Koshuismoord: Verdediging onderhandel oor aanklag

Mzolo en Claassen vroeër in die hof. Foto: ANA.

Thabani Mzolo (24), die man wat daarvan beskuldig word dat hy Zolile Khumalo (21) in haar universiteitskoshuis doodgeskiet het, se verhoordatum is Woensdag in die Durban-landdroshof vasgestel.

Mzolo het vlugtig verskyn en sal van 8 tot 12 Oktober verhoor word.

Khumalo, ʼn student aan die Mangosutho-Universiteit van Tegnologie (MUT) in Durban, is op 1 Mei doodgeskiet in die koshuis waar sy gewoon het. Mzolo was glo vroeër in ʼn verhouding met Khumalo. Hy word nou daarvan beskuldig dat hy haar verskeie kere geskiet het. In ʼn reeks plasings op sosiale media het hy glo skuld beken.

Die hof het Woensdag gehoor dat daar tot soveel as 20 getuies tydens die verhoor geroep kan word.

Die staat voer aan dat Khumalo die verhouding wat sy met Mzolo gehad het in Maart of April vanjaar beëindig het. Volgens die staat is die beëindiging van die verhouding nie deur Mzolo aanvaar nie. Die staat voer aan hy het gevolglik besluit om haar te vermoor.

Mzolo het glo toegang tot die koshuis, wat nie op kampus is nie, verkry deur ʼn ander student te stuur om te gaan kyk of Khumalo in haar kamer is.

Mzolo het glo vir Khumalo doodgeskiet ten aanskoue van haar kamermaat en die student wat gaan kyk het of sy in haar kamer is. Volgens die klagstaat het Mzolo vir Khumalo gekonfronteer en haar aangespreek omdat sy ʼn gek van hom gemaak het.

“Hy het die vuurwapen uit sy sak geruk en skote in die oorledene se rigting afgevuur, sy is noodlottig gewond.”

Die reeksnommer van die wapen was verwyder. Mzolo het glo ook drie patrone by hom gehad.

Mzolo het tydens sy eerste verskyning in die hof studente en lede van die publiek warm onder die kraag gehad omdat hy heeltyd vir joernaliste geglimlag het en gebare met sy hande gewys het wat lyk soos gewere toe hy die hof verlaat.

Hy het later in die hof ook vir joernaliste middelvinger gewys.

Charl Claassen, Mzolo se prokureur, het Woensdag aan African News Agency gesê dat hy steeds met die staat onderhandel namens sy kliënt. “Die aanklag is moord met voorbedagte rade, maar ons wil onderhandel vir moord.”

Claassen het gesê Mzolo, wat tans in die Westville-gevangenis aangehou word, “vaar baie goed”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

PJC ·

Ek hoop die persoon wat hom vehoor wys hom ook ń middelvinger soos wat hy met ander mense doen.

marous ·

Vat ‘n onwettige wapen , steek dit in jou sak weg , gaan doen navraag of sy daar is . Gaan dan en skiet haar dood en nou wil hulle aanvoer dat dit nie met voorbedagte rade is nie ? Enige eerste jaar regstudent sal giggel oor die redenasie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.