‘Korrupsie in SAPD endemies’

mike-bolhuis-kykNet-verskaf

Mike Bolhuis. Foto: kykNET

Die private speurder Mike Bolhuis wat deesdae ook sy eie televisiereeks op kykNET het, sê oneerlike optrede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is alombekend, wydverspreid en het ʼn algemene ding geword wat daagliks plaasvind.

Hy eis nou dat die diens se top-struktuur begin om drastiese stappe teen korrupte lede te doen. “Korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens is endemies.”

Bolhuis beweer dis veral die SAPD13-store van die polisie wat deurloop en leeg gesteel word. Bewysstukke wat later voor die hof moet kom word in verskeie polisiestore landswyd bewaar en word in ʼn amptelike register by elke stoor aangeteken. Slegs ʼn gemagtigde lid van die polisie mag bewysstukke in en uitteken, maar dís glo waar die korrupsie begin.

Verskeie sake het die afgelope tyd onder Bolhuis en sy span se aandag gekom en die een geval wil meer opportunisties as die ander wees. Die register waarin bewysstukke opgeteken is, word byvoorbeeld gemanipuleer om die werklike inhoud van die stoor te verbloem. Duplikaatsleutels word dan gemaak om toegang te verkry en selfs yskaste en televisiestelle het al so uit die polisiestore verdwyn.

Erger nog is die uitleen van wapens wat reeds in misdade gebruik is of vrywillig deur die lede van die publiek vir veilige bewaring ingehandig is. Bolhuis sê hy het bewyse dat so min as R500 vir ʼn 9mm-pistool en R2 000 vir ʼn outomatiese wapen betaal word wat deur korrupte polisiebeamptes vir ʼn uur of wat aan misdadigers verhuur word.

Wanneer daar op ʼn misdaadtoneel dalk op so ʼn wapen beslag gelê word moet die verbaasde oorspronklike eienaar verduidelik hoe sy geregistreerde wapen in die hande van ʼn misdadiger beland het.

Bolhuis sê hy is ook bewus van ʼn geval waarin kokaïen wat gestoor is met babapoeier vervang is. Die ware dwelm is verkoop lank voor die saak in die hof gekom het.

(Foto: SAPD)

Beëdigde verklarings word ook deur korrupte speurders uit dossiere verwyder en met valse afskrifte vervang wat so swak is dat die saak deur die hof uitgegooi word. Terug by die speurder word die oorspronklike verklaring weer in die dossier geplaas voor die saak afgesluit word. Die korrekte verklaring is dus beskikbaar indien iemand die uitspraak later bevraagteken.

Corruption Watch het vroeër berig dat daar kommerwekkende vlakke van oortredings in die SAPD is. Omkopery, magsmisbruik en pligversuim is hoog op die lys van klagtes wat in die laaste ses jaar deur lede van die publiek ingedien is. Vroue is die kwesbaarste en sake waarin vroue deur polisiemanne misbruik is, het ook gereeld voorgekom.

Speurders en ondersoekbeamptes is dikwels betrokke by die aanvaar van omkoopgeld en die misbruik van hul posisies. Gevalle waar polisiebeamptes met kriminele saamwerk was ook onder die oortredings wat deur sowat 1 400 lede van die publiek met die waghond teen korrupsie gedeel het.

Corruption Watch sê die hoë vlakke van korrupsie in die polisie sal aanhou sweer totdat daar op hoë vlak die wil is om teen oortreders in eie geledere op te tree.

Bolhuis stem saam en sê die top-bestuur doen weinig om korrupsie te beëindig, te voorkom of selfs te ondersoek, hoewel dit wyd bekend en diepgewortel is. “Selfs senior offisiere is betrokke en dit gaan uiters moeilik wees om dit om te keer. Dis ʼn klug, want aan die ander kant word daar gereeld vals klagtes teen onskuldige lede gelê om hulle uit die pad uit te kry.”

