Kortlys vir nuwe hoofregter bekendgemaak

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

President Cyril Ramaphosa het Maandag die kortlys bekendgemaak vir die nuwe hoofregter.

Die proses het op 16 September begin toe Ramaphosa versoek het dat geskikte kandidate genomineer moet word vir dié belangrike pos as hoof van die regstelsel van Suid-Afrika. Die nominasieproses het op 1 Oktober gesluit.

Altesaam 148 voorleggings met 25 name is deur die publiek ingedien. Van die individue se name is meer as een keer ingedien. Van die 25 name voldoen slegs agt persone aan die kriteria soos uiteengesit deur die president:

  • ʼn nominasiebrief met kontakbesonderhede van die persoon wat die nominasie indien;
  • die genomineerde se aanvaarding van die nominasie en hul kontakbesonderhede;
  • briewe ter ondersteuning van die nominasie met kontakbesonderhede van persone of entiteite wat die nominasie ondersteun, en minstens een brief van ʼn professionele organisasie van regspraktisyns of nieregeringsorganisasie wat in die veld van menseregte of enige ander regsveld werk; en
  • enige bykomende dokumentasie wat relevant kan wees vir die nominasie van die kandidaat as hoofregter.

Regter Navanethem (Navi) Pillay is voorsitter van die nominasiepaneel en hy het alle nominasies geassesseer en nagesien. Die agt name is soos volg (in alfabetiese volgorde):

  1. Regterpresident John Hlophe
  2. Regter Mbuyiseli Madlanga
  3. Regter Mandisa Maya
  4. Dr Wallace Amos Mgoqi
  5. Adv. Busisiwe Mkhwebane
  6. Regterpresident Dunstan Mlambo
  7. Adv. Alan Nelson, SC
  8. Adjunkhoofregter Raymond Zondo.

Suid-Afrikaners kan nou skriftelik terugvoer gee oor enige besware wat hulle teen enige genomineerde het. Stuur ʼn e-pos aan [email protected] en [email protected] voor 15 Oktober 2021 om 17:00.

Die paneel sal alle besware oorweeg voor ʼn kortlys van drie tot vyf name aan die president voorgehou word. Die paneel moet teen 29 Oktober die kortlys by die president indien.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê dit is ontstellend dat daar instellings en mense kan wees wat omstrede persone soos regter John Hlope en die huidige openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, kon nomineer vir die pos van hoofregter van Suid-Afrika.

“Mkhwebane se onbevoegdheid as OB is van só ’n aard dat daar tans ’n parlementêre proses gevolg word om van haar ontslae te raak. Wat Hlope, regterpresident van die Wes-Kaap betref, het die Regterlike Dienskommissie (RDK) die parlement reeds in Augustus vanjaar ingelig dat hy in ’n staat van beskuldiging geplaas is weens ’n beskuldiging van onbehoorlike beïnvloeding.”

Luidens mediaberigte het groepe soos die Black Lawyers Association en Democracy in Action, vir Mkhwebane en Hlope genomineer.

“Hierdie twee persone se omstredenheid is juis in botsing met dít wat verwag word van persone wat bo verdenking ten opsigte van alle aspekte van die reg moet wees. Die VF Plus sal daarom ten sterkste beswaar aanteken teen die moontlike aanstelling van enige van hierdie twee persone as hoofregter.”

Groenewald sê die proses moet nou sy verdere loop neem en die VF Plus sal wag vir die paneel van regter Dhaya Pillay wat ’n kortlys van tussen drie en vyf regters aan president Cyril Ramaphosa moet voorlê. “Die president sal alle politieke leiers daarna om hul mening vra en na aanleiding van die nominasies sal ek as leier van die VF Plus my besware aanteken indien nodig.”

Hy sê die nominasie van mense soos Hlope en Mkwebane wys daar is groot fout in Suid-Afrika en die VF Plus beskou dit as ’n aantasting van die integriteit van die land se regstelsel wanneer sulke mense genomineer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pio ·

Kader ontplooing!! Duidelik is CR op diesefde afdraendepad as Zuma!

Chris dupreez ·

Dit maak dit baie makliker vir Raymond Zondo om die pos te kry.

Hennie J ·

Jou werklikwaar. Hoe dikvellig kan Hlope en Mkhwebane wees om nominasie te aanvaar. Nog erger, die insluiting van hulle name op die kortlys bewys net die gebrek aan integriteit van die sogenaamde paneel.

Kokerboom ·

Mag redelikheid, regverdigheid, nugtere oordeel en realismr seëvier!!!Anders…..!!!!

Perdeby ·

No 7 is net daar om te kan se daar is ‘n blanke in en no 5 is ek baaaie bekommerd, want hulle se sy is dan nie bevoeg in haar huidige pos nie. ????? en so no 1 ook.

Kobus ·

Is dit die 1e April? Dit moet ‘n grap wees. Regtig? Hlope en Mkwebane?

Pieter ·

Net lede van die African National Criminals op die lys…..

Blomme ·

Is anderkleuriges regtig nie meer deel van bevoegdes om in aanmerking te kom vir enige posisie in die land nie? Wanneer gaan ons begin kyk na kwaliteit en begin werk op meriete. Ons land is reeds in chaos agv velkeur aanstellings!

Marcello ·

Ek stem 100% saam, hoe kan hulle die twee omstrede mense oorweeg ????

Piet parys ·

So die een korrupte lot nomineer weer onbevoegdes en dit is sag gestel.

fs ·

Mkwebane, Hlope… regtig !!! my maggies ek dink ek is in ‘n nagmerrie waaruit ek nie kan ontsnap nie! Mag daar asseblief ‘n wonderwerk gebeur en Regter Zondo aangestel word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.