Koshuishoof getuig oor video in Parktown Boys High-saak

Parktown Boys High School (Foto: Google Maps Street View)

WAARSKUWING: Die artikel bevat grafiese inligting wat nie geskik is vir sensitiewe lesers of kinders nie.

Die staat het Vrydag ʼn laaste staatsgetuie geroep in die saak teen die voormalige waterpolo-afrigter van Parktown Boys High School, Collan Rex.

Die staatsgetuie het die hof vertel van kringtelevisiebeeldmateriaal waarop hy afgekom het wat tot Rex se inhegtenisneming gelei het.

Staatsaanklaer Arveena Persad het Vrydag Christian Bossert, onderwyser en direkteur van die koshuis, voor die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof geroep. Bossert het die hof vertel van ʼn voorval op 29 Oktober 2016 waar hy op kringtelevisiebeeldmateriaal gesien het hoe Rex ʼn leerder seksueel aanrand.

Die 22-jarige voormalige afrigter staan tereg op verskeie aanklagte, waaronder verkragting, seksuele aanranding, dat hy ʼn kind aan pornografie blootgestel het, dat hy kinders seksueel voorberei het en poging tot moord. Hy het skuld beken op 144 aanklagte van seksuele aanranding van 12 seuns. Daar is altesaam 23 seuns, tussen 14 en 16, wat na bewering slagoffers is. Hy het skuld ontken op 183 van die 327 aanklagte teen hom.

“Die seun het my op 3 November 2016 kom sien en gesê hy is verantwoordelik vir die waterpolokeppies en hy het die sak in een van die gemeenskapskamers gelos. Hy het my versoek om na die kringtelevisiebeeldmateriaal te kyk, want hy het gedink iemand het dit gesteel,” het Bossert getuig.

Hy was besig met merkwerk toe die seun hom versoek het om na die beeldmateriaal te kyk. Hy het toe gesien hoe Rex met een van die seuns se tepels speel. Hy het sy vrou vertel van dit wat hy gesien het. Sy het vir die seun gesê hy moet nie enigiets verder sê voor daar verder ondersoek ingestel is nie. Bossert het gesê die seun het vir hom gesê Rex vat altyd aan hulle en stoei met hulle.

“Die seun het gesê Rex het altyd gesê ‘it’s the Rex way’,” het Bossert getuig.

Hy het ook gesien hoe Rex ʼn seun se bene vryf voor hy iets vir hom sê. Die seun het daarna opgestaan, sy klere uitgetrek en het net ʼn kortbroek aangehad.

Hy het gesien hoe Rex met die seun se tepels speel voor hy ook aan sy geslagsdele geraak het oor sy kortbroek. Volgens Bossert wys die video hoe Rex aan die seun bly vat, al het die seun hom weggedruk. Hy het uiteindelik sy hand in die seun se kortbroek ingedruk en hom na een van die koshuiskamers weggelei.

“Ek het dadelik die skoolhoof, hoof van die skoolbeheerliggaam en die seun se ma gebel. Toe hulle opgedaag het, het ek vir hulle die beeldmateriaal gewys en hulle het ingestem dat mnr. Rex in hegtenis geneem moet word.”

ʼn Seun het die afgelope week getuig Rex het hom na sy kamer genooi vir warmsjokolade en het daarna orale seks op hom uitgevoer.

William Robertse, vir die verdediging, het gesê Rex sal ontken dat dit gebeur het, want hy het saam met nog ʼn koshuishoof en rugbyafrigter gebly.

Die staat het sy saak afgesluit nadat hy 17 van sy 23 getuies geroep het.

Die saak hervat volgende week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.