Verwysend na die kommissies van ondersoek wat tans aan die gang is sê Bolhuis hy is woedend dat wetstoepassing steeds nie plaasvind nie. “Dit het tyd geword dat aksie geneem word om Suid-Afrika die vooruitstrewende land te maak wat dit moet wees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Wielspore ·

Hierdie tendens is glad nie nuut onder die SAP, ek verwys na ‘n SAP speurder, die enigste een vir ‘n klein Vrystaatse dorpie in die middel 1970’s. Word skuldig bevind aan onwettige wapen handel en diamant smokkelary, hy tree vroeg af, geen tronkstraf, opgeskorte vonnis.
Na sy “aftrede” het ‘n luukse huis gekoop en in weelde geleef tot sy afsterwe.

ne ·

Mooi so Bolhuis. Wat kan ons doen om die laaste paragraaf te laat waar word?

Leon ·

Vuurwapens wat ingehandig word vir vernietiging beland in die verkeerde hande. Jaggewere vind hulle pad na top offisiere en die gee dit weer vir wildstropers. ‘n Oorlede persoon wat renoster stropers gejaag het, het al jaggewere by stropers gekry wat ingegee was vir vernietiging wat sy pad gekry het deur ‘n hoëe polisie offisier na die stroper.
Ek weet van ‘n boer wat sy vuurwapens moed ingee vir vernietiging want die SAPD wou nie lisensies uitreik daarvoor nie. Hy het die bewyse dit is ingehandig. Hy het dit twee weke later by ‘n onwettige wapen handelaar lans die pad teruggekoop vir ‘n appel en ‘n ei. Hy reken dit was ‘n winskoop aangesien hy een kartonnetjie met patrone vir elke wapen ingehandig het en toe sommer kon ‘n kas ammunisie koop vir die wapens, ook teen ‘n appel en ‘n ei.
Dit is die SAPD wat ons moet beskarm. Die korrupsie begin heel bo.
‘n Vorige MD van my maatskappy (Hy was ‘n prokureer) het eendag gesê “‘n Vis vrek van sy kop af”. Pas baie goed by Suid Afrika.

Hanna Hoekom ·

SAPS is mos nou ten volle transformeer, dan nie? Het enige iemand iets beter (of selfs bruikbaar) verwag? I rest my case.

George in Bloem ·

‘n Klient van my is ‘n hele ruk gelede aangeval en daar is gepoog om hom en sy maatskappy te beroof. Daar is ook op hom geskiet. Hy en van sy werkers het teruggeveg en die drie aanvallers se pistool afgeneem en hom en sy twee maats flenters gefoeter. Dit het na die tyd uitgekom,en die saak gaan nog steeds aan,dat die voertuig en die wapen gebruik in die roof by ‘n tjommie in die SAP geleen is. Die perd wat die leen werk gedoen het is nou nog nie ge-arresteer nie en in teendeel hy werk steeds by die betrokke polisiestasie.Verder is my klient en sy manne wat hom gehelp het aangekla van ernstige aanranding. Dis nie net die SAP wat vrot en korrup is nie maar ons regstelsel is ook deesdae een groot grap. En die hardwerkende belastingbetaler is deur hierdie ANC regering as voelvry verklaar en loop met ‘n bullseye op die rug rond,veral as hy behoort aan ‘n minderheidsgroep. Kyk ook die geval waar lede van die Bayswater polisiestasie ‘n sluipmoord uitgevoer het op die besturende direkteur van die Medi-Clinic hospitaal in Bloemfontein en daai saak draai al maande want dit word gekortwiek om elke hoek en draai. Die man het blykbaar geweier om verder oomkoopgeld aan hoogeplaasdes te betaal om die hospitaal se lisensie te hernu. Of so lyk dit. Hopelik sal die waarheid in die hof uitkom. Dit raak nag in hierdie piesangrepubliek.

Gert van Wierdapark ·

Ek haal my hoed af vir Mike Bolhuis! Hy is nie bang om die waarheid te praat nie, maar die Skelms en veral die korrupte polisie-lede gaan hom wil bykom!!! SA is beslis die beste voorbeeld van die verval en plundering wat onder ons Kakistokrasie plaasvind!!! “Say No More”!

