Kosmandjie effe goedkoper dié maand

Die algehele prys van ʼn gemiddelde kosmandjie dompel huishoudings in ʼn krisis. (Foto: Maroela Media)

Die gemiddelde prys van ʼn kosmandjie was in Februarie effe laer, aldus die jongste Household Affordability Index-verslag deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD).

Luidens dié data was die gemiddelde prys van ʼn huishoudelike kosmandjie in Februarie R5 277,30.

Dit is R47, 56 (0,9%) minder as verlede maand, maar steeds heelwat hoër as ʼn jaar tevore.

In Februarie verlede jaar was die algemene prys van ʼn huishoudelike kosmandjie R348,96 (7,1%) goedkoper as wat verbruikers nou moet betaal.

Die PMBEJD sê dit is juis die algehele koste van ʼn kosmandjie wat huishoudings in krisis dompel, en nie noodwendig die wisselende pryse van individuele kositems nie – hoewel dít verbruikers ook gedurig looi.

Die probleem is dat die kosmandjie in verhouding tot verbruikers se inkomste steeds te duur is. Die PMBEJD sê dit is veral vroue wat sukkel om die pas vol te hou omdat hulle gewoonlik vir kosaankope en ander huishoudelike items verantwoordelik is.

Luidens die verslag sal vroue dikwels hul eie voeding opoffer om te verseker dat ander noodsaaklike huishoudelike uitgawes nagekom kan word.

“Tensy die randwaarde-koste van die huishoudelike kosmandjie aansienlik daal, of as inkomstevlakke aansienlik styg – sal vroue vanjaar sukkel om hul gesinne teen ’n minimale voedingvlak te voed.”

Die PMBEJD waarsku ook dat ʼn afname in die pryse van 29 individuele kositems nie ʼn aanduiding is dat pryse in die toekoms laer gaan wees nie.

Die dalings wat verbruikers nou sien, is nog steeds nie van so ’n aard dat dit beduidende verligting ten opsigte van die bekostigbaarheid van ’n huishoudelike kosmandjie of trollie sal bied nie.

“Vroue is steeds onder enorme druk om te verseker dat basiese kos op hul gesinne se borde is, en dat selfs net klein hoeveelhede voedsame kos vir hul kinders beskikbaar is.

“Vroue het ons meegedeel dat die jaar nie baie goed begin het nie. Kospryse en ander noodsaaklike items en dienste is steeds baie hoog in verhouding met hul inkomste. Dié vroue moes meer skuld aangaan in pogings om gate toe te stop. Dit plaas nog meer druk op die bietjie geld wat in die huishouding inkom. Om dié rede sal 2024 waarskynlik nog ʼn moeilike jaar vir gesinne en families wees.”

Statistieke Suid-Afrika se jongste Verbruikersprysindeks vir Desember 2023 wys dat hooflyninflasie op 5,1% staan, terwyl inflasie vir nie-duursame goedere onderskeidelik 8,4%, 7,7% en 6,8% was. Kosinflasie was 8,5%.

Dié kositems is effe duurder

Kositems wat in Februarie 2% of meer duurder is, is suikerbone (4%), beeslewer (2%), wors (2%), wortels (2%), spinasie (11%) en Cremora (2%). Lemoene is tans ook baie duurder omdat dié vrugte nog nie heeltemal in seisoen is nie.

Dié kositems is effe goedkoper

Kositems wat in Februarie 5% of meer goedkoper was, sluit onder meer in aartappels (-5%), aftrekselblokkies (-7%), sop (-5%), eiers (-8%), hoenderpote (-6%), hoenderlewer (-7%), beesvleis (-5%), tamaties (-9%), botterskorsie (-12%), groenrissies (-20%), piesangs (-14%) en appels (-9%).

Kositems wat 2% of meer goedkoper was, sluit in mieliemeel (-2%), rys (-2%), kookolie (-2%), sout (-3%), gevriesde hoenderporsies (-2%), kerriepoeier (2%), tee (-2%), vis (-3%), kool (-3%), polonie (-3%) en bruin brood (-2%).

Die gemiddelde prys van ʼn kosmandjie sou inwoners van Kaapstad, Johannesburg, Durban, Springbok, Pietermaritzburg en Mtubatuba minder as verlede maand gekos het.

Die Johannesburg-kosmandjie (R5 358) het met R4,24 (-0,1%) teenoor Januarie vanjaar afgeneem, maar met R434,12 (8,8%) gestyg vergeleke Februarie verlede jaar.

