Korrupsie noop Cosatu om landwyd te staak

(Foto: COSATU Today/Twitter)

Die vakbond Cosatu beplan om Woensdag ’n landwye staking hou uit protes teen korrupsie, die uitbuiting van werkers, geslagsgebaseerde geweld, kollektiewe bedinging en ander sosio-ekonomiese kwessies. Die vakbond doen ’n beroep op werkers van alle sektore om aan die staking deel te neem en op dié dag nie werk toe te gaan nie.

Die protesaksie vorm deel van die vakbond se mobiliseringsaksie om druk op die regering te plaas om teen politieke korrupsie op te tree. Die vakbond is ook ongelukkig oor staatsamptenare se salarisse wat nie vanjaar verhoog word nie.

Bheki Ntshalintshali, Cosatu se sekretaris-generaal, het Maandag tydens ’n media-inligtingsessie gesê dat duisende werkers weens die Covid-19-regulasies nie in die strate gaan kan saamtrek nie. Daarom word werkers aangemoedig om op dié dag tuis te bly en op dié manier aan die protesaksie deel te neem.

Hy sê daar sal wel werkers wees wat onder die nodige vlak 1-regulasies aan motoroptogte in stede regoor die land, insluitend Pretoria, Polokwane, Rustenburg, Mbombela, Mthatha, Bloemfontein, Durban en Kaapstad sal deelneem.

Cosatu-verteenwoordigers het ook ʼn beroep op werkers gedoen om tot en met Woensdag slegs die dienste te lewer wat in hul kontrakte gestipuleer word en weier om pligte te aanvaar wat nie in hul kontrakte staan nie.

“Die vakbond moedig werkers aan om hul reg uit te oefen om hierdie bedrieglike ekonomiese stelsel te betwis. Staatsamptenare, werkers van die private sektor en wetstoepassingsagentskappe word aangemoedig om aan die aksie deel te neem,” sê Ntshalintshali.

“Suid-Afrika staan op die rand van ineenstorting en dit is tyd dat ons almal opstaan en dringende optrede van beleidmakers en besluitnemers eis. Ons moet standpunt inneem en terugveg teen die regering wat belastingbetalers se geld steel en beleidmakers en besluitnemers wat die werkersklas uitbuit. Die enigste manier om in opstand teen hierdie korrupte stelsel te kom, is deur ontwrigting, nie-samewerking en obstruksie.”

Ntshalintshali sê werkers moet hande vat en saamstaan om hul werk te verdedig en om korrupsie te beveg.

“Korrupsie kos die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk (BBP) jaarliks minstens R27 miljard, wat die land ontneem van ʼn moontlike 76 000 werkgeleenthede wat andersins geskep sou kon word.”

Hy verwys onder meer na die werkers wat ten tyde van die Covid-19-pandemie in die voorste linie moes werk en hul lewens in gevaar gestel of hul lewens verloor het weens ʼn gebrek aan persoonlike beskermende toerusting (PPE’s).

“Die mislukking van die openbare vervoerstelsel was ʼn herinnering dat die meeste burgers nie toegang het tot ʼn betroubare, bekostigbare en geïntegreerde openbare vervoerstelsel nie. Hierdie mislukking in openbare vervoer weerspieël die mislukkings van ons algemene ekonomiese stelsel.”

Hy sê die spesiale Covid-19 TERS-fonds is ook geplunder deurdat baie werkgewers nie die geld aan die betrokke werkers kon betaal nie, en baie gesinne gesukkel het om kos op die tafel te sit.

Ntshalintshali sê met hierdie protesaksie eis werkers ook dat ’n radikale ekonomiese skuif moet plaasvind na aanleiding van die hoë werkloosheidsyfer.

“Dringende stappe moet gedoen word om die staatsbeheerde ondernemings te herstel. Miljoene rande word onwettig uit die land geneem en die Reserwebank moet maatreëls ondersoek om meer beheer oor kapitaal te kry en enige ongerymdhede te penaliseer.”

Nehawu, die gesondheidswerkersvakbond, en Sadtu, die onderwysvakbond, het gesê hulle steun die staking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Remondo ·

Korupte vakbonde staak teen n korupte regering teen die SUKKELENDE werkgewers wat na alles nog meer werkstyd moet verloor….. PIESANG REPUBLIEK

Termiet ·

‘n Berig gelees dat die gemiddelde salaris van staatsamptenare is 35K per maand sonder al hulle voordele?????? En nou kerm hulle oor hulle nie verhoging kan kry nie en hulle salarisse was nie geraak deur lockdown nie? Nou wat meer wil hulle he?

Stefan ·

Hulle sal waarskynlik wel sorg vir werkskepping met al die vernielings wat aangerig gaan word.

JohanR ·

Het die vakbond Cosatu werkers? Ek meen nou die in rooi wat iewers 08h30 in die more is, lekker hard werk en dan 16h30 moeg huis toe gaan. Ek het nooit tyd of permissie gekry by my werk om op ‘n weeksdag te gaan toyi toyi. Miskien “werk” hulle net van 10h00 tot 13h00 en dan toyi toyi die res van die tyd, en kry einde van die maand R75000 salaris?

Wilhelm ·

Die ekonomie sukkel… kom ons staak ‘n bietjie om dit ‘n lekker hupstoot te gee.

Dup ·

Miskien staak die vakbonde omdat hulle oor die hoof gesien is tydens die toekenning van tenders aan vriende,familie en kaders.Ek sal ook kwaad wees as sommiges in Aston Martins ry en in luukse huise in rykmansbuurte bly.

Dries ·

Ek wonder of daar enige korrupsie in Cosatu is… Ek wonder. Maar net.

Kosie ·

Kom ons staak teen korrupsie dan word ons unie leiers weer omgekoop met dieselfde geld wat
d.m.v korrupsie verkry is om weereens hulle lede aan te moedig om vir die korrupte anc te stem, en intussen wil ons verhoging he vir n werk wat R5000,00 werd is waarvoor ons reeds R30 000,00 verdien.

Adam Adriaan ·

Daar is net een deuntje in die klomp vakbonde se kop. Staak/staak/staak. Die tyd het aangebreek dat hulle al hulle werksgeleenthede onder hulle agterwêrelde gaan uit staak. Die manne wat die geld vir die regering se koffers voorsien het se geld is op. Daar is dus net een opsie oor. Werk/Werk/werk!!!!, anders gaan mamma/boetjie en sussie honger slaap.

Kokerboom ·

Dit moet baie dissipline verg om te betoog teen jou eie “our people” net uit frustrasie dat jy nie deel was van korrupsie en plundering!!! Vakbonde in die vorm van Cosatu se tyd is uitgedien aangesien hul net kan raas, blaas, lawaai maak en destruktief van aard is!!Die ekonomie is reeds op sy knieë maar tydmors en raas die doen hul. Positiewe, pro-aktiewe optredes soos Solidariteit..dis wat ons dringend benodig!!

Jakes ·

Julle staking is n mors van tyd en beteken niks nie. As julle wel n verskil wil maak, stem volgende keer nie weer vir die ANC nie. Maar dis natuurlik onmoontlik of hoe?

Veronika ·

Ek kan nie glo hulle dink hulle gaan regtig hond haar af maak nie!! Hulle gaan net nog ‘n dag in hierdie land se vrot ekonomie ‘n knou gee!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.