Korrupsie: 17 arrestasies met nog op pad

Shamila Batohi, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Nog baie inhegtenisnemings vir korrupsie is op pad, het die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag en nasionale direkteur van openbare vervolgings, Woensdagoggend in die parlement belowe.

Adv. Shamila Batohi se uitlatings is ʼn verdere aanduiding dat die vervaardigers van oranje oorpakke dalk net ’n toename in aanvraag op hande het.

Die inhegtenisnemings die afgelope week of so staan op minstens 17. Daarvan staan sewe in verband met die berugte asbesskandaal tydens die bewind van die huidige sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, as premier van die Vrystaat.

Voorts is die voormalige senior ANC-LP Vincent Smith en die voormalige Bosasa-ringkop Angelo Agrizzi hierdie week in hegtenis geneem. Die res van die sewentien word betrek by skandale in KwaZulu-Natal, en sluit die voormalige provinsiale polisiekommissaris Mmamonnye Ngobeni en verskeie Durbanse tenderpreneur-magnate met sterk ANC-bande, soos Thoshan Panday, in.

In ’n verdere verwikkeling is die eerste persoon wat met die skandaal by die VBS-bank verbind word, tronkstraf opgelê en het die lang arm van die gereg begin toeslaan op die korrupte Mogalakwena-munisipaliteit in Mokopane (eens Potgietersrus).

Batohi het gesê die Nasionale Vervolgingsgesag het saam met ander wetstoepassingsinstansies soos die Valke die 87 belangrikste korrupsiesake geïdentifiseer en fokus nou daarop om die skuldiges te vervolg.

In idiomatiese taal wat twee van Suid-Afrika se gunstelingdiere betrek, het sy oor korrupsie gesê dat die inhegtenisnemings tot dusver bloot die oortjies van die seekoei is, en dat die enigste manier om die korrupsie-olifant te takel, happie vir happie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Hoekom is ACE nog nie gearresteer nie

JohanR

Agh Shamila man ons soek die GROOT visse. Ons wil he jy moet in die parliament in loop met die Hawks en ‘n paar van daai ANC minsters en EFF gemors boei, en voor die wereld se kameras daar uitlei. En daar krul my groot toon van die genot!

Persheks Adri

Ek stem Johan R! Ons soek daai klomp in die parlement kom kom ons wag vir die oranje pakkies! Baie vinniger as dit asb

Danie

Wie het tender vir oranje oorpakke gekry?

Dries

Wanneer? Sekerlik voor die oordeelsdag, hoop ek.