Kosmos-skieter het glo ‘lang geskiedenis met geweld’

Paul Prinsloo, Ruzanne Weideman, Magdalena Prinsloo, Kosmos, dubbelmoord, moord, skiet, Kosmos-skieter, Brits, landdroshof

Paul Prinsloo (62) Donderdag in die Brits-landdroshof. (Foto: Isabel Venter /Maroela Media)

Die sogenaamde Kosmos-skieter het ’n geskiedenis van geweld en sal glo ’n gevaar inhou vir die publiek sou hy met borgtog vrygelaat word.

Paul Prinsloo (62), wat van die dubbelmoord op sy vrou, Catherina Magdalena Prinsloo (58), en stiefdogter, Ruzanne Weideman, tereg staan, se borgtogaansoek het Donderdag in die Brits-landdroshof in Noordwes hervat.

Dié hof het Donderdag ook gehoor dat Prinsloo glo kort voor die moorde na bewering teenoor ʼn vriend gebieg het hy is op die punt om drie mense te skiet.

Volgens sers. Gregory Kwadi, wat die ondersoek sowat twee weke gelede oorgeneem het, het Prinsloo sy vriend Nico Pienaar meegedeel van sy planne. Prinsloo het egter nie aan Pienaar gesê wie dit is wat geskiet sou word nie, het Kwadi getuig.

Luidens die klagstaat het Prinsloo vooraf beplan om Magdalena en Ruzanne met sy eie jaggeweer in hul huis in Kosmos, Hartbeespoort, dood te skiet. Die voorval het op 27 November verlede jaar plaasgevind.

Volgens Kwadi was Prinsloo, Pienaar, die twee vroue en Ruzanne se sewejarige dogter by die huis.

“Soos ek verstaan het hulle [Prinsloo en Pienaar] bier gedrink, maar hulle was nie besope nie. En uit die bloute het hy [Prinsloo] die vroue geskiet.”

Ruzanne Weideman en haar ma, Magdalena Prinsloo (Foto: Facebook/Ruzanne Weideman)

Magdalena en Ruzanne is op die toneel dood. Volgens Kwadi het Pienaar die sewejarige meisie gegryp en met haar op die vlug geslaan.

“Prinsloo het vir hom die [motor]hek oopgemaak dat hulle kan wegry,” het Kwadi getuig. Sedertdien ontvang die meisie sielkundige berading “omdat sy met erge trauma sukkel”. Sy is tans in die sorg van haar biologiese pa.

Die ondersoekbeampte het ook verder getuig dat Prinsloo ʼn “lang geskiedenis met geweld” het.

Hy het verwys na ʼn eedsverklaring van Nici Hanly, ʼn suster van Magdalena, waarin sy vertel het hoe Prinsloo in 2016 na bewering gedreig het om haar en haar seun dood te skiet. Hanly se seun was toe 15 jaar oud.

“Hulle [Hanly en Magdalena se familie] vrees vir hulle lewens. Daar was maande wat hulle nie van Magdalena gehoor het nie. Hulle het haar probeer bel, maar dan antwoord sy nie. Soms het sy net van alle sosiale media af verdwyn. Dit [die inligting in die verklaring] dui op ʼn geskiedenis van geweld.”

Paul Prinsloo, Ruzanne Weideman, Magdalena Prinsloo, Kosmos, dubbelmoord, moord, skiet, Kosmos-skieter, Brits, landdroshof

Carlien Kleyn (57) en Nici Hanly (50), Magdalena se susters, Donderdag buite die hof, by ‘n plakkaat met Magdalena en Ruzanne se foto met die woord ‘geregtigheid’ daarop. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Hanly en Pienaar sal na verwagting later ook as staatsgetuies geroep word.

Kwadi het ook getuig dat Prinsloo ʼn gevaar vir homself inhou ná hy glo teenoor die eerste ondersoekbeampte, speursers. Dikgake Mabeni, gebieg het hy oorweeg selfdood.

“Hy het gehuil en drie keer gesê hy wil sy eie lewe neem,” het Kwadi getuig.

