Korrupsie-ondersoek: Kroeg, motorwassery, selfs bakkery kry Covid-19-tenders

ʼn Hospitaalpersoneellid ontsmet haar hande by die Tygerberg-hospitaal. (Argieffoto: Nardus Engelbrecht/AP)

Die eerste inhegtenisnemings weens beweerde bedrog met Covid-19-tenders kan so vroeg as Dinsdag al gebeur, het die Valke tydens ʼn vergadering van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) aangekondig.

Die interministeriële taakspan wat korrupsie tydens die afsonderingstydperk moet ondersoek, het saam met belangrike rolspelers in die wetstoepassingsowerhede terugvoer gegee oor vordering met hul ondersoeke om diegene wat in dié tyd korrup opgetree het, aan die pen te laat ry.

Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Edward Kieswetter, het gesê ontsettend baie belastingontduiking kom voor en die belangrikste en grootste sake word tans geïdentifiseer vir prioritisering.

Tot dusver word sowat 300 sake ten bedrae van R307 miljoen ondersoek. Daar is 139 maatskappye wat ondersoek word en sowat 60% van die R1,2 miljard se kontrakte is aan mense met politieke bande of hul onmiddellike familie en vriende toegeken. Altesaam 17 sodanige indiwidue is geïdentifiseer.

(Foto: Unsplash)

ʼn Groot verskeidenheid ondernemings met geen geskiedenis in die vervaardiging van mediese beskermende drag nie het kontrakte vir die verskaffing daarvan bekom.

Dit sluit in kroeë, inligtingstegnologiemaatskappye, ʼn motorwassery, ʼn bakkery en ʼn onderneming wat geleenthede reël.

Die ouditeur-generaal (OG), Kimi Makwetu, se kantoor sal intussen die eerste ouditeursverslae oor korrupsie tydens die afsonderingstydperk teen die middel van volgende maand bekend maak.

Makwetu het gesê nadat die regering se ekonomiese stimuluspakket van R500 miljard bekend gemaak is, het sy kantoor stappe gedoen om dadelik te begin oudit, eerder as om tot die einde van die finansiële jaar te wag, soos die gewoonte is.

Die OG se kantoor het alle uitgawes tot einde Julie reeds geoudit, het hy gesê.

(Foto: CTICC/Facebook)

Die nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Shamila Batohi, het gesê baie van die korrupsiesake is ingewikkeld, en dat die staat ʼn tekort aan forensiese ondersoekers het.

Die ministeriële taakspan sal elke ses weke aan die presidensie terugrapporteer oor sy vordering, met die eerste verslag wat in die eerste week van September ingedien sal word.

Die taakspan se hooftake is om toe te sien dat die inligting wat van staatsdepartemente vereis word, vinnig verskaf word, dat belastingontduiking gestop word, dat veral die nasionale tesourie van die nodige inligting voorsien word en dat inligting spoedeisend bekom word vir vervolgings.

Voorts moet seker gemaak word sake word op die hofrol geplaas, dat alle verslae oor hoe beskermingstoerusting bekom is, beskikbaar gestel word en dat daar genoeg geld beskikbaar is vir die stryd teen korrupsie.

Geen begroting of tydraamwerk vir die afhandeling van die ministeriële taakspan se werk is al vasgestel nie.

‘n Inwoner van Hammarsdale in KwaZulu-Natal word vir die nuwe koronavirus gesif. (Foto: Bongani Mbatha/ANA)

Tot dusver het 29 staatsdepartemente hul inligting verskaf en sewe sʼn is uitstaande. Altesaam 79 staatsbestuurde ondernemings het ook hul inligting ingedien.

Daar is tans twaalf bestaande howe vir hierdie soort gespesialiseerde handelsmisdaad – Port Elizabeth (2), Johannesburg (3), Palm Ridge, Pretoria (2), Durban (2), Bloemfontein en Kaapstad.

Nog sewe word beplan in Mahikeng, Polokwane, Nelspruit, Kimberley, Mthatha, Oos-Londen en Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Robert

Wat het hulle verwag, die cANCer is vrot tot in die kern. Geen etiese waardes nie.

Strandloper

Mmmmm nou wonder ek…daar was dan n taak span op die been gebring om korrupsie hok te slaan wat toe ook korrup was…nou hoe nou…zumpie clan se hulp in roep?

Annette

Dis ‘n skreiende skande! En hierdie is maar net n fraksie van al die korrupsie wat in die land plaasvind. Dit maakn mens naar.’ n Groter verwoesting as covid-19. Hoeveel gaan onder die mat ingevee word? Geen gewetes nie. Maar dis mos BEE en baantjies vir boeties. Sies.

Kalla

Ons sal maar wag en sien of daar iets van kom.

Adam Adriaan

CR en sy NUK is verrot. Hulle moet aangekla word van Hoogveraat teen oor die land. Hulle en hulle kaders reel hierdie dinge. Maak daarna of hulle onskuldig is en die korrupsie sal onderskoek. Dit is net ‘n rookskerm om hulle skelmstreke te verbloem.