Korrupsie dalk rede vir aanval op Fort Hare-visekanselier – DA

Prof. Sakhela Buhlungu, visekanselier van Fort Hare-universiteit (Foto: Fort Hare University),

Die moord op Mboneli Vesele, amptelike lyfwag van prof. Sakhela Buhlungu, die visekanselier van Fort Hare-universiteit in die Oos-Kaap, is nie ʼn geïsoleerde geval nie en het alarms laat afgaan oor die vlakke van geïnstitusionaliseerde korrupsie by die universiteit.

Só het Chantel King, die DA se woordvoerder vir hoër onderwys, gesê.

Volgens King kan Vesele se moord verbind word met die moord op die universiteit se vervoer-en-vlootbestuurder, Petrus Roets, wat in Mei verlede jaar doodgeskiet is op pad van die werk af huis toe.

Vesele is Vrydagaand buite Buhlungu se huis in Alice in die Oos-Kaap doodgeskiet.

Die Universiteit van Fort Hare. (Argieffoto: SA Gov News/Twitter)

Volgens King is die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) einde verlede jaar aangestel om bewerings van korrupsie en wanadministrasie met verskeie kontrakte en die onreëlmatige toekenning van honneursgrade by die universiteit te ondersoek.

“Dit bring die integriteit van die aansoek- en inskrywingsprosesse in twyfel, wat die beeld van die universiteit se akademiese vordering in gedrang bring,” sê King.

Die ondersoek is uitgebrei na vier tenderkontrakte wat verband hou met skoonmaak, studenteverblyf en die aanstelling van diensverskaffers, sê King.

“Hierdie ondersoeke het ʼn 11 jaar tydperk van 1 November 2012 tot 5 Augustus 2022 gedek. Dit is ʼn duidelike aanduiding van ʼn gebrek aan omsigtigheid met monitering, rekordhouding, tenderprosesse en algehele goeie bestuur by die instelling oor ʼn lang tydperk.”

Die DA verwelkom Bhulungu se poging om van korrupsie deur ʼn korrupte sindikaat van akademici, amptenare en besighede by die universiteit ontslae te raak, en sy aanbeveling van die hersiening van tenderprosesse en die rigiede keuring van ondernemings wat vir hierdie tenders aansoek doen.

Die party vra dat dringende maatreëls ingestel moet word om fluitjieblasers teen intimidasie te beskerm.

“Die DA vra vir ʼn spoedige afhandeling van die ondersoekverslag wat aanbevelings van kriminele aanklagte moet insluit waar nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Althes ·

Ek bid dat die Vader ons sal verlos van hierdie mislukte regering waar misdaad, geweld, korrupsie en werkloosheid soos onkruidkanker hierdie pragtige land versmoor.

Philip ·

Bid gaan ongelukkig niks help nie, daar is destyds ook gebid vir leiding en insig toe alles oorgegee is aan die ANC en wat het daardie gebede beteken?

Johanna ·

Daar loop te veel mense rond met fake grade daarom is die land in sy glorie.

Papsak ·

Ek sten baie mense loop rond met fake papiere daarom lyk land so

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.