Prinsloo sal ook nie ʼn geskikte borgtog-aansoeker wees nie omdat hy moontlik landuit kan vlug. “Volgens die departement van binnelandse sake het sy paspoort in 2023 verval, maar hy het getuig hy het baie in Botswana gewerk. Ek glo hy sal, al het sy paspoort verval, soontoe probeer vlug.”

Adv. Zirk Pansegrouw, Prinsloo se regsverteenwoordiger, het met kruisondervraging Kwadi daarvan beskuldig dat hy “bevooroordeeld” is.

“Het jy in jou ondersoek slegs dié meriete ondersoek wat teen die applikant [Prinsloo] se guns tel? Jy het die feite, wat Prinsloo in staat stel om op borgtog vrygelaat te word, nie ondersoek nie,” het Pansegrouw betoog.

Kwadi het dit ontken en gesê sy ondersoek was gebalanseerd en regverdig. “Ek kan net vir die hof, gebaseer op die bewyse wat daar reeds is, meedeel hoekom borgtog teengestaan moet word.”

Paul Prinsloo, Ruzanne Weideman, Magdalena Prinsloo, Kosmos, dubbelmoord, moord, skiet, Kosmos-skieter, Brits, landdroshof

Paul Prinsloo (62) luister Donderdag na verrigtinge in die Brits-landdroshof. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Prinsloo het reeds in sy verklaring gesê daar is wesenlike redes wat sy vrylating regverdig. Hy het ook genoem sy gesondheid is reeds verswak en dat hy nie behoorlike behandeling in die tronk ontvang nie.

Volgens Prinsloo onthou hy ook nie veel van daardie noodlottige dag nie.

Magdalena was sy tweede vrou en volgens Prinsloo was daar soms onmin tussen hulle oor haar kinders. Hy het aangevoer hulle sou onder meer ʼn motorfiets as gesteel aanmeld om die feit te verbloem dat hulle dit verkoop het vir “dwelmgeld”.

Prinsloo se borgtogverrigtinge is Donderdagmiddag uitgestel sodat hy betyds terug by die tronk kan wees. Dit hervat volgende maand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Mens is nie veronderstel om te ‘haat’ nie, mar die ballie maak dit bitterlik moeilik.
Hy verdien nie parool nie. Hy verdien wel die galg.

Rooikopheks ·

Hy het goed geweet wat hy wil doen, nou is die toestande in tronk nie so lekker nie. Dis tyd dat hy sy “grootmens panties” aantrek en vrede maak waar hy nou is, hy verdien om in die tronk te wees.

Danie ·

Nie mooi gedink aan gevolge toe hy die sneller getrek het nie.Gooi die sleutels weg.

ES ·

Dis net te maklik om te se jy onthou niks nie. Hy verdien sy swaarkry in die tronk, hy gaan nog lank daar wees.

SANDRA ·

Hulle moet die sleutel weggooi.

Siestog, daars baie wetgehoorsame mense wat slegte mediese sorg kry. Wat maak hom anders.

Daardie kind sit met jare lange skade as gevolg van sy dade.

Sy sogenaamde vriend wat geweet het hy gaan skiet moes iets gedoen het.

Woes ·

geskiedenis van geweld, maar steeds in besit van ‘n vuurwapen

Bolandse Nooi ·

@Al die kommentators hierbo … het julle al gehoor van “onskuldig tot skuldig bewys”? Ek sê nie die man is onskuldig nie; maar julle het hom sommer al klaar verhoor, skuldig bevind, veroordeel en gestraf.

Dink so daaraan: hy het waarskynlik ook familie, kinders, sibbe … mense wat seerkry as julle die “ou ballie” so sleg uitskel en sê hy verdien om tronk toe te gaan en die sleutel van die tronksel weggegooi te word.

SjN ·

Ek verstaan nie, sy hofverrigtinge uitgestel sodat hy betyds by die tronk kan wees, werk almal dus net van 8 tot 5nm, dus hoekom die land in so n gemors is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.