‘Korrupsie, wanbestuur’ by munisipaliteite bedreig ekonomie – VF Plus

Die VF Plus sê Eskom se beslaglegging op ʼn rekening van die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat in ʼn poging om uitstaande skuld van R3,4 miljard te verhaal, is nog ʼn bewys van die “omvangryke bedreiging wat voortgesette ANC-beheer van plaaslike regerings en staatsentiteite vir die landsekonomie inhou”.

Maroela Media het vroeër berig die munisipaliteit skuld Eskom miljarde rande vir grootmaatkragvoorsiening. Die kragvoorsiener het die afgelope naweek gesê hy bepaal tans die balans van die rekening en betaal stelselmatig die geld daarin na Eskom oor in ʼn poging om sy uitstaande skuld in te vorder.

Eskom het vanjaar nog net vyf betalings van R66,5 miljoen van die munisipaliteit gekry, hoewel sy rekening vir dié tyd reeds R1,3 miljard beloop. Die kragvoorsiener was sedert 2014 betrokke in verskeie hofgedinge met die munisipaliteit.

Hoewel die uitstaande skuld destyds R372 miljoen beloop het, het dit nou tot R3,4 miljard toegeneem weens die munisipaliteit se versuim om dit te vereffen.

Michal Groenewald, die VF Plus se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, sê die munisipaliteit bedien ʼn ekonomiese sleutelpunt – die Vrystaatse Goudveld.

“Dit is onaanvaarbaar dat hierdie skuld, wat rente en eensydig ingestelde boetes insluit, toegelaat is om tot so ʼn enorme bedrag aan te groei terwyl betalende inwoners onder die voortslepende dispute tussen die munisipaliteit en Eskom ly,” sê Groenewald.

“Hierdie situasie is nie beperk tot Matjhabeng nie, maar is ʼn landwye neiging.”

Groenewald sê die feit dat selfs hofbevele deurlopend verontagsaam is, dui verder op die skynbare arrogansie van die plaaslike ANC wat ook reeds lank by klagte van korrupsie en wanadministrasie betrek word.

“Hierdie stand van sake lei tot ʼn groeiende weerstand onder wetsgehoorsame inwoners oor die hele Goudveld wat nie bereid is om voort te gaan met die finansiering van wanbestuur, korrupsie en die stroping van belastingbetalers se geld nie.

“ʼn Algehele ineenstorting van hierdie munisipaliteit bedreig nie net die plaaslike ekonomie nie, maar sal weens sy strategiese rol in veral die mynbou- en landbousektore ook ʼn beduidend negatiewe uitwerking op die nasionale ekonomie hê,” sê Groenewald.

Hy sê die nasionale regering moet dringend ingryp om ʼn ramp af te weer.

“ʼn Gebrek aan dringende en doeltreffende optrede deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, en haar departement sal neerkom op ernstige pligsversuim wat langtermyngevolge vir die landsekonomie sal inhou. Sulke optrede moet fokus op realistiese, bekostigbare oplossings wat ten doel het om die voortslepende dispute op te klaar, asook toekomstige dispute te voorkom.”

Dit is tyd dat die ANC-regering verantwoordelikheid neem en optree teen korrupsie en wanbestuur op alle regeringsvlakke, voordat plaaslike gemeenskappe landwyd eiemagtig optree wat katastrofiese gevolge vir die hele land sal inhou.

Die munisipaliteit bedien dorpe soos Welkom, Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg en Virginia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Persheks Adri ·

Nou laat kopdoek haar werk doen sy kry ‘n helse groot salaris vir sit en nuwe reëls uit dink! Sy’s ook skuldig aan korrupsie saam met haar kinders. Lekker geld gemaak op swart mark en word steeds nie vervolg nie!

Ek sal betaal vir haar oranje pakkie met ‘n glimlag!!!

Karel Kobus Kruger ·

Ek, wat nog nooit n enkele dag in die politiek was nie, sou presies dieselfde gesê het.
Alle MM lesers, stem asb vir my in die volgende verkiesing. Ek belowe om net so baie soos die da en vf te praat. Ek sal ook gereeld mediaverklarings uitreik en aan debatte in die parlement deelneem. Ek belowe ook dit sal net by praat bly, ek gaan niks doen nie.
By voorbaat dankie vir julle stemme.

ElizeK ·

Jy het my stem Gysbert. Ek voel 100% soos jy. Kan ek jou regterhand wees asseblief.

Casper ·

Dit gaan my verstaan te bowe dat die munisipaliteit dinge so laat hand uitruk het.Voor ek my pension ontvang het het hulle my elektrisiteit gestalt en gesê ,no money no elektrisity pay your bill.Daar is myne in daai gebiede wat groot bydraes maak tot die ekonomie.Wat skrikwekkend is ,is dat geen munisipaliteit in ons land escom nie geld skuld nie.Hierdie tendens het nog voor covid 19 ontstaan.Wat word van geld wat verbruikers wel betaal en “prepaid”krag.Wat doen escom aan die buurlande wat miljarde skuld.

Nie Verbaas ·

As mens nie weet dat jy nie weet nie is daar nie n probleem nie.

ElizeK ·

Bla bla bla. So sit almal langs die kantlyn en speel met woorde terwyl die skip sink. Dit sluit nou die DA, VF. VF+ EN EN in. Ons is GESKOK, ons VEROORDEEL, ons het GENOEG gehad, wanneer gaan dit STOP!!!!
Bla bla bla.
De La Rey, De La Rey.
Sal jy die Boere kom lei?

Oomniklaassevriend ·

ANC=Arrogansie, Nepotisme, (C)kader ontplooiing, korrupsie, wanbestuur, onbevoegdheid ens.

Andre ·

Ek moet ongelukkig sê dat die VF tans nes ‘n weeklikse koerant optree. Verskaf nuus wat reeds lankal bekend is en dan net weer oor na die volgende reeds bekende berig. Niks gebeur rêrig daarna nie. Dit is duidelik dat hulle en al die ander partye soos ons gewone mense bloot min of niks kan doen om hierdie trein op sy verwoestende tog te stop nie

annie ·

In die ANC het almal ‘n houvas op almal; afpersing ‘is the name of the game’. Stemme word gekoop, poste, vryskelding van vervolging en ‘n stoel ‘in paradise with perks’. Dit is nie ‘n modernistiese streep nie, dit kom langpad; duisende jare al saam met groot feeste en vertoon waar brute mag die spelreèls bepaal. Daar is ‘n ‘koor’ in die antieke dramas, dis nou ons die blebs, maar ons bly onsigbaar en waarskuwings val op dowe ore. Die uitloop is altyd sleg en purgatories maar niemand onthou die les nie.

Nie Verbaas ·

ANC sal dit net weer op apartheid blameer. Net hulle sal weet hoe mens totale onbevoegdheid en apartheid by mekaar kan bring.

Scalla ·

Viva anc, Leon Schuster het dit al jare gelede in sy films uitgewys en was as baie grappig beskou en nou is die werklikheid rassisties volgens sekere groepe.

Blikkies ·

Wanneer leer die Opposisie Partye, hoeveel keer gaan julle nog se’ ‘ Die regering moet ingryp’ die Nasionale Regering doen niks aan niks……Almal weet dit al. As ‘n Opposisie Party en julle volgelinge sal Julle self ‘n haas uit ‘n hoed moet pluk.

Kokerboom ·

Korrupsie volgens ANC is ‘n westerse begrip. Dus dit bestaan nie in Afrika!! Waarom al die bohaai?(Volgens ANC)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.