Die Durban-kosmandjie (R5 263) het in Februarie met R99,43 (-1,9%) teenoor Januarie verminder, maar is R294,35 (5,9%) duurder as in Februarie verlede jaar.

Die Kaapstad-kosmandjie (R5 111) was in Februarie R106,17 (-2,0%) minder as in Januarie, en R168,60 (3,4%) duurder as Februarie verlede jaar.

Die gemiddelde kosmandjie in Springbok (R5 574) het verbruikers R46,66 (-0,8%) minder as verlede maand laat betaal, terwyl ʼn kosmandjie in Springbok nou R518,28 (10,3%) meer is as verlede jaar dié tyd.

’n Kosmandjie in Pietermaritzburg (R5 124) het verbruikers in Februarie R114,73 (-2,2%) minder uit die sak gejaag as verlede maand, maar R372,28 (7,8%) meer as in Februarie 2023.

Die Mtubatuba-kosmandjie (R5 388) was in Februarie R79,27 (-1,4%) minder as die vorige maand, en R253,04 (4,9%) meer as die vorige jaar.

Algemene werkers kry swaar

Die minimum loon in die land staan tans op R25,42 per uur en R203,36 vir ʼn agt uur lange werkdag. Met 21 werksdae in Februarie was die maksimum minimum loon vir ʼn algemene werker R4 270,56 – dit is minder as die prys van ʼn gemiddelde kosmandjie.

Dié minimum loon moet boonop werkers se afhanklikes ook onderhou. Die gemiddelde swart Suid-Afrikaner het vier afhanklikes.

Sou ʼn werker se minimum loon dus tussen vier mense verdeel word, beteken dit daar is R1 067,64 per afhanklike. Dit is onder die broodlyn van R1 558 per persoon per maand.

Luidens die verslag het ʼn basiese voedsame kosmandjie vir ʼn gesin van vier in Februarie R3 680,83 gekos.

Gegrond op die prys van elektrisiteit en vervoer in Pietermaritzburg, bestee algemene werkers 60,6% van hul minimum loon aan dié uitgawes.

Eers daarna word kos gekoop.

Dit beteken daar is veels te min geld oor om genoeg voedsame kos aan afhanklikes te voorsien,

Die verslag dui verder aan dat dit in Februarie R938,25 gekos het om ʼn voedsame dieet vir ʼn kind te verskaf.

Huishoudelike en persoonlike higiëne-items

Die indeks vir huishoudelike en persoonlike higiëne-items dui op ʼn toename van R16,90 (1,7%) vir Februarie, en ʼn jaarlikse styging van R96,19 (10,4%). Dit bring die gemiddelde koste van dié items in Februarie op R1 022,71 te staan.

Dit is alles produkte wat nodig is vir basiese higiëne, maar ding ook mee met noodsaaklike voedselitems.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karoo ·

Statestiek…. is ‘n wonderlike ding….en word 100% gemanupileer.

Janine ·

Ek dink ons Pick ‘n Pay en SPAR het die memo heeltemal gemis! Hul pryse gaan letterlik elke 2de/3de dag op. Ons koop al 11 jaar by die twee winkels, en kan die verhogings sien wanneer ons melk/brood ens gaan koop.

Papsak ·

Ek stem saam Pic n Pay en Spar is verskriklik uitermatig hoog met alles kan nie by hulle meer koop nie hulle sit elkw dag net op en op seker om salarisse te kan betaal mense julle maak die land dood pluk by regtig

willie ·

Ek weet nie waar hulle, aan hulle inligting kom nie. Ek koop self elke maand ons krydeniersware of die bietjioe wat ons kan koop en daar is elke maand n aansienlike verhoging aaan pryse.

Charllas ·

Nie seker wie die mense is wat die gedoen het nie maar duidelik het hulle niks feite nie of hulle het 1000de rande wat maar net rond lê – die goed is alles duurder. Eiers steeds duur, olie steeds duur, my kind se melk is op, die pap pryse is op ens. Osnwat van pay tot pay lewe is niks die maand goedkoper nie.

Catharina Maria ·

Daar kan gerus werklikheisreeks gemaak word. Deelnemers kry R5 000,00 en moet dan vir ‘n maand vir ‘n gesin van 4 (waarvan 1 tiener seun moet wees) kosmaak. Die geld moet alle etes en kosblikke vir skool dek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.