‘Korrupte polisielede deel van misdaadprobleem by OR Tambo’

Argieffoto

Kort voordat Fikile Mbalula, minister van polisie, Maandag ʼn vergadering oor veiligheid by die OR Tambo Internasionale Lughawe sou bywoon, is ʼn vragmotor reg buite die lughawe deur gewapende rowers gekaap.

Vuyo Mhaga, woordvoerder van die departement van polisie, het in ʼn verklaring gesê die vragmotor het van die lughawe af gekom en het “waardevolle goedere” vervoer. Dit kom nadat Swissport-pakhuis by die lugvragafdeling van die lughawe vroeër vandeesmaand deur gewapende rowers beroof is.

In Mei is ʼn man tydens ʼn kapingsdrama by die lughawe doodgeskiet en in April is ʼn transitovoertuig op die R24-snelweg reg buite die lughawe opgeblaas. In Maart is ongeveer R20 miljoen by die lughawe gesteel toe rowers hulle as polisiebeamptes voorgedoen het.

Volgens Mhaga het Mbalula met verskeie rolspelers oor veiligheidsmaatreëls by die lughawe vergader, insluitend David Mahlobo, minister van staatsekuriteit, Sizakele Nkosi-Malobane, LUR van gemeenskapsveiligheid, Bongani Maseko, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy (Acsa), Bongiwe Pityi, algemene bestuurder by die lughawe, en lede van die polisie se topbestuur.

“Die vergadering het gehandel oor die voortgesette kommer oor veiligheid en strategiese sekuriteit by OR Tambo-lughawe as een van die land se nasionale sleutelpunte,” het Mhaga gesê. “OR Tambo speel ʼn baie strategiese rol in die land en net verlede jaar het ongeveer 21 miljoen passasiers deur die lughawe beweeg. Die veiligheid by die lughawe is daarom vir die polisie van kardinale belang.”

Volgens Mbalula het hy op 6 Junie die lughawe besoek om met die Acsa-bestuur te vergader en was hy “geskok” om die lae vlak van polisiëring en polisieteenwoordigheid by die lughawe te sien. “Ek het hierdie bekommernis met die parlement gedeel en hulle verseker dat die nodige stappe gedoen sal word om die situasie reg te stel,” het Mbalula gesê.

Hy het gesê intussen is die “veiligheidsuitdagings” by die lughawe geïdentifiseer. “Eenvoudig gestel, deel van die uitdaging is korrupsie en sameswering waar polisiebeamptes kop in een mus met misdadigers is. ʼn Ooglopende gebrek aan polisiebevel en -beheer is uiters kommerwekkend en sonder dit sal dit moeilik wees om personeel wat by die lughawe ontplooi is te bestuur,” het hy gesê.

“Ons is ook ingelig dat polisiëringsmaatreëls wat in plek gestel is nie geïmplementeer word nie. Daar is ook uitdagings ten opsigte van ʼn gebrek aan taktiese misdaadintelligensie [by die lughawe], asook ʼn inherente gebrek aan effektiewe vervolging.”

Die toneel buite die OR Tambo-lughawe waar ‘n vermeende rower doodgeskiet en nog een in hegtenis geneem is (1 Julie 2017). Foto: ER24

Mbalula het gesê daar is tydens die vergadering ooreengekom dat die strategie wat tydens die 2010 Sokkerwêreldbeker geïmplementeer is, weer oorweeg moet word. Daar is ook ooreengekom dat alle personeel wat by die lughawe werk streng gekeur moet word as deel van ʼn langtermyn- volhoubare veiligheidsplan.

“Ons het ooreengekom dat meer senior polisiebeamptes met die rang van genl.maj. by die lughawe ontplooi sal word. Daar sal ook meer lede van die Ekurhuleni-metropolisie by die lughawe ontplooi word om misdaad te bekamp.”

Volgens Mbalula sal daar ʼn gesamentlike span wat bestaan uit beamptes van misdaadintelligensie, die Valke en die polisiespeurdiens na die lughawe ontplooi word. Die span sal vanuit ʼn bedryfskamer by die lughawe werk waar misdaadbedrywighede by die lughawe voortdurend gemonitor kan word en daar weekliks aan Mbalula terugvoer gegee sal word.

