Kosbare, skaars viool uit huis gesteel

Dié waardevolle viool is uit ‘n musikant se huis in Centurion gesteel. (Foto: Verskaf)

ʼn Musikant van Centurion se hart is gebreek nadat sy viool van “onskatbare waarde” die dag na Kersfees gesteel is.

Die viool dateer uit die 1800’s en is een van die laaste viole wat deur die vioolmaker Enricus Ceruti in Italië gemaak is. Ceruti is een van die bekendste vioolmakers ter wêreld.

“Die viool is duisende rande werd, amper soveel soos my huis. Maar ek gee amper nie om oor die geld nie. Dis die sentimentele waarde daarvan wat vir my ʼn selfs groter verlies is,” vertel Gerhard van der Merwe, ʼn musiekonderwyser en musikant van Centurion. Van der Merwe se ouma en oupa het die viool in matriek by sy musiekonderwyser gekoop en as geskenk vir hom gegee. Sy musiekonderwyser het die viool geërf en het nie nut daarvoor gehad nie. “My oupa en ouma het juis die viool ten duurste vir my gekoop, omdat ek toe al baie kompetisies met die instrument gewen het,” vertel Van der Merwe. “Dit is die een besitting waaraan ek die meeste waarde heg en my hart is in stukke.”

Van der Merwe (27) is die dag ná Kersfees deur een van sy huurders ontbied, wat gesien het hulle is besteel toe sy die oggend van vakansie af terugkeer. Van der Merwe was self by familie in Bela-Bela (Warmbad) vir Kersfees. “Dit moes die aand van die 25ste of vroeg die 26ste gebeur het, want die diewe het die yskasdeure oop gelos en die ys was nog nie eens gesmelt nie,” sê Van der Merwe.

Van die viole wat uit ‘n musikant se huis in Centurion gesteel. (Foto: Verskaf)

Hy het ʼn musiekateljee by die huis waar hy verskeie instrumente stoor. Talle van dié instrumente, waaronder ses ander viole en ʼn klawerbord, is ook gesteel. Die diewe is ook fort met sy skootrekenaar, TV’s en sy hele opnamestelsel. Die skade beloop honderde duisende rande, sê Van der Merwe.

“Die diewe het die deur van die musiekateljee oopgebreek. Hulle moes geweet het daar is instrumente daar wat baie werd is.”

Sy grootste vrees is nou dat die viool iewers op ʼn ashoop gaan beland, omdat die diewe nie die viool sal kan verkoop sonder die registrasiedokumente wat nog in Van der Merwe se besit is nie. “Geen versamelaar sal die viool koop sonder die papiere nie.”

Van der Merwe het nie die viool se diefstal by die polisie aangemeld nie, omdat hy dit nie van sy versekering kan terugeis nie, maar het foto’s van die viool en inligting oor die diefstal aan musiekwinkels in en om Pretoria verskaf met die hoop dat hulle die viool kan help opspoor.

Enigiemand met inligting oor die viool kan Van der Merwe by 081 8600 522 of 072 941 1173 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.