Kospryse: Dit kan jy verwag

Argieffoto

Argieffoto

Boere kry swaar in die voortslepende droogte en dit het ʼn domino-effek wat almal gaan raak, van primêre produsente tot verbruikers, meen Johan Pienaar, adjunk uitvoerende direkteur van Agri SA.

Pienaar sê Agri SA doen tans ʼn ontleding om ʼn profiel op te stel van die algemene oorsake van die voortslepende droogte. “Daar het ná ons vorige opname ’n bietjie reën geval, maar nie genoeg om die boere uit die nood te help nie,” het hy verduidelik. “Daar was wel laat graanaanplantings, maar die oes gaan baie minder wees.”

Pienaar sê die geskatte oes sal vanjaar draai by ongeveer sewe miljoen ton. “Dit beteken ʼn drastiese verhoging in kospryse. Die prys van mieliemeel het byvoorbeeld onlangs baie hoog gestyg. Dit het te doen met die droogte, maar ook die feit dat ons sukkel met invoer weens groot tekorte.”

Die ontleding behoort teen einde Mei voltooi te wees, waarna Agri SA beter vir die toekoms sal kan beplan. Pienaar sê die droogte raak almal, van primêre produsente tot verbruikers. “Ons beplan ook om by banke te gaan aanklop vir moontlike ondersteuning aan boere wat werklik gebuk gaan onder die voortslepende droogte.”

Johannes Möller, president van Agri SA, het intussen in reaksie op die nasionale begroting deur die minister van finansies gesê dit sal dwaas wees om nie te erken daar is wel groot druk in die landbousektor nie. “Dit sal baie kortsigtig wees om die ekstreme ekonomiese druk in die land te ontken,” het hy gesê.

Rooivleisprodusente

Intussen blyk dit dat dit beter gaan met die rooivleisprodusente. “Dit wil voorkom asof die aanbod die vraag oorskry, wat beteken daar is ʼn merkwaardige daling in pryse. Met ʼn droogte waardeur die boere tot op hede is, behoort rooivleis se pryse hemelhoog te wees, maar dit is nie so nie omdat boere slag in plaas van red,” het Gerhard Schutte, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleis-produsenteorganisasie (RPO), gesê.

Verbruikers moet dus nou die geleentheid benut om veral lams- en beesvleis aan te koop. “Die produsenteprys van lamsvleis het die afgelope maand met 30% gedaal. Die algemene produsenteprys van lamsvleis is tans 5,8% laer as in 2015. Die beste tyd om te koop, is nou.”

Hoewel die produsenteprys van beesvleis 4% hoër is as in 2015, het dit die afgelope maand met meer as 8% gedaal.

Schutte raai mense egter aan om eerder by die groot maat aan te koop. “Dit is beter om grootmaatvleis te koop en dan die snitte te verwerk soos jy dit wil hê, omdat verbruikers nou baie kan bespaar. Dit is egter nie sulke goeie nuus vir die boere nie.”

Graan SA

Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, het gesê hoewel nie oorhoofs positief nie, is daar tog positiewe aanduidings in die graanbedryf.

Die prys van brood het ook die afgelope maand gedaal weens verlaagde koste wat ingevoerde graan betref. “Daar is sprake dat die invoer van graan met 10% verhoog gaan word, maar dit behoort geensins die prys van brood te raak nie.”

De Villiers het ook gesê Graan SA het sy verbasing uitgespreek teenoor die grootte van die voorlopige produksieskatting deur die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK). Terwyl die mark tussen 5,5 miljoen en 6,5 miljoen ton vir die jaar verwag het, is die geskatte oes 7,4 miljoen ton.

“Die oes gaan beslis laer wees as verlede jaar. Die 7,4 miljoen ton bly ʼn vooruitskatting, en ons kan nie vir seker sê dat die oeste wel iets gaan oplewer nie omdat daar baie laat aanplantings gemaak is. Maar as die oes enigsins soos die geskatte vooruitsig is, kan dit ʼn daling in pryse beteken.”

Melkprodusente

Dr. Koos Coetzee, MPO-ekonoom, sê in ʼn verklaring melkproduksie het in April vanjaar gedaal met meer as 5% teenoor die eerste gedeelte van die jaar. Dit het ook in Januarie en Februarie vanjaar gedaal, maar weer in Aprilmaand begin styg weens die verminderde produksie van suiwelprodukte.

Coetzee sê die droogte is in sommige gebiede so erg dat boere byna al hulle koeie moet verkoop. Die swak rand beperk ook invoer.

Intussen het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) ook vroeër vanjaar sy globale vooruitskattings vir 2