Korrektiewe beampte toets positief vir Covid-19

Argieffoto

ʼn Beampte van die departement van korrektiewe dienste wat by die Oos-Londen- korrektiewe sentrum in die Oos-Kaap werk, het positief vir Covid-19 getoets.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, het gesê as deel van hul voorsorgmaatreëls is amptenare wat met die vrouebeampte in aanraking gekom het, geïdentifiseer en gevra om hulself tuis te isoleer terwyl hulle wag vir toetsing.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sal Woensdag met massatoetsing by die Oos-Londen- korrektiewe sentrum vir vroue begin.

“Voorkomingsmaatreëls sal steeds versterk word, terwyl die massatoetsing vir alle korrektiewe sentrums die departement sal help om die verspreiding van die virus te voorkom.”

Nxumalo het gesê die departement doen ʼn beroep op kalmte in hierdie tydperk. “Ons is verbind tot die welstand van oortreders en beamptes in die departement.”

Die departement het bevestig die beampte is in ʼn stabiele toestand in ʼn hospitaal en het haar ʼn vinnige herstel toegewens.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J ·

…. wie betaal vir al die duisende toetse?

….. wat gebeur as die geld opraak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.