Korrupsie dra by tot Noord-Kaapse droogtekrisis

Blouwildebeeste wat gevrek het as gevolg van die droogte. Foto: Chris van Beljon.

Dis nie net diere wat nie kos hier in die Noord-Kaap het nie, maar die mense op die plase ook.

Só sê Chris van Beljon, stigter van Boere Droogtehulp SA. “Omtrent 80% van die plase hier het al hul werkers afgelê omdat hulle nie meer die werkers kan bekostig nie. Kinders word uit skole gehaal omdat die koste nie meer gedek kan word nie. Sowat 100 boere het al vanjaar selfmoord gepleeg weens die droogte.”

Hy sê buiten die droogtehulp wat sy organisasie en ander soortgelyke organisasies aan die boere bied, kry hulle geen ondersteuning van die owerhede nie. “Die regering sleep sy voete en verklaar nie die Noord-Kaap tot rampgebied nie. As hy dit sou doen, sou finansiering beskikbaar gestel kon word vir die saak,” sê hy.

Hy beweer dat die vorige jaar se hulpfonds deur regeringsamptenare gesteel is.

Willie Aucamp, ʼn parlementslid en Demokratiese Alliansie-raadslid vir die Noord-Kaap, verduidelik dat dié party in Julie al versoeke gerig het tot Zamani Saul, die Noord-Kaapse premier, om die gebied tot rampgebied te verklaar. “Ons het ook al verdere druk toegepas met ʼn landwye petisie om die bal aan die rol te kry.”

Aucamp beweer dat wanbesteding, korrupsie en geld wat “sommer net wegraak” ʼn groot bydraende faktor is tot die voortslepende laksheid van die staat. “Om die Noord-Kaap tot rampgebied te verklaar, moet dit in die staatskoerant gepubliseer word vir kommentaar en kapsie. Alvorens dít kan gebeur, moet ʼn oudit oor die vorige jare se finansiering vir droogtehulp uitgevoer word, en dit is waar die probleem lê.”

Andrew Louw, die DA se premierskandidaat vir die Noord-Kaap, gaan volgende week weer met Saul praat om die plaaslike regering verder tot optrede aan te spoor en hul huis in orde te kry.

Intussen het die DA ʼn verslag saamgestel wat toon indien die streek nie bogemiddelde reënval in die komende somerreënvaltydperk ontvang nie, sal een miljoen grootvee soos beeste (“nie skape of wild nie”) verlore gaan. “As jy dit in randwaarde omskakel, is dit oor die R10 miljard wat die boere in die Noord-Kaap verloor.”

Verder het die verslag gewys dat sowat 62 000 mense hul werk kwyt is weens dié droogte. “Elke werknemer onderhou argumentsonthalwe vier mense, wat beteken dat ʼn kwart miljoen mense nie meer geld en kos gaan hê nie. Dit sluit die waardeketting in. Dis werklik astronomies,” sê Aucamp.

Hy vertel dat hy verlede week op ʼn feitesending deur die Noord-Kaap getoer het en in verskeie dorpe stilgehou het, onder meer Calvinia, Kenhardt, Upington, Kimberley en Victoria-Wes.

Skape wat reeds gevrek het as gevolg van die droogte. Foto: Chris van Beljon.

“Geskok is nie die woord nie, jy staan verslae daar en skape vrek op ʼn streep. Ons het ʼn boer op Kenhardt ontmoet wat 14 000 ha probeer onderhou. Hy het net 200 skape oor. Hy het tans nie eens geld om vir sy bakkie bande te koop sodat hy kan ry om die gevrekte skape se karkasse op te tel nie. Mense verstaan nie die pyn en hartseer waardeur die mense hier gaan nie,” sê Aucamp.

Hy vertel verder dat ʼn gemeenskapslid, Marianne van Niekerk, intussen ʼn “briljante voorstel” gemaak het dat die treintrokke wat tussen Saldanha en Sishen na die Kumba-ysterertsmyn loop, deur die regering ingespan word om verdere hulp aan die sukkelende boere te verleen. “Tans is een van die grootste uitgawes van verskeie droogtehulp-organisasies nie produkte wat hulle aanry nie, maar die vervoer self. Derduisende rande word bestee aan diesel en dies meer.”

Die DA beraam dus tans planne om met die direkteure van die Kumba-myn, wat aan Anglo American behoort, te vergader om die logistieke sy van só ʼn plan in werking te laat tree. Die treinwaens, wat ystererts tussen die myn en die hawe in Saldanha vervoer, keer leeg terug na die myn nadat die vrag in die Wes-Kaap afgelaai is.