Jacques ·

Die korrupsie in SAPS veroorsaak dat die alledaagse mense opstraat geen vertroue het in die stelsel en SAPS nie . Dit het dan die gevolg dat mense self die reg in eie hande neem .
Dit is ook nie net SAPS nie , maar ook die eens werkende SANW . Dit is baie kommerwekend want by altwee organisasies is daar wapens betrokke . Begin bo en maak skoon , vervolg diegene wat oortree en maak voorbeelde van hulle . Dit is al wat gaan werk op die ou einde .

Magdalena ·

Saluut vir jou Mike Bolhuis!!!
Ek maak staat op jou om hierdie ongeruimdhede aan die kaak te stel…….
“Long time overdue”

Johan ·

Ek is nie ‘n man wat vloek nie. Maar nadat ek hierdie berig gelees het, het ek erg geswets.

marous ·

Dit weet ons al jare , maar daar is steeds die wat se daar word veralgemeen .

Anton ·

POLICE WORK AND IDENTITY a South African Ethnography by Andrew Faull – 2018: Routledge .

“By focusing on police officers, this book positions the individual in primacy over the organisation, asking what policing looks like when motivated by the persuit of ontological security in precarious context. It acknowledges but downplays the importance of police culture in determining officers’ attitudes and behaviour, and reminds readers that most officers’ lives are entangled in, and shaped by, a range of social, political, and cultural forces. It suggests that a job in the South African Police Service (SAPS) is primary just a job. Most officers join the organisatuon after other dreams have slipped beyond reach, their presence in the Service being almost accidental.”

Chris Ws ·

Ek het dit al vir baie mense gese en se dit weer : die polisie is NIE jou vriend nie!Loop BAIE lig vir hulle in alle omstandighede.Die eerlike en opregte polisieman is feitlik so skaars soos hoendertande.Ek se feitlik want daar IS ‘n klein groepie van hulle ooral vesprei in die land maar ongelukkig moet hulle baie maal stil bly om hul werk te behou.

Melanie ·

En wetsgehoorsame mense was oorreed om hulle vuurwapens by hulle naaste polisiekantoor in te handig vir “veilige bewaring”. En hulle het dit toe gedoen. Regtig!?

Moedeloos ·

Die top-bestuur kan nie en sal nie die korrupsie uitfaseer nie want dan moet hul by hulself begin…

lv ·

Mike,volgens jou het jy die bewyse,doen dan die regte ding en meld dit aan om behoorlik ondersoek te word,daar is nog strukture in plek om dit te ondersoek.Om op die kantlyn te staan en raas en blaas help niks nie.

Iris ·

My man is self in die polisie en geensins korrup nie. Hy probeer dit self stop en het baie bewyse

Rita ·

Hoe kan ons vréde maak met korrupsie? Ons kan tog nie aanvaar dit gaan vir altyd so wees en daarmee basta nie? Ons moet met ons laaste kragte baklei teen hierdie sort van ding!

sweis ·

Ek sê gereeld die meerderheid polisie is korrup en niks beter as kriminele in uniform nie.

Sarel ·

Omies Ramaphosa en Cele wat gaan julle doen. Wetsgehoorsame mense hulle wapens ontneem? Dit laat my mos dink , die genoemde mense moet mos weet van die diefstalle tog burgers mey wettige lisensies opdrag om vuurwapens in te handig. Kamtig Amnestie? Raak voorraad nou bietjie min?

Quentin Viljoen ·

As ‘n eks-lid (1980’s) met sewe jaar diens in Hillbrow van alle plekke, het ek nog nooit gade geslaan op hierdie roekelose wetstoepassers vanvandag nie! Daar is geen beheer of vervolging soos in die vorige bedeling nie, en daar sal ook nooit weer wees, voordat die korrupte staatsbeheer weer in die regte hande val nie.

Adriaan ·

Daar was vroeer die week op 144 ngroot storie oor die Taxi geweld in Amersfoort. Wat vir my uitgestaan het is dat daar deurentyd deur die manne beskuldigings na die polisie en staatsaanklaer gegooi is. En hulle het net gestaan en winde sluk en geen vraag beantwoord nie.

Penelope ·

Goedso Mike!! Kom draai groot asseblief in RUSTENBURG, die klompie vat die koek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.