Korrupsieklagtes teen Shaun Abrahams ingedien

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, by die Silverton-polisiestasie. Foto: Verskaf

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Woensdag klagtes van korrupsie, bedrog, diefstal, afpersing en vervalsing teen Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), en ses ander hooggeplaastes van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingedien.

Die klagtes is deur Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, by die Silverton-polisiestasie in die ooste van Pretoria aanhangig gemaak.

“AfriForum het ʼn anonieme brief ontvang wat uitbrei oor aantygings van ernstige strafregtelike gedrag. In hierdie brief is ʼn pleidooi aan AfriForum gerig om te verseker dat daar nie toegelaat word dat die verrotting binne die NVG voortduur nie,” het Taute gesê.

“Een aantyging verwys na ʼn onderlangs-befondsde bedrieglike eis vir reiskostes van vier lede van die NVG. Die eise, ingedien vir goedkeuring om na Zeerust te reis, verdraai die feit dat hulle eintlik na Kaapstad gereis en R97 000 van hierdie onderlangse fondse spandeer het.”

Sy het gesê in ʼn verdere aantyging word daar vermoed dat ʼn getuiebeskermingsvoertuig aan die NDOV toegewys is, wat die voertuig toe glo vir persoonlike voordeel gebruik het. “Ek glo dat die voorstel hier is dat alle regeringsbates streng bestuur word en dat die reisjoernale die feitlike gebruik van dié bate moet reflekteer, maar in hierdie geval het die NDOV op ʼn korrupte wyse ʼn persoonlike en/of kostelose amptelike voordeel verseker waartoe hy nie geregtig is nie,” voeg Taute by.

Taute het gesê sy glo dat die aantygings van ʼn baie ernstige aard is en versoek daarom dat die polisie die aantygings moet ondersoek.

“Hierdie aantygings behoort nou genoeg rede te wees vir pres. Cyril Ramaphosa om Abrahams uit sy pos te verwyder, aangesien dit duidelik is dat hy nie geskik en gepas is om die pos te beklee nie,” het sy gesê.

Dié stap volg nadat die organisasie in Februarie ook strafregtelike aanklagte van meineed en regsverydeling teen Abrahams ingedien het. Die burgerregte-organisasie het destyds ook ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om Abrahams af te dank.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad, het vroeër vanjaar ook gesê Ramaphosa moet “leierskap toon” en ʼn nuwe NDOV-hoof aanstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mrs H ·

Shaun Abrahams is nie die enigste een nie en dis ook nie die eerste keer nie. Dis hoe hy en sy maats rol van die begin af. Uitgeslaapste skelms. Daarom ook die valse klagtes teen Ivan, Johan en Andries van SAID wat van al hul oneerlikke streke weet.

Koos ·

Klink of julle hom ook maar privaat sal moet vervolg. Die Nasionale Vergewingsgesag voel te jammer vir hom. Maak maar eers Gabriella en George Bizos se skoondogter se sake klaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.