Koshuismoord: Ekskêrel wys kru gebaar in hof

Zolile (Zoe) Khumalo (Foto: Sthembele Zolile, Facebook)

Thabani Mzolo (23), die man wat daarvan beskuldig word dat hy Zolile Khumalo (21) in haar universiteitskoshuis doodgeskiet het, het Donderdag doodluiters vir joernaliste in die hof middelvinger gewys.

Mzolo het Donderdag vir die derde keer in die Durban-streekhof verskyn. Hy is in die proses om vir borgtog aansoek te doen.

Mzolo het die kru gebaar teenoor joernaliste gemaak voordat landdros Mohammed Motala die hof verlaat het en Motala het hom daaroor aangespreek.

Die hof het Donderdag gehoor Mzolo het Khumalo glo twee keer geskiet en haar geskop terwyl sy op die vloer van haar koshuiskamer gelê het.

Bongani Mkongi, adjunkminister van polisie, wat die verrigtinge bygewoon het, het ná die tyd gesê die middelvinger-gebaar het hom baie kwaad gemaak.

“Dit wys ons dat dié hond nie enige berou het nie. Deur vir die mense van Suid-Afrika middelvinger te wys sê dit vir ons hy is bereid om weer te moor en het nie respek vir enigiemand nie, en dít boonop in die hof. Hy is nog in die beskuldigdebank dan wys hy vir die landdros en selfs vir ons, die polisie, middelvinger.”

Mzolo staan tereg op ʼn skedule 6-misdryf wat beteken dat die hof net borgtog kan toestaan indien buitengewone omstandighede bewys kan word. By sy verskyning verlede week het die hof gehoor Mzolo het ʼn vroeëre aanrandingsklag teen hom.

Sy adres word nog betwis en dit het aanleiding gegee dat sy aansoek om borgtog vandag tot 19 Junie uitgestel is.

Maroela Media het vroeër berig  Mzolo het by sy eerste verskyning in die hof herhaaldelik vir die kameras geglimlag en handgebare gewys wat lyk soos gewere ná afloop van sy verskyning.

Thabani Mzolo vroeër in die hof. Foto: ANA.

Daar was Donderdag weer sterk polisieteenwoordigheid in en buite die hof. ʼn Kleiner as gewoonlik groepie studente het buite die hof saamgedrom ter ondersteuning van hul vriend.

Khumalo, ʼn student aan die Mangosutho-Universiteit van Tegnologie (MUT) in Durban, is op 1 Mei doodgeskiet in die koshuis waar sy gewoon het. Mzolo was glo vroeër in ʼn verhouding met Khumalo. Hy word nou daarvan beskuldig dat hy haar verskeie kere geskiet het ná ʼn reeks plasings op sosiale media waarin hy glo skuld erken het.

Mzolo was glo in 2017 ʼn student by MUT. Hy is tans nie ʼn ingeskrewe student nie en het toegang tot die Lonsdale-koshuis verkry via ʼn ander student voordat hy Khumalo glo geskiet het.

Khumalo is Saterdag op haar tuisdorp, eShowe, begrawe.

Die universiteit het erg onder kritiek deurgeloop na die moord en het sedertdien gesê hul sal metaalverklikkers by die koshuise oprig.

Mkongi het Donderdag ná die verrigtinge saam met Khumalo se gesin die misdaadtoneel besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Nie ‘n manier wat hierdie man borgtog mag kry nie. Hy steur hom reeds nie aan wat aanvaarbaar is en wat nie. Waarom sal hy borgtog respekteer??

Judge Dredd ·

Moet die linkse liberales en media nie nou op hulle perdtjie spring want die adjunkminister van polisie het na hom as ‘n hond verwys nie?

Reguit ·

Dit was blykbaar nie ‘n kru gebaar nie. Dit is na bewering die algemene Azaniese simbool wat gebruik word om aan te dui dat Azanië in die nommer een (beste) posisie in die wêreld is. Laat ons trots wees daarop. Ons is mos immers reënboogkinders. Azania number one.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.