Korrektiewe dienste soek antwoorde oor Krejcir-onderhoud

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die departement van korrektiewe dienste het ʼn dringende ondersoek van stapel gestuur om te bepaal hoe dit gebeur het dat die Tsjeggiese voortvlugtige, Radovan Krejcir, vanuit ʼn korrektiewe gevangenis ʼn telefoniese onderhoud aan ʼn radiostasie toegestaan het.

Krejcir word tans in die Leeuwkop-gevangenis in Johannesburg aangehou. Krejcir dien ʼn 35 jaar lange vonnis uit in verband met die ontvoering en marteling van Bheki Lukhele. Die voorval het gespruit uit ʼn dwelmtransaksie wat skeefgeloop het nadat Lukhele se broer, Doctor, glo met 25 kg tik verdwyn het.

Dit is onwettig vir gevangenes om selfone in die tronk te hê of onderhoude aan die media toe te staan sonder toestemming van die owerhede.

Tog is daar vanoggend ʼn eksklusiewe onderhoud op Talk Radio 702 uitgesaai waarin ʼn joernalis met Krejcir vanuit die gevangenis gesels. In die onderhoud beweer Krejcir daar is ʼn sameswering teen hom waarby ʼn toppolitikus se seun, senior polisiebeamptes en ander betrokke is. Krejcir kla ook oor die behandeling wat hy in die gevangenis ontvang en beweer hy kry nie die nodige mediese sorg vir ernstige gesondheidskwessies nie. Hy voer aan sy pleidooie word geïgnoreer en die owerhede is met opset teen hom.

In die onderhoud vertel Krejcir ook hoe hy vanaf die Zonderwater-gevangenis na die Kgosi Mampuru II-gevangenis en daarna na die Ebongweni- maksimum gevangenis buite Kokstad geskuif is “sonder enige rede”. Hy beweer nadat hy na die Leeuwkop-gevangenis oorgeplaas is, is hy aanvanklik alleen in ʼn sel toegesluit sonder dat daar vir hom ʼn rede hiervoor gegee is. Hy beweer ook dat daar onregmatig op van sy eiendom beslag gelê is en dat hy dié items nooit weer teruggekry het nie.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê ʼn spesiale ondersoekspan is aangestel om die onderhoud, wat hy as ʼn “ernstige oortreding” bestempel, te ondersoek.

“Die ondersoekspan het 24 uur om die ondersoek te doen en terugvoer aan die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste te gee. Die departement het voorts ʼn ervare senior bestuurder ontplooi om toesig te hou oor die bedrywighede by Leeuwkop-gevangenis tot verdere kennisgewing.”

Volgens Nxumalo beskou die departement die saak in ʼn baie ernstige lig aangesien dit die departement se mandaat vir die veilige en doeltreffende aanhouding van gevangenes in menslike omstandighede ondermyn. “Omsigtigheid moet aan die dag gelê word deur die media wanneer hulle deur onwettige kanale met gevangenes kontak maak, aangesien dit ʼn ongekende risiko vir die gemeenskap, ons beamptes en ʼn selfs nog groter risiko vir die slagoffers van misdaad kan inhou,” het hy gesê.

“Korrektiewe dienste is baie ongelukkig met hierdie gebeure en diegene wat Radovan Krejcir hierin bygestaan het, sal geen genade betoon word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Onwettige onderhoud, so daar sal seker nie ondersoek ingestel word na die man se griewe nie?

Casper Labuschagne ·

Presies net soos haas enige soort dwelms, bottels whiskey, pornografiese DVD’s, tablet- en skootrekenaars en selfs wapens in die tronk inkom. En dit is ook omtrent die enigste manier om die streng sekuriteit te omseil – korrupte bewaarders.

Mamma ·

Aitsa, wens ook ons in SA sit in die posisie om vingers te klap sodat die moordsake op ons plaas boere, ens ons geliefdes wat vermoor word op die paai deur roekelose trokdrywers binne 24 uur opgelos kan word.

Liewe Nxumalo prioritiseer ASB ons sake sodat ons ook justice kan kry vir ons geliefdes. Moenie te veel worry oor al die tronkvoëls wat alreeds agter tralies sit & hoe hul met die buite wêreld kommunikeer nie…

Speedguard ·

Die ou spreukwoord, “Talk is cheap MONEY buys the Whiskey” Geld wat stom is maak reguit waar krom is ! Daar is meer dwelms en geld in die tronke as buite !

Spreeu ·

Dis ou nuus dat enigeen n selfoon kan bekom. Selfs die ouers word presies vertel hoe om dit in te smokkel. En die wat buite is op hoogte kan hou oor als wat daar aangaan. In die tronk kry jy als…netnie die sleutel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.