Korrupsiekrisis in SA groter as Nkandla

Argieffoto

Argieffoto

Korrupsie in Suid-Afrika het krisisafmetings bereik en strek veel wyer as die berugte Nkandla-debakel. Dít is volgens ʼn nuwe verslag wat vandag deur die vakbond Solidariteit vrygestel is. Die verslag bevat besonderhede van nege korrupsieskandale wat die belastingbetaler die afgelope paar jaar veel meer gekos het as die R246 miljoen wat aan die president se Nkandla-woning bestee is.

Solidariteit het verskeie mediabronne en indekse gebruik om tien gevallestudies te ontleed. In die tiende plek is die berugte Nkandla-debakel, terwyl nege ander instellings en gevalle dit ten opsigte van die omvang, erns en invloed op die korrupsieskaal uitstof. Dit sluit onder meer die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die departement van binnelandse sake in.

Een van die grootste regeringsblapse wat in die verslag bespreek word, is die R620 miljoen wat deur die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) aan ondoeltreffende lokomotiewe spandeer is. Boonop toon ʼn onlangse verslag deur die Ouditeur-generaal (OG) dat Prasa onreëlmatige uitgawes van ten minste R790 miljoen aangegaan het.

Volgens dr. Eugene Brink, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, is die bevindings wat in die verslag gemaak word, hoewel skokkend, net ʼn druppel aan die emmer. “Dit is onmoontlik om die werklike omvang van korrupsie in Suid-Afrika te kwantifiseer aangesien heelwat korrupsie ongesiens en ongestraf plaasvind. Daar is boonop nόg voorvalle van korrupsie wat groter as Nkandla is wat nie in hierdie verslag genoem word nie. Daarom is die bevindinge in die verslag nie allesomvattend nie en bloot ʼn aanduiding dat korrupsie onteenseglik een van die grootste krisisse in ons land is,” verduidelik Brink.

Hy meen een van die grootste nadele van korrupsie is dat landsburgers van broodnodige dienslewering ontneem word. “Die verkwisting van die land se hulpbronne verklaar daarom gedeeltelik die hoë voorkoms van gewelddadige optogte regoor die land. Boonop skrik korrupsie beleggers af en sakevertroue ly daaronder.”

Solidariteit het die genoemde verslag onder verskeie rolspelers, insluitend die openbare beskermer, Thuli Madonsela, en die waghondorganisasie, Corruption Watch, se aandag gebring. Die verslag vorm ook deel van Solidariteit se omvattende sosialemedia-veldtog teen korrupsie. Klik hier vir meer besonderhede oor die veldtog.

Die tien korrupsieskandale wat in die verslag onder die loep geneem word, sluit in:

  1. Plaaslike regering
  2. Tenderpreneurskap
  3. Tshwane se voorafbetaalmeters
  4. Die SAPD
  5. Die Metropolisie
  6. Prasa
  7. Vals kwalifikasies
  8. Die departement van binnelandse sake
  9. Die kabinet en parlement
  10. Nkandla

Klik hier om die volledige verslag te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann Marx ·

Hoekom word daar so baie geld gesteel? Want daar IS so baie geld wat gesteel kan word. Tyd geword om die geldkraantjie toe te draai……Ek kon nog nooit verstaan nie: Jy loop tog nie by jou supermark in, koop R1000 se kruideniersware, los dit op die toonbank, en gaan koop NOG R1000 se kruideniersware by ‘n ander winkel nie, doen jy? Maar ons is heel gewillig om sakke vol geld aan die regering te betaal…..en dan weer te betaal vir alles wat hulle NIE gelewer het met ons oorspronklike belasting bydraes nie. Waarom?

Gerhard Bezuidenhout ·

Terwyl korrupsie ons ekonomie plunder en dienslewering knou , hoor mens nooit of die oortreders gevonnis word nie . Dit wil voorkom asof elke wildehond n stuk vleis uitskeur en daarmee wegkom .

Thomas ·

en dan se die adjunk president die iwoners van sa is negatief… Snert.. As die regering ophou steel sal daar genoeg wees vir alles en almal. Om vir die regering te werk is soos om die lotto te wen.

salie ·

Klein sonde bly n sonde. Bietjie geld steel of baie!! Steel bly steel. Korrupsie bly korrupsie!!!

Smittie ·

Hoe meer jy steel of aanjaag, hoe groter is jou “golden handshake” of jy gaan vir jare met betaalde verlof terwyl die ondersoek nie gedoen word of afgehandel word nie.

Mica ·

Gryp! Gryp! Daar is hope en hope……. tot daar niks meer is nie! …..wat dan?

Mike de Beer ·

Kan ons “waghond organisasies” soos Solidariteit en Afriforum tog asseblief ons gewone mense wat buk en betaal se regte soos verskans in die onderhandelde en met bloed en sweet betaalde konstitusie /Grondwet optree en hulle opfoeter tot by Ou Daantjie in die Kallerhok? Al die bogenoemde gevalle behoort die aandadiges in ‘n Hof aangehoor word sodat hulle aan die pen kan ry. Voor dit nie gebeur nie sal die plaasmoodenaars en inbrekers en rowers hulle ook nie aan die wet steur nie want hulle rolmodelle kom dan skotvry daarvan af? Skande.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.