’n Prokureur het namens sommige inwoners en oudinwoners van Huis Marais, die Stellenbosse manskoshuis wat van volgende jaar af studente van albei geslagte wil huisves, ’n brief aan die bestuur van die Universiteit Stellenbosch gestuur met ’n versoek om die proses op te skort.
In die brief van ses bladsye sê die Stellenbosse prokureur Dirk van Niekerk dat hy optree op aandrang van die huidige leierskap van die koshuis sowel as sommige oudinwoners, wat nie geïdentifiseer word nie.
Luidens die brief onderneem die koshuis om werk daarvan te maak om op ’n heilsame manier in te skakel by die etos van die universiteit en dit te ondersteun. Die koshuis voer trouens aan dit word reeds die afgelope jaar gedoen, maar dat gebeure soos die koronavirus sulke aksies bemoeilik.
Die brief stel dit voorts dat die huidige besluit van die universiteit dat die koshuis aanstaande jaar geen nuwe eerstejaars kry nie en stelselmatig tot ’n koshuis vir mans en dames omskep word, die afgelope maand herhaaldelik deur die leierskap van die koshuis met die universiteit bespreek is, maar dat die universiteit aangedui het die besluit is finaal, al is die nuwe huiskomitee pas verkies.
Dit volg op die besluit van die universiteit dat die bogenoemde veranderinge aan die koshuis gaan plaasvind omdat die koshuis die afgelope elf maande nie daarvan werk gemaak het om spesifiek drie kernwaardes, naamlik gelyke hantering van lede van alle rassegroepe, respek vir vroue en verantwoordelike alkoholgebruik, te onderskryf en uit te leef nie.
Luidens die prokureursbrief oorweeg die huidige en oudinwoners van die koshuis namens wie opgetree word, dit dus nou om die hooggeregshof te nader sodat die besluit ongeldig verklaar kan word.
In die lig hiervan word die datum aangevra waarop die rektoraat die besluit oor die toekomstige aard van Huis Marais geneem het, asook die agenda en notule van die tersaaklike vergadering(s), die presiese bewoording van die voorstel wat aanvaar is, enige voorleggings wat in verband met die voorgestelde planne ingedien is en enige appèlprosedure wat vir diegene namens wie die prokureursbrief geskryf is, mag bestaan.
Die aanspraak op hierdie inligting word luidens die brief gemaak kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) en die universiteit word versoek om sy optrede rakende die omskakeling van Huis Marais na ’n koshuis vir albei geslagte te staak tot twee weke nadat die inligting wat aangevra word, ontvang is.
Indien die universiteit dit nie doen nie, word in die brief onderneem dat die hooggeregshof gevra sal word om die universiteit te verplig om dit wel te doen.
Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, het ontvangs van die brief erken en gesê die Universiteit Stellenbosch oorweeg tans sy opsies in hierdie verband.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
15 Kommentare
Haal die naam af want marais draai in sy graf om, en sit rooi lig waar naam was. Haal dit ook maar weer af maroela. Ondersteun julle die bordeel?
Dis absurt om koshuise oop te maak vir beide geslagte. Dis verregaande. Ons ouers soek veilige koshuise en nie bordele nie.
US het al vêr geval sedert ek daar weg is in die laat 80’s????
NWO neigings. Alles wat etles en korrek is en was, moet vernietig word!!!!!!! Word vanuit die hel aan die brand gesteek.
Wat het met Stellenbosch Universiteit gebeur? Dit was eens op ‘n tyd DIE universiteit. Het dit soos alles begin om na 1994 afdraande te gaan,….die universiteit EN die personeel!