‘Korrupsie in ANC soos ʼn kanker’

Mmusi Maimane. Foto: DA

Mmusi Maimane. Foto: DA

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Dinsdag behoorlik onder pres. Jacob Zuma en die ANC ingevaar.

Maimane het gesê wanneer LP’s tot hul posisies verkies word, lê hulle ʼn eed af waarin hulle beloof om die grondwet te handhaaf. “Die grondwet stel dit duidelik dat indien die president die grondwet minag hy verwyder kan word. Dit is om dié rede julle plig om ten gunste daarvan te stem.”

Maimane het ANC-LP’s daarvan beskuldig dat hulle nie die oppergesag van die reg respekteer nie en dat hy en sy mede-LP’s dus weet dat ANC-LP’s nie ten gunste sal wees van die mosie om Zuma in ʼn staat van beskuldiging te plaas nie.

“Die grondwethof se uitspraak moes genoeg gewees het om Zuma se lot te bepaal. Wanneer die hoogste hof in die land beslis dat die man, in die hoogste amp van die land, die grondwet geminag het, moes dit die einde gewees het,” het Maimane gesê.

Volgens Maimane het Suid-Afrikaners Zuma se “leë verskoning” met “minagting van die hand gewys”. “Die woede in ons land is vandag steeds tasbaar. Die mense in die land hou nie daarvan om vir die gek gehou te word nie. Dit is wat Zuma en [ANC-sekretaris-generaal Gwede] Mantashe Vrydagaand gedoen het. Hulle het gesê dis als net ʼn misverstand, dat Zuma swak geadviseer is, dat hy altyd sou voldoen en dat dit nie ʼn belangrike kwessie is nie.”

Maimane het gesê dit is wel ʼn belangrike kwessie. “Dit is ʼn belangrike kwessie wanneer die president R246 miljoen van openbare fondse gebruik op sy private woning; dit is ʼn belangrike kwessie wanneer hy ontken dit is openbare fondse; dit is ʼn belangrike kwessie wanneer hy sê dit was net vir veiligheidsopgraderings; dit is ʼn belangrike kwessie wanneer hy sê gaan niks terugbetaal nie; dit is ʼn belangrike kwessie wanneer hy ministers versoek om met flou verskonings vorendag te kom soos dat [die swembad] ʼn vuurpoel is.”

Maimane het gesê vandag is ʼn geskiedkundige dag. “Almal sal vandag sien die ANC het sy rigting verloor en dat daar geen manier is om dit weer te vind nie. Korrupsie is nie net tot een persoon in die ANC beperk nie. Dit is in die hele party soos ʼn kanker terwyl die fokus op een groot en kwaadaardige gewas is.”

Volgens Maimane sal die ANC vandag “vir Jacob Zuma kies” en is dit in die kiesers se hande om ʼn ander besluit te neem. “En glo my, hulle sal stem vir verandering.”

Verteenwoordigers van onder andere die EFF, IVP, NFP, UDM, VF Plus, Cope, ACDP, ANC, Agang en die PA sal nou die Nasionale Vergadering toespreek voor daar oor die mosie gestem word.

Volg die Zuma-mosie regstreeks hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

humor ·

Vryheids Front skrik wakker al die ander klein partytjies is onmiddellik by hierdie belangrike kwessie teenwoordig. Ons, jul ondersteuners wag op julle. ONS VERWAG MEER VAN JULLE!!!!!

david ras ·

Die VF+ WAS teenwoordig ! Dr Pieter Mulder het ook gepraat !! ongelukkig is die parlement so ongebalanseerd dat die spreek tyd vir ‘n lid bepaal word deur die grootte van die party. Maimane het van die opposisie die LANGSTE spreektyd gekry, en kon toe lekker praat !

Al die kleiner partye kry net 2 minute om te praat–wat kan mens nou werklik se in 2 minute?
Maimane se toespraak het my laat wonder—hy het in byna gewyde taal verwys na die “struggle leiers” soos Mandela. Kathrada en andere ……waar staan die man in werklikheid ?
‘n Closet ANC ?

dirk ·

Mmusi Maimane het twee meestersgrade – een in Teologie. .Nog redelik jonk maar met sy hart op die regte plek. Hy het waagmoed en integriteit. Ek hou van die ordentlike manier waarop hy dinge aanpak en deurvoer. Ek gaan beslis vir hom stem

Rosa ·

Ek ook!! Stem al lankal DA. Ek bly in DA country en is BAIE gelukkig, hier werk die DA vir ons almal. Wens dit kan oral so wees. Strate word gevee, sypaadjies word skoon gemaak, vriendelike mense wat jou help by die Stad Kaapstad. Mmusi moet net so aanhou, hy en die DA gee vir baie mense hoop. Hulle kry my stem.

CHRISTO ·

Ek wil net weet wanneer het dieDA iets vir die Afrikaner {blanke} gedoen of vir ons kant gekies.Hulle het wel straatname verander na ‘struggel’ name .Dit gaan by die DA net om stemme en die blanke se belange sal nie gedien word nie .Dit is die blankes se plig om vir persone te stem wat vir die blankes sal werk en ons belange behartig dus VF +

Els ·

Ek is hoopvol ek sien ‘n ANC wat te trosts en korrup is vir om te draai en hulle gaan hulle self vernietig.

Hannelie ·

Dankie Mmusi. Jy sal ‘n baie beter President maak, as die een wat ons nou het. EK stem in elk geval DA.

Elize ·

En so het almal al klaar vergeet wat hy net nou die dag van ons gesê het. Mense word tog so maklik omgehaal met politieke praatjies, dis hoekom ons is waar ons is vandag.

HeyZul ·

Mooi so Mmusi, dankie dat jy vir al die mense in die land baklei, maak nie saak watse kleur hulle is nie. Dit help niemand om te stem vir ‘n klein party wat net na een kleur wil omkyk nie. Ons almal (wit, swart, bruin) is deel van hierdie land en almal verdien dieselfde regte. As almal net een party wil kies wat regtig teen die ANC kan staan (soos die DA) kan ons dalk ontslae raak van Zuma.

pop ·

David Ras, in 2 min kon daar ook gese gewees het dat die hele ANC n kanker is wat almal een groot gewas aanhang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.