Kospryse: Dié items kan jou begroting help klop

(Argieffoto ter illustrasie: Maroela Media)

Die gemiddelde kosmandjie in Durban, Kaapstad en Pietermaritzburg is goedkoper teenoor dieselfde kosmandjie wat in Johannesburg en Springbok die afgelope maand duurder geword het.

So dui die jongste gegewens van die organisasie Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity (PMBEJD) aan. PMBEJD meet die pryse van ʼn lys voedselsoorte by 44 supermarkte en 33 slaghuise op verskillende plekke in die land.

In sommige gevalle was daar aansienlike prysstygings. Dit sluit in lemoene, waarvan die prys in Februarie 21% meer was as ʼn maand tevore (maar 23% goedkoper as ʼn jaar gelede), spinasie, wat nou 14% duurder is as dieselfde tyd verlede jaar, en selfs mieliemeel – ʼn stapelitem in miljoene huishoudings wat nou 6% meer kos as ʼn maand gelede. Mieliemeel is boonop 28% duurder as dié tyd verlede jaar.

 

ʼn Gemiddelde kosmandjie in Johannesburg kos nou net meer as R50 meer as ʼn maand gelede en is sowat R512 duurder as in Februarie verlede jaar. Die Durbanse mandjie is net-net goedkoper (-R6,39) as ʼn maand gelede en die Kaapstadse mandjie volg dieselfde neiging (-R6,02).

Op Springbok in die Noord-Kaap is ʼn kosmandjie nou R278,48 duurder as ʼn maand tevore (ʼn jaarlikse styging van R484,84) en in Pietermaritzburg is ʼn kosmandjie ook goedkoper (-R99,21) as verlede maand.

grafika: ChristelHooflyninflasie het in Januarie op 6,9% gestaan met voedselinflasie wat terselfdertyd op 13,8% gestaan het.

Dit kos volgens PMBEJD sowat R864,06 per maand om ʼn kind van ʼn basiese voedsame dieet te voorsien, koste wat die afgelope maand met R11,02 (1,33%) toegeneem het Op ʼn jaargrondslag is dit nou 11,9% duurder om ʼn kind behoorlik te voed – dit is ʼn styging van R92,11 sedert ʼn jaar gelede.

Die regering het die kindertoelaag met R20 verhoog (die verhoging tree in April in werking). Dit is ʼn 4,2% verhoging, terwyl voedselinflasie (13,8%) heelwat meer was. In Oktober sal nog R10 by die toelaag gevoeg word, wat dit tot R510 sal opstoot.

“Op R510 is die kindertoelaag steeds 23,1% minder as die voedselbroodlyn van R663 en selfs laer as die bygewerkte armoedelyn later vanjaar bekend gemaak word,” sê die organisasie.

Die situasie gaan boonop bly vererger en gaan neerkom op ʼn tekort van 41% om net ʼn basiese bord kos vir ʼn kind te gee.

“Die kindertoelaag is ʼn baie belangrike manier wat ma’s regstreeks help om kos vir ons kinders te koop. Die regering se prioriteite word in die begrotingstoewysings weerspieël en uit die verhogings is dit duidelik dat die regering nie Suid-Afrika se kinders en ons toekoms prioritiseer nie.”

Items wat die afgelope maand (ietwat) goedkoper geword het en wat dalk kan help om jou inkopiebegroting te laat klop, sluit in hoenderpote (-2%), beesvleis (-7%), blikkies bone (-3%), gevriesde hoenderstukke (-1%) en wors (-4%). Wortels is 7% goedkoper as verlede maand, maar 20% duurder as ʼn jaar gelede.

Die prys van stampmielies het die afgelope jaar met amper ʼn derde toegeneem en aartappels is 41% duurder as dieselfde tyd verlede jaar.

Koekmeel was die afgelope maand goedkoper, maar is nietemin 28% duurder as in Februarie verlede jaar. Hoewel die prys van uie die afgelope maand met net 1% gestyg het, is dit ʼn tamaai 75% duurder as verlede jaar.

Die prys van wit- en bruinbrood het die afgelope maand met 1% gedaal, maar dit is steeds 18% duurder as dié tyd verlede jaar, het PMBEJD se opname bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Agge nee ·

Ek is by ‘n privaatskool. Al ons ouers is redelik welaf, maar almal kry kindertoelaag. Dit word die kind se sakgeld genoem. Die kinders swiep te lekker hulle kaarte [waarin ons belastinggeld betaal word] by die snoepie. Soustrein!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai kinders tree reeds vroeg aan by die trog.

Pieter du plessis ·

Daar is tans pasgebore babas wat tot en met 5 ouers(vrouens) gedeel word op verkillende dae, en al 5 vrouens onvang dan die toelaat ????…………. Hoekom is daar so baie tiener swangerskappe agv die knder toelaag. ????????????

Christine ·

Ja, Pieter du Plessis, kinders word misbruik om kindertoelae te verkry. Dis ‘n skande.

Sê maar net ·

Mense wat reeds op die broodlyn lewe kan nie meer ‘n gesonde bord kos per kind bekostig nie. Hulle lewe nou onder die broodlyn…..Dis baie hartseer.

Pannies ·

Die skrywer slaan die bal heel mis met haar betoog vir n beter kindertoelaag.
Dit behoort afgeskaf te word. Die staat betaal mense wat nie eens vir hulself kan sorg om meer kinders te kry. Dit vererger net die probleem, want werklose mense maak kinders om n inkomste te kry. Baie van die arm ouers gebruik daardie geld vir hulself, drank en dwelms.
Daar is beter maniere om arm kinders te ondersteun.

Jeanette Reinette ·

Die kinders trek geen voordeel uit die toelaag nie. Daar word drank en dwelms gekoop deur die ouers en die kinders lei steeds honger. In plaas van geld, kan daar liewer kospakkies aan die arm gesinne gegee word.

Rooikop ·

Ek ontvang self kinder toelaag vir my kinders en nee ek het nie kinders gekry om geld te kry nie my man het n goeie werk gehad en maatskappy het toe gemaak het weer goeie werk gekry en met die covid en als weereens werk verloor was op daai stadium reeds swanger gewees hy werk nou maar kry skaars geld en kry nie beter pos ek stem dat die kinder toelaag Moet dalk n voucher wees wat jy net melk doeke of kos Kan koop

Amelia ·

As jy nie kinders kan bekostig nie hoekom het jy kinders net vir die toelaag Ekpraat nie hier van kinders wat n ouer of albei verloor het ag moord nie Die belasting betaler moet net vir almal sorg en het nie eers die hoeveelheid kinders wat die wat net bak hand staan nie maar belasting betaler moet sorg vir toelaag Ek weet ook van n paar wat kinder toelaag ontvang wat nie geregtig is op dit nie Pa kry n groot salaris maar nie getroud met vrou maar bly saam en sy kry ook kinder toelaag

Di ·

Kinder toelae is die grootste euwel in die land! Net sekeres word hierdie toelaag betaal en die res moet maar self sorg. Intussen word kinders by die duisende elke jaar gebore net om NOG ‘n ekstra toelaag te kry. Wat hulle nie besef is dat dit ‘n bose kringloop is. Meer skole, hospitale, krag ens word benodig om hierdie hordes te onderhou en dit terwyl helfte van hulle werkloos is. STOP hierdie toelae dan sal hulle minder kinders kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.