“Ons kan die waens, wat ʼn 5 km lange ketting vorm en vier tot vyf trokvragte in een wa kan pas, gebruik om mieliereste, koringreste en voerbale wat beskikbaar is na die gebiede te vervoer.”

Die versoek om die plan te bespreek sal volgende week gerig word.

Suid-Afrika stuur op ʼn ramp af

Van Beljon glo dat Suid-Afrikaners volgende jaar baie duurder vir skaapvleis gaan betaal. “Die enigste rede hoekom vleis tans so goedkoop is, is omdat die boere noodgedwonge ontslae moes raak van hul vee en in groot maat moes verkoop. Ons gaan dalk volgende jaar R1 000 vir ʼn skaaptjoppie betaal,” sê hy.

Hy skat oor die sewe jaar dat die droogte al in Suid-Afrika woed, het boere hul veegetalle reeds uitgedun van ʼn gemiddelde 5 000 skape per boer tot omtrent 200 stuk.

In 1980 het Suid-Afrika 117 000 plase gehad. Vandag staan die syfer op net meer as 26 000, sê Van Beljon. Hy glo dat daar binne die volgende vier jaar nog 12 000 plase verlore sal gaan.

“Ons is op ʼn afdraande en dit raak net erger. Daar is nie meer vleis oor nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

susan ·

Net vanoggend gelees van persoon wat sê daar word ophef gemaak van boere wat droogte het maar nie wanneer hy sy werk verloor nie?? Nog altyd het niemand die omvang van boerdery besef nie. Jy is oorgelewer. Baie baie mense verloor hul werk. boerdery is nie ‘n 8 tot 5 werk nie. 7 dae week vir ten minste 18 ure per dag dan kry jy nie bv. ‘n dokter se salaris nie.

humor ·

Wonder hoe vergely die regeing se korrupsievlakke met die ander Afrikalande se verval. EK dink dit oortref seker alle rekords. Daar is nie n enkele sektor waarin hierdie regering slaag nie. SaLhierdie regering tog nie maar so ver kom om te besef hulle het net nie die vermoe om die land te regeer nie en boedel opgee nie.

JJ ·

Droogtehulp is n klug.Mese wat gras in saad staan kry hulp net omdat hul aan
boerevereniging behoort en ry nuwe bakkies.As jy nie aan n boerevereniging behoort nie kry jy nie hulp nie.Fotos word in water krale geneem om te wys hoe kaal dit is.Daar is regtig mense wat dit nodig het.Help hulle.My hart bloei vir hulle.Ons net nie ophou bid nie daar sal weer reën kom

Karolis ·

JJ, jy is heeltemal reg. Van die rykste boere staan eerste in die tou om aalmoese te ontvang. Die wat rêrig swaar kry kan nie eers by die tou uitkom nie.
Die droogtehulp storie blyk deels in ‘n selfverrykings onderneming te verander het.

Sonja ·

Diere sterf hulle leiding is mens gemaak. Ek weet boerdery is nie n 8 tot 5 werk nie dit is ook nie maklik ni.
Suid Afrika bid asb vir die voedings aar van ons land.

Stiks ·

Dit wys jou net van watter stofasie hierdie Anc regering aanmekaar gesit is

Steenkamp ·

Vir meer as 5 jaar kry mens en dier bitter swaar, maar steeds glo sommiges dat gebede verhoor gaan word. So hartseer!

O gaats! ·

Hier by ons is daar boere elke aand in die bar en dan spog hulle oor die performance van hul viervreter viertrek voertuie en net ander dag het n boer sy werker se vrou met pasgebore baba agterop oop bakkie by hospitaak gelaai eers dop gou gaan slaan by bar met vrou en baba agterop in die warm son en toe soos renjaer al vloekend plaas toe gejaag! Ja ons wil dit gerieflikheidshalwe nie hoor of sien maar dis mos die ANC se skuld God behoede ons antwoord sal ons eendag MOET gee!

Lood Kurkprop ·

.
.en niemand vra hoekom die vliegtuie elke saterdag en sondag tussen 11am en 3pm chemtrails spuit oor die landbou gebiede nie…die bietjie wolke wat daar is val uitmekaar soos n bol watte wat uitmekaar getrek word…en die wind kom op en wasi die vog eenvoudig weg…
..
.

Anna ·

JJ en KAROLIS doen julself n guns en gaan op BOERE DROOGTEHULP SA se fb. Dan se julle nog of Chris hulle n klug is.

Johann ·

Agenda 21. Ons word n kommunistiese Staat. Dit is so. Dit is die agenda wat die ANC MOET dryf. Hulle het geen keuse nie. Almal gaan hulle grond verloor. Besef dit. Besef dit. Besef dit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.