Kosmos-skieter se gesondheid bly verswak

Ruzanne Weideman (links) en haar ma Magdaleen saam met Paul Prinsloo in gelukkiger tye. (Foto’s: Verskaf)

Paul Prinsloo, die sogenaamde Kosmos-skieter, het Maandag ʼn aanvullende verklaring ingedien oor hoe sy gesondheid oënskynlik agter tralies verswak.

Die 62-jarige moordverdagte meen dis steeds dwingende redes vir waarom hy vrygelaat moet word. Sy borgtogaansoek het Maandag in die landdroshof in Brits, Noordwes, hervat.

Prinsloo word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Catherina Magdalena Prinsloo (58), en stiefdogter, Ruzanne Weideman, met sy eie jaggeweer doodgeskiet het.

Die staat staan Prinsloo se aansoek teen. Sers. Gregory Kwadi, wat die ondersoek intussen oorgeneem het, het getuig Prinsloo het glo teenoor ʼn vriend gebieg oor sy planne om ma en dogter te skiet.

Die voorval het op 27 November verlede jaar plaasgevind.

Volgens Kwadi was Prinsloo, Pienaar, die twee vroue en Ruzanne se sewejarige dogter by die huis.

Prinsloo het hulle glo ten aanskoue van die meisie doodgeskiet.

Adv. Zirk Pansegrouw, Prinsloo se regsverteenwoordiger, het Maandag onder meer ʼn verklaring by die hof ingedien waarin daar vertel word van sere onder Prinsloo se arms.

Thomas David Pritchard, Prinsloo se opdraggewende prokureur, getuig in die verklaring hy het die sere opgemerk toe hy met hom in die hof se aanhoudingselle probeer konsulteer het.

“Dit blyk dat hierdie sere gevorm het sedert die applikant se vorige hofverskyning op 24 Maart. Dit was nie bekend aan die regspan nie, weens die uitdagings om met hom te konsulteer,” getuig Pritchard.

Hy het ook die hof meegedeel dat hy en Pansegrouw al vir weke sukkel om met Prinsloo in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria te konsulteer. Dit is glo weens administratiewe rompslomp, voer Pritchard aan.

Verder het Pansegrouw ontken dat Prinsloo ʼn gevaar vir homself inhou en homself om die lewe sal bring sou hy vrygelaat word.

“As hy dit wou doen sou hy dit mos gedoen het na die beweerde voorval,” het Pansegrouw betoog.

Dit volg ná Kwadi getuig het Prinsloo het glo na die voorval aan die polisie gesê hy wil homself skiet.

Prinsloo se borgtogverrigtinge is hierna tot later vandeesmaand uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Casper ·

Hy was oortuig hy sou nie gearresteer word nie en daarom het hy nie toe selfmoord gepleeg nie maar nou dat hy besef hy is vas verander die prentjie en besef hy ook hy gaan nooit weer vry wees nie vanwee sy ouderdom.

Jannie ·

En? Hy kan maar vergaan agter tralies – hy verdien niks beters nie.

Di ·

Dis skokkend dat moordenaars spesiale behandeling verwag in die tronk. Hulle moet hom maar in die die gevangenis behandel waar hy hoort

Elmarie ·

Hy moet die gevolge van sy dade dra. Hy is nog nie eers skuldig bevind nie en begin klaar die taktiek oor medies vrylating

Republikein in die Wes Kaap ·

As mens so na die foto van Prinsloo langs sy bruid kyk en sy voorkoms vandag dan staan mens verstom. Dieselfde met fotos van De Jager jare gelede langs sy vrou en dan later in die hof. Wat is die rede dat mense so drasties verander. Dit gebeur tog nie uit die bloute nie.

Retha ·

Hy is ‘n psigopaat of iets dergliks om die 2 pragtige mense so koelbloedig te vermoor en dit dan nog vir ander mense te vertel en so wreed met geen berou nie! Sit hom voor ‘n vuur peleton!!!!

Marous ·

Wat van die pyn en lewenslange foltering van die 7 jarige dogtertjie ?

Cassie Carstens ·

Ek het geen simpatie met die man nie. Daar is beslis nog blykbaar ‘n derde persoon wie hy wou skiet. As hulle hom vrylaat op borg, sal dit ‘n kwade dag vir ons regstelsels in Suid Asfrika wees. Hy moet maar bly waar hy is – hy is veiliger daar.

Bolandse Nooi ·

Al die kommentators hier bo – sommer ‘judge and jury” alles-in-een. Die man is nog nie skuldig bevind nie, maar julle het sommer klaar bepaal hy is skuldig. nè?

Leeubekkie ·

Daai arme dogtertjie. Lewenslange trauma. My hart breek vir haar…

Republikein in die Wes Kaap ·

@Retha, niemand word binne sekondes ‘n psigopaat nie. Klink meer na woede. Medikasie veroorsaak ook abnormale gedrag.

Republikein in die Wes Kaap ·

@Boland Nooi, indien hy die hofsaak haal gaan ons dalk dinge hoor wat die sentiment hier kan verander. Dan hoor ons weer: “Arme man”

Thys ·

Ek vir Paul vandat hy vyf jaar oud was, dis nie sy aard om so iets te doen nie, iets het gebeur wat hom laat knak het, en dit sal ons nooit weet nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.