Kortlys vir SAUK-raad bekend gemaak

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie het ’n kortlys van 12 mense bekend gemaak om die vier vakante posisies op die SAUK-raad te vul.

Die vier vakante posisies op die ewig onstabiele raad het ontstaan weens drie bedankings en een persoon wat haar aanstelling van die hand gewys het.

Die drie bedankings was Rachel Kalidass (omdat sy meen die nominasie van iemand soos Alan Mukoki, oor wie se kop verskeie bewerings van korrupsie en bedrog hang, as SAUK-hoofamptenaar is onaanvaarbaar), die ANC-ampsdraer Febe Potgieter-Gqubule en die sakeman Victor Rambau van SA Brouerye.

Een raadslid, Nomvuyiso Batyi, het besluit om nie haar aanstelling te aanvaar nie.

Tydens ’n vergadering vanoggend het die portefeuljekomitee 12 mense gekortlys met wie daar volgende Dinsdag onderhoude gevoer sal word vir die vier vakatures.

Phumzile van Damme, DA-LP en lid van die portefeuljekomitee, het gesê haar party sal mense nomineer wie se integriteit onkreukbaar is, kundigheid onbesproke en verbintenis tot openlikheid en onpartydigheid volkome is.

Die twaalf genomineerdes op die kortlys is:

* Kevan Jones, uitvoerende direkteur van die Suider-Afrikaanse Kommunikasie-industrievereniging;

* Adv. Benito Lekalakala, voorheen van die Gautengse Dobbelraad en Standard Bank, en tans sekretaris van die Ekurhuleni Metroraad;

* Thabo Leshilo, oudredakteur van die koerant Pretoria News;

* Diliza Madikiza, skrywer en navorser met ’n MBA van die Universiteit van Liverpool;

* Unathi Magwentshu, finansiële direkteur van Masana Petroleum Solutions;

* Vuyokazi Makhubalo, ’n geoktrooieerde rekenmeester;

* Mathews Mofokeng van die Internasionale Finansieringskorporasie, vroeër verbonde aan die regsfirma Edward Nathan Sonnenberg;

* Bernedette Muthien, ’n stryder vir vroueregte;

* Mergen Naidoo, ’n senior bankamptenaar;

* Thozama Nene, groephoof: menslike hulpbronne by KTH;

* Michael Nurick, ’n geoktrooieerde rekenmeester en finansiële hoofamptenaar van die Goldrush-groep; en

* Jasmina Patel, direkteur van interne oudit aan die Universiteit van Limpopo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

willie ·

Daar is soveel politieke inmenging en voorskrifte dit maak regtig nie saak wie gekies word nie!

vissie ·

Wat van een persoon uit die top ses politieke partye….dan is dit mos bietjie meer teenwoordigend aangesien ons betaal vir die lisensies en eensydigheid net weer sal lei tot bedrog en korrupsie.

Realis ·

Word hierdie mense betaal, terwyl hulle so in die strate sing en dans?!

Swartwolf ·

Mis vir Hlaudi – kyk hoe goed het sy strategie gewerk ?

Dinges ·

O wee. Nie een persoon op die kortlys het die ervaring van wat moderne uitsaaiwese behels nie. Misoes.

riaan ·

En waar is die verteenwoordiging van die SA bevolking????????

Stel aan wie julle wil WANT NIKS SAL VERANDER NIE!

Die sauk is ‘n mondstuk vir die anc en ander partye soos DA KAN NIKS DAARAAN DOEN NIE!

Gelukkig befonds ek nie die sauk met ‘n tv lisensie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.