“Die leierskap van die SAPD is besig om ons stryd teen misdaad by OR Tambo te versterk. Ons sal binnekort aan Suid-Afrikaners terugvoer gee oor die oorwinnings wat ons hiermee behaal het,” het Mbalula gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Johanna Botha ·

Iets wat ons mos lankal vermoed …nou jare na die vermoedde skrik polisie eers wakker !

Johan ·

Jong……. die mbalula is darem n slim minister van polisie……..dat hy net deur een besoek tot die gevolg trekking gekom het……WOW……
Gaan daar nou werklik iets gebeur my pel?

Johan ·

Ons wag nou nog om te hoor wie al daai wapens by die weermag gesteel het……..het daar nie ook n liggie in jou kom aangegaan dat dit ook dalk n inside job is nie…….soos al die diefstalle by die staats departemente kom aan sherlock…

Jeannette ·

Maroela Media haal mos my kommentare, wat die ANC en regering [Zuma en die Gupta] kasty met woorde, alte vinnig af, so ek sê maar dan ordentlikheidswys hieroor:

“Wat ‘n grap! Ek wens eintlik iemand wil ons Staatspresident en sy vriende, die Gupta’s in ‘n stewige, klankdigte houer plaas, sonder hul selfone of rekenaars en sekuur hou en dan die word versprei dat ‘n uiters waardevolle vrag op OR Tambo lughawe wag om na Dubai verskeep te word”.

En: “Wat die geëerde Minister van Polisie, mnr. Mbalula, ons nou vertel, weet ons mos al lankal”. Maroela Media lyk my hou nie van satiriese grappies oor die ANC en die Guptas nie of haal sommer net uit gewoonte uit, seker kommentators se (dalk té?) reguit en eerlike, maar ordentlik uitgespreekte kommentare af.

Cherokee ·

Weet nie of hy werklik al iets raak gevee het nie. Hy hou daarvan om sy eie stem te hoor en behoort voor sy eie deur ook te vee,

Wouter ·

Fikile skuld nog R10 mil vir omkoopgeld om 2010 sokker te kon hou. Wanneer betaal hy en Danny dit terug?

Cherokee ·

Ek bevraagteken altyd die erns in kommentare wanneer die wat bespreek word so vriendelik by die voornaam genoem word.

Johan. H. ·

Hulle vertrou ek nog minder as n sjef by die spur.. Hulle moet natuurlik ekstra gestraf word by skuldig bevinding as dit so ver gaan bygese. Want hulle moet nog eers by die korupte regslui verby, en dan by die korupte tronk bewaarders, Ai

Eish ·

Dankie Johan vir die pragtige nuwe Afrikaanse vergelyking, om iemand minder te vertrou as n sjef by die Spur. Wonderlik hoe ons taal steeds groei onder drug uit alle oorde.

marlene ·

Nou val die land sowaar heeltemal uitmekaar.
Die wilde weste se moses van cowboys en crooks.

Mielie ·

Alle werknemers van Acsa en diensverskaffers moet verplig word om nie hul cell fone te gebruik wanneer hulle aan diens is nie. Daar is kameras wat hulle kan gebruik as hulpmiddel. Die personeel moet ook identifikasie he dat hulle daar werk en die publiek moet aangemoedig word om personeel op wat hul fone gebruik dadelik te rapporteer. Die nommer en inligting moet oral geadverteer word. Daar moet sigbare en hoorbare kommunikasie met die publiek wees aangaande die rooftogte.

Cherokee ·

Die lees van hierdie berig (dankie Mariné Lourens) wys weereens daarop dat die misdaad situasie in Suid Afrika veel erger is as wat deur selfs gereelde koerantlesers gedink word.

Willi ·

Ons wat in die buiteland woon kom net een keer ‘n jaar terug vir vakansie en sien hierdie agteruitgang met elke besoek in SA. Niks word beter nie, alles is afgeleef en vervalle en dit word net slegter met elke besoek.

Hans ·

Om meer beamptes met die rang van generaal-majoor aan te stel by lughawe sal geen doel dien nie. Een persoon met gemelde rang wat sy/haar werk doen is die aangewese weg.

