Korrupsie klou aan SA

(Argieffoto: stevepb/pixabay)

Suid-Afrika het net-net sy posisie op Transparency International se korrupsiepersepsie-indeks verbeter, maar word steeds beskou as ʼn land met ʼn ernstige korrupsieprobleem – én een waar daar nie genoeg gedoen word om dit nek om te draai nie.

Die indeks word beskou as die toonaangewende aanwyser van korrupsie in veral die staatsdiens. Dit meet 180 lande en gebiede aan hul korrupsievlakke. Die indeks werk op ʼn skaal van nul tot 100 waar nul erg korrup is en 100 baie skoon is.

Suid-Afrika is 70ste op die lys van 180 lande en het die afgelope jaar met een punt verbeter. Afrika-lande soos Botswana, Namibië en Rwanda vaar onder andere beter.

Corruption Watch sê vanjaar se verslag beklemtoon die belangrike verhouding tussen geld, politieke mag en korrupsie. “Verdere ontleding wys korrupsie is meer vatbaar in lande waar groot geld maklik na verkiesingsveldtogte gekanaliseer kan word.”

Corruption Watch sê die lande wat beter vaar, het gewoonlik strengter bepalings oor geld vir verkiesingsveldtogte, terwyl diegene met laer tellings gewoonlik gebrekkige meganismes het, of wanneer dit wél bestaan, dit nie behoorlik afgedwing word nie.

Die parlement het in Januarie verlede jaar die Wet op die Finansiering van Politieke Partye goedgekeur, maar pres. Cyril Ramaphosa het dit nog nie bekragtig nie.

Corruption Watch sê tensy daar duidelike politieke wil is om maatreëls en wetgewing af te dwing – en om partylede verantwoordbaar te hou – gaan die persepsie dat die land nie naastenby genoeg doen om korrupsie te stuit nie, bly kleef.

(Grafiek: Transparency International)

“Die versuim om die Wet op die Finansiering van Politieke Partye ʼn jaar later steeds nie in werking te stel nie, doen nie veel om vertroue te skep in die regering se pogings om korrupsie te takel nie,” het David Lewis, uitvoerende hoof van Corruption Watch, gesê.

“Suid-Afrikaners het dit ook duidelik gemaak dat tensy sigbare vordering gemaak word om diegene verantwoordelik vir korrupsie te vervolg en tot daar ʼn duidelike verbetering is in die vermoë van staatsbeheerde ondernemings om noodsaaklike dienste te verskaf, die regering se beloftes nie vertrou gaan word nie.”

Afrika suid van die Sahara het soos in die verlede die vrotste op die indeks gevaar. Die gemiddelde telling hier is 32, wat dui op kommerwekkende vlakke van korrupsie en traagheid om dit op te los. Hier is die persepsie dat geld gereeld gebruik word om verkiesings te wen, invloed te koop, mag te konsolideer en persoonlike belange te bevorder.

Transparency International stel onder meer voor dat stemwerwery gereguleer moet word, disinformasie-veldtogte moet gestuit word en fluitjieblasers, verslaggewers en aktiviste moet beskerm word.

“Die giftige invloed van geld in politiek sal ook blootgelê en beperk word as daar begin word met die beloofde leefstyloudits van politici en staatsamptenare,” Lewis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frik Dippenaar ·

Hierdie vereistes sal nooit. ooit in Afrika en veral nie RSA onder die ANC, verander nie. Quid (en sommaar baie daarvan) pro quo is in hulle gene.

Magda ·

ANC ken nie harde en eerlike werk nie – so solank hulle da bo sit, sal niks ooit verander nie. Dit is nie in hulle gene om eerlik te wees nie – net agterbaks / en n klomp skelms – ANC bewys ONS in SA verkeerd ASB.

Thinus ·

Al hoe korrupsie gestop gaan word is om ontslae te raak van die anc/sakp korrupte en onbevoegde regering, want als waaraan hulle raak, stink van korrupsie en onbevoedheid. Hoe gouer, hoe beter.

Willie ·

Almal in hul topbestuur skat ryk en korrup tot op die been..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.