Korrupsie by lisensiekantoor ontbloot

(Foto: RTMC)

Die Openbare Beskermer (OB) ondersoek nou klagtes van korrupsie by die Waltloo-lisensiekantoor in Tshwane nadat bewyse hiervan vandeesweek gelewer is.

Dit volg nadat die burgerregteorganisasie AfriForum ʼn nuwe dokumentêr bekendgestel het oor die verdagte optrede deur beamptes by dié lisensiekantoor.

Die dokumentêr stel ook die algehele wanfunksionering van die NaTis-stelsel ten toon.

Vir die meeste motoriste is dit byna onmoontlik om ʼn afspraak op die NaTis-stelsel vas te maak. Nou word mense genoop om deur derdeparty-diensverskaffers ʼn afspraak te maak of deur middel van omkopery te verseker dat die nodige administratiewe take verrig word, sê AfriForum.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê dit is duidelik dat derde partye in samewerking met korrupte personeel by die kantoor die funksionering van die lisensiestelsel kaap.

Die beeldmateriaal wys hoe kontant openlik by die Waltloo-lisensiekantoor vir versnelde lisensiedienste verruil word. Dié onwettige bedrywighede word boonop glo deur werknemers binne die lisensiekantoor self voortgesit.

AfriForum het in September verlede jaar ʼn formele klag by die kantoor van die OB ingedien, waarin versoek is dat ʼn ondersoek na wanadministrasie en korrupsie by die departement van vervoer ingestel word.

Die OB het bevestig dat die klagtes ondersoek word en die beeldmateriaal is as verdere bewys teen die beweerde wederregtelike praktyke ingedien.

“Die beeldmateriaal lê die probleem van korrupsie en wanadministrasie by die departement en lisensiekantore bloot. In hierdie konteks word dit toenemend moeiliker vir wetsgehoorsame lede van die publiek om die departement se reëls na te kom,” sê hy.

“Die departement is dit aan lede van die publiek verskuldig om te verseker dat lisensiestelsels na wense funksioneer en dat fisieke én aanlyn infrastruktuur in stand gehou word.

“AfriForum se dokumentêr dien as nog ʼn bewys van die departement se stelselmatige ineenstorting op alle terreine. Die ellendige toestand waarin die departement hom bevind, is ʼn nasionale verleentheid op ʼn skaal wat net die ANC kan vermag.”

Volgens Duvenage sal AfriForum voortgaan om volgehoue druk op die departement uit te oefen om sy plig van behoorlike dienslewering aan mense na te kom.

  • Kyk die dokumentêr hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Our people hart aan die werk.
VIVA BEE en ANC!!!

Jr

Hou nooit op nie en sal nooit ophou nie. Our peepple just can’t help themselves can they?

QueenB

Dit sal so gaan dienste is stadig en gaan jy vir uitpassering moet jy eers so vier keer druip voor jy jou lisensie kry dus belaglik

Blikkies

Die PAP VROT ANC sal nooit ooit die korrupsie kan stop nie. Want hulle skep die geleenthede self.

Papsak

Skelm hulle maak geld uit jou uit ek jy moet eers so vier vyf gaan dan kry jy hom miskien