasse en bedrywighede by die Noordwes-Universiteit gaan vir eers voort. Die NWU sê in ʼn verklaring op sy webtuiste dat hy in gesprek is met die minister en die visekanseliers van ander universiteite. “Die veiligheid van ons personeel en studente bly ons prioriteit met alle besluite wat deur die universiteitbestuur geneem word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Standaarde is nou so laag dat dié studente almal sal slaag al word klasse ook vir die res van die jaar gekanselleer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.