Koshuismoord: Ekskêrel terug in beskuldigdebank

Thabani Mzolo in die hof 10 Mei 2018/. Foto: ANA.

Dit blyk of die gewigtigheid van die saak eindelik by Thabani Mzolo (23), die man wat daarvan beskuldig word dat hy Zolile Khumalo (21) doodgeskiet het, ingesink het toe hy Donderdag in die Durban-landdroshof verskyn het.

Mzolo, wat al ʼn week in die Westville-gevangenis in KwaZulu-Natal aangehou word, het nie Donderdag herhaaldelik vir die kameras geglimlag soos verlede week nie.

Genl.maj. Bheki Langa, die waarnemende polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, asook Bongani Mkongi, adjunkminister van polisie, het die hofsaak bygewoon.

Khumalo, ʼn student aan die Mangosutho- Universiteit van Tegnologie (MUT) in Durban, is 1 Mei doodgeskiet in die koshuis waar sy gewoon het.

Mzolo was glo vroeër in ʼn verhouding met Khumalo. Hy word nou daarvan beskuldig dat hy haar verskeie kere geskiet het ná ʼn reeks plasings op sosiale media waarin hy glo skuld erken het.

Mzolo was glo in 2017 ʼn student by MUT, maar het vanjaar nie meer studeer nie en toegang tot die koshuis verkry via ʼn ander student voor hy Khumalo glo geskiet het.

Landdros Mohamed Motala het die saak tot 17 Mei uitgestel vir aansoek om borgtog en het vir Charl Classen, Mzolo se prokureur, gesê Mzolo se adres moet eers geverifieer word voor enige aansoek om borgtog oorweeg sal word.

Volgens Motala is die Umhlanga- en Estcourt-adresse wat hy aan die ondersoekbeampte voorsien het “negatief”.

Staatsaanklaer Khanyi Gcwabaza het gesê alhoewel Mzolo se ouma by die Estcourt-adres woon, het sy bevestig dat haar kleinseun net elke nou en dan inloer en geen bates by haar huis het nie.

Mzolo staan tereg op ʼn skedule ses-aanklag, wat beteken dat borgtog slegs toegestaan mag word indien buitengewone omstandighede bewys word.

Die universiteit het Donderdag ʼn dag van rou gehou en alle klasse vir die dag is afgeskaf.

Honderde studente, politici en geslagsaktiviste het hul weg na die hof gemaak ter ondersteuning van Khumalo. Dié vreedsame optog het onder swaar polisiebewaking vanaf die Lonsdale-koshuis waar die misdaad plaasgevind het, tot by die hof beweeg.

Bathabile Dlamini, minister in die presidensie wat verantwoordelik is vir vroue, het haar by die optog aangesluit en aan die media gesê geen vrou moet vermoor word omdat sy “nee” sê nie.

“ʼn Vrou het die reg om nee te sê. Ons doen ʼn beroep op alle organisasies en verskeie sektore om aan te sluit by die geveg teen geweld teen vroue en kinders, en ook op die wetgewer om te fokus op die kwessie van ʼn minimumvonnis asook hoe dié sake hanteer word.”

Mkongi het laat hoor dat die vuurwapen wat tydens die pleeg van die moord gebruik is se reeksnommer glo afgevyl is. “Ons gaan seker maak ons het ʼn waterdigte saak. Ons ondersoek of daardie wapen in die pleeg van enige ander misdade soos politiese of taxi-verwante moorde in KwaZulu-Natal gebruik is.”

Hy het bygevoeg die oorsprong van die “groot gewere” wat Mzolo op sosialemediaplasings vashou en wat soos ʼn tipe semi-outomatiese geweer lyk, is nog onbekend.

Volgens hom word Khumalo se gesin gereeld ingelig oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

p ·

Hoop hulle staan ook die vrou by wat hoogs swanger is ook by wat met die vius geslaan is by of is sy nou weer tewit miskien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.