Koshuismoord: Beskuldigde se prokureur onttrek

Thabani Mzolo en Charl Claassen vroeër in die hof. Claassen het hom aan die saak onttrek omdat hy nie betaal is nie. Foto: ANA.

Die verhoor van ʼn student van die Mangosuthu-Universiteit van Tegnologie se vermeende moordenaar is Maandag uitgestel omdat sy prokureur nie vir sy dienste vergoed is nie.

Thabani Mzolo (24) word daarvan beskuldig dat hy die eerstejaar Zolile Khumalo (21) op 1 Mei vanjaar in haar Lonsdale-koshuiskamer vermoor het en daarna in ʼn reeks inskrywings in die sosiale media oor sy misdaad gebieg het.

Die saak in die hooggeregshof in Durban is vandag tot 15 Oktober uitgestel nadat Mzolo se regsverteenwoordiger, Charl Claassen, gevra het om hom aan die saak te onttrek. Hy het aan die hof gesê is hy is nie betaal nie.

Die staat beweer dat Khumalo haar verhouding met Mzolo in Maart of April vanjaar beëindig het. Volgens die akte van beskuldiging het die beskuldigde dit nie aanvaar nie. “Hy het toe besluit om haar om die lewe te bring.”

Zolile (Zoe) Khumalo. Foto: Facebook

Mzolo het daarna glo na die oorledene se koshuis naby die Durbanse middestad gegaan en toegang verkry deur ʼn medestudent te vra of Khumalo in haar kamer is.

Mzolo het haar na bewering voor haar kamermaat en dié student wat haar gaan soek het, doodgeskiet. Hy het haar glo ook geskop.

Met sy eerste hofverskyning op Donderdag 3 Mei het Mzolo hom die gramskap van studente en die gemeenskap op die hals gehaal toe hy pal vir fotograwe gegrynslag het en gelyk het asof hy ʼn gebaar maak soos iemand wat ʼn sneller trek, het Maroela Media berig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.