Korrupte burgemeester voer skrikbewind in Limpopo

Andrina Matsemela, burgemeester van die Mokgalakwena Plaaslike Munisipaliteit

Noem die naam Andrina Matsemela in Mokopane (Potgietersrus) en die inwoners van die dorp en township spoeg vuur.

Dié burgemeester van die Mokgalakwena Plaaslike Munisipaliteit voer glo ’n skrikbewind in die dorp. Weens haar politieke verbintenisse is sy klaarblyklik onaantasbaar en gevolglik is dit gewone mense wat die meeste ly.

Die dorp is soos talle ander plattelandse dorpe ’n toonbeeld van verval en agteruitgang. Die strate is vuil en vol slaggate en die inwoners is ontevrede oor die totale gebrek aan dienslewering en ’n korrupte plaaslike regering.

In die geval van Mokopane wil dit voorkom of dit hier selfs erger as op baie ander plekke gaan. Hier swaai Matsemela en ’n paar van haar trawante die septer. Dit is klaarblyklik ook net as jy in een van húlle se sakke is, dat jy uit die geldkraankie mag drink en vir jou ’n lieflike paleis of twee in die nuwe ontwikkeling kan bou.

Ondanks die feit dat die munisipaliteit bankrot is, leef Matsemela en haar meelopers in absolute weelde. Sy het haarself verlede jaar vir haar verjaardag bederf en ’n rojale R1,5 miljoen op ’n poeierverfpretloop vir die geleentheid uitgegee. Onlangs was sy weer in die nuus oor meer as R200 000 wat betaal is om ’n Mercedes Benz C-klas vir haar te huur nadat haar vorige ampsmotor in ’n ongeluk afgeskryf is.

In 2017 het sy na bewering R70 000 op ’n drie dae lange werksbesoek in Kaapstad uitgegee en in ’n vyfsterhotel tuisgegaan.

Marcelle Maritz, leier van die VF Plus in Limpopo, meen Matsemela voer ’n skrikbewind in die dorp. “Dis soos ’n mafia wat hier in beheer is. Onder haar gedy onwettige aanstellings, korrupsie, tenderbedrog, wanadministrasie en wanbesteding. Dit het ’n onhoudbare situasie geword en ons kan maar net hoop iets gaan verander met die aanstelling van die administrateur.”

Marcelle Maritz, leier van die VF Plus in Limpopo.

Maritz en lede van die Mogalakwena Concerned and Affected Communities (MCAC) baklei vir al wat hulle kan teen die ongeregtigheid en agteruitgang. Dit het tot gevolg gehad dat haar naam ook op die moordlys verskyn het en dat sy in ’n stadium lyfwagte moes kry om haar te beskerm. Sy het ook al verskeie dreigoproepe gekry.

Dit gaan so benard in Mokopane dat sommige gemeenskappe letterlik van die hand na die mond leef. “Matsemela het geen empatie vir die mense nie. Inteendeel. Die gemeenskap voel eerder dat hulle deur haar en haar volgelinge geviktimiseer word. Die mense glo dat sy die polisie ook in die sak het omdat sake eenvoudig net doodloop.”

Volgens Maritz help die VF Plus en ander gemeenskapslede om die slaggate te herstel, voetoorgange te verf by die skool, mobiele watertenks te voorsien en kos aan bejaardes uit te deel.

Intussen hoop lede van die MCAC dat die draaipunt met volgende jaar se plaaslike verkiesing sal kom.

Inwoners met wie Forum Nuus gepraat het, sê die ANC kan vergeet dat die mense in die komende plaaslike verkiesing vir hulle gaan stem.

Sam Dipela het tydens ’n onderhoud sommer driftig begin raak. “Die munisipaliteit voel niks vir die mense nie. Hier is geen dienslewering nie. Ons het nie paaie nie. Ons het nie water nie. Ons het F…l. Die dorp se ellende het met die vorige burgemeester, Tlhalefi Mashamaite, begin en nou is Matsemela vir die chaos verantwoordelik.”

Dipela is boos oor die werkloosheid en korrupsie. “Ons weet dat net sekere mense tenders en kontrakte kry. Ek het nie hoop dat die situasie sal omdraai nie. Die premier (Stan Mathabatha) stel dan nie eens daarin belang om na ons besware te luister nie. Dit help dan nie eens ons betoog of bring die dorp tot stilstand nie. Ek wil net vir die regering sê hulle moenie met die plaaslike verkiesing na Mokgalakwena kom nie. Ons gaan nie stem nie.”

