Koronavirus: Uitslae van toetse in Namibië bekend

Foto: (AP Photo/Ahn Young-joon)

ʼn Vrou in Namibië wat vermoedelik die dodelike koronavirus onder lede gehad het, het negatief hiervoor getoets. Volgens die Namibiese minister van gesondheid, Kalumbi Shangula, het die 30-jarige vrou negatief getoets vir die virus nadat sy in die distrikshospitaal in Swakopmund opgeneem is. Die vrou het glo onlangs na en van Sydney, Australië, gereis. Sy het verlede week begin kla van hoofpyn, lopende neus en hoesbuie. Sy het egter nie koors gehad nie.

Die vrou se uitslae het die afgelope week teruggekom van die nasionale instituut vir aansteeklike siektes in Suid-Afrika.

Teen Vrydag het 630 mense wêreldwyd reeds as gevolg van die koronavirus gesterf, die meeste van hulle in Wuhan, China.

Intussen het die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal melding gemaak van twee gevalle waar pasiënte soortgelyke simptome getoon het as dié van die koronavirus. “Die een geval word deur die departement hanteer in een van sy fasiliteite, terwyl die ander in ʼn private hospitaal in Durban behandel word,” lui ʼn verklaring deur die departement. “Die departement wil dit egter onomwonde stel dat nie een van dié twee pasiënte ná 14 dae in kwarantyn positief getoets het vir die siekte nie. Daar is dus geen bevestigde gevalle van die koronavirus in KwaZulu-Natal nie,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.