Klippie ·

Die paar polisie beamptes by die lughawe staan elkeen met ‘n boekie en skryf boetes uit vir die mense wat nie reg parkeer het nie! Plaas dat hulle hul besig hou met belangriker goed!!

Hendrik ·

Wel hoe lank is die lys nou disfunksionele staatsinstansies : SAL, Telkom, Poskantoor, Petronet, Eskom, Polisie, Gesondheidsdienste, Welsynsdienste, Korrektiewedienste, SABC, SABS, Onderwys (22000 disfunksienele skole uit 24000 skole), Argiewe, SANRAL, Arbeid, Mynwese,……Manne die land is in die moeilikheid. Frans Cronje van die Rasseinstutuut het in een van sy senarios gemeen dat die staatsvebrokkeling gaan aanhou tot in 2020 en daarna sal iets soos Ruanda (Asiese tier/Afrika tier) tipe regering oorneem om alles te beheer. Burgerregte is dan nie meer van belang. DIt is tyd dat ons burgerregtegroepe ondersteun, soos Afriforum, en hard druk om te kyk of hierdie situasie beredder kan word.

Blondie ·

Kolskoot Hendrik! 10/10 vir jou insiggewende perspektief!

CAROL ·

Ek se weer – ons grootste skelms is die polisie. Gn wonder ons land is in so groot gemors nie!!!

Vryheid ·

Die feite is misdaad was en is nogsteeds buite beheer. Mbalula dink hy gaan n verskil maak met sy lee beloftes maar die monster is al so groot dat hy nie eers n duik sal maak nie.

Willi ·

Maak maar soos by die polisie stasies en ander plekke, gebruik ekstra sekuriteits wagte vir ekstra beskerming, dan kan hulle almal mos saam deel in die roof en korrupsie. Mens word naar as jy op OR land met die bedelaars, selfs as jy by aankoms jou tas wil kry is hulle daar om jou siel te versondig vir sigarette, geld of taxis ens. Hoe kom hulle daar binne nog voor jy deur doeane moet gaan. Kom mens buite , is jy te bang om rond te kyk, want almal bestorm jou soos wilde diere. Mens voel totaal onveilig daar want jy voel jy kan enige oomblik beroof word. Dan moet jy nog die truspieël ook dophou dat hulle jou nie agtervolg nie, en moenie praat van die “highjack hotspot” borde by elke afrit nie. Die mannetjie praat niks van hoe om van die korruptes ontslae te raak nie. Sal seker maar altyd deel wees van die polisie en dit raak net erger en slegter.

Deon ·

Kan Mbalula dalk ook so erenstig raak oor plaasmoorde of is hy meer bekommerd oor roof as oor moord op weerlose mense op plase?

Rina ·

Hoekom het ons nie meer respek vir Polisie nie? Dis hul eie skuld! Tyd gelede ontvang ons besoek van baie aangename polisieman op plaas – rondom finaliteit van my man se wapenlisensies. My man is ander mater en vra uiteraard baie vrae onder andere: Mag die privaatdame wat in polisievoertuig tans daar sit saam met jou ry? Nee , mnr sien – nie eintlik nie – sy en klein kindjie ry net saam tot op sekere plek (dis my vrou) – ons boeremense is mos hopelik ordentlik grootgemaak: nooi in vir tee en gee lekkers vir kleinding! En so werk die hele staat se beleid – breek hul eie reels en regulasies!

Johann ·

Ag asseblief!!!!!!! Die minister gly teen n opdraande op vir aandag!

w ·

Laat my lag. Rang se nix. Dis n kwessie van eerlikheid of korrup

donker duiwel ·

Ag ja….’n klop warm lug van nog ‘n onbevoegde. Jy kan enige ding deur daardie lughawe smokkel. Jy sal slegs gevang word as hulle uit jou tasse steel en agterkom jy deel nie met hulle van jou eie misdaads inkomste nie. Die enigste polisie wat ek in jare by Jan Smuts gesien het het my koeldranke gevat toe ek deur customs is en dit sit en drink want dit is glo te gevaarlik vir my om dit deur te vat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.