Die ANC se kantore in Mokopane.

Bryner Ngwenya sê ook “ons gemeenskap ly weens korrupsie en wanadministrasie”.

Volgens haar het die munisipaliteit in duie gestort. “Meer as R1,1 miljard is net weg. Hier is nie slaggate nie, dis eerder dongas. Ons het nie water nie en nêrens word bome meer gesnoei nie.”

Sy lê die blaam voor die deur van Matselema en raadslede. “In plaas daarvan om dienste te lewer, ry hulle in luukse motors en bou hulle vir hulle reuse huise.”

Alwyn Nyoni sê die burgemeester het nie respek vir die gemeenskap nie. “Sy is ’n boelie en korrup. Niemand kan hulle keer nie, selfs nie die premier nie. Daarom is hy ook korrup. Ons is moeg vir al die probleme en ons wil nie die onafhanklike verkiesingskommissie volgende jaar naby ons dorp hê nie.”

Selomo Motlatso, voorsitter van die MCAC, meen die ANC is vir die gemors verantwoordelik. “Die grondwet is duidelik oor wat op plaaslike regeringsvlak moet gebeur en dit gebeur nie. Niemand luister na ons nie. En mense wat die regte ding wil doen, word helder oordag vermoor.

“Die ANC is slim wanneer dit by verkiesingstyd kom. Dan is hulle meer verenig as ooit. Die mense wat stem gee vir die ANC mag en die mag gebruik hulle later net om onder mekaar te baklei. Maar ek dink die mense begin verstaan wat aangaan. Hulle begin besef dat jy vir mense moet stem wat vir jou gaan werk en sorg dat dienste gelewer word.”

Bronwyn van Heerden, ‘n sakevrou en apteker van Mokopane.

Bronwyn van Heerden, ’n sakevrou en apteker op die dorp, sê sy weet nie wat die toekoms van die dorp inhou nie.

Daar is groot probleme en hoe die situasie tans staan wat water en elektrisiteit betref, is kommerwekkend, sê sy. “Ons het reeds twee watertenks by ons huis opgesit en bring water apteek toe as dit nodig is. Ek koop ook drinkwater vir die apteek, want ek kan nie toelaat dat pasiënte en siek mense die water drink nie. Die kraanwater hier is een oomblik deurskynend en dan word dit modderig en geel. Die waterbesoedeling is ’n krisis en al meer mense kom in wat siek voel en oor diarree kla. Ons sien ook kinders met naarheid en braking en dit is van die water.”

Volgens Van Heerden misluk die munisipaliteit klaaglik. “Behalwe geen dienslewering nie, is die strate vol slaggate en werk die ligte ook nie. Ons kry briewe vir agterstallige rekeninge, maar kry miskien een keer in drie maande ’n rekening. Meterlesings word ook nie gereeld gedoen nie.”

Van Heerden sê die mense van Potgietersrus is keelvol vir Matsemela. “Hulle wil haar uit hê. Sy is big talk en no action. Die dorp se ondernemings moes in ’n stadium sluit ná protesoptogte. Ons moes ’n pasiënt Pretoria toe stuur vir medikasie vir suikersiekte omdat ons dit nie kon kry nie.

“Matsemela het tydens die optogte gesê sy is hier vir ons, maar toe die massas buite die winkelsentrum is, toe hardloop sy weg. Die mense is bang om iets te sê uit vrees vir viktimisering. Die gevoel is of jy val by hulle reëls in of jou veiligheid kan nie gewaarborg word nie.”

Oor haar en haar gesin se toekoms sê Van Heerden: “Ons kyk na ’n plan B. Ons was al in Australië en daar is ’n aanvraag vir my en my man se kwalifikasies. Maar ons bly nou nog hoop en bid dat dinge uiteindelik sal verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blikkantien

Ja nee, bo blink en onder stink. Wat ‘n absolute skande!

Namib

Dit is so hartseer om te sien hoe ons eens wonderlike land net van sleg na slegter gaan.

Strandloper

Dankie fw….

Lizan

Paragraaf 4: Geldkraankie moet wees geldkraantjie.
Is daar nie ‘n beter woord vir die anglisisme “viktimiseer” nie?

Leon

Wag tot die ANC al die grond ingepalm het met die nuwe wet. Dan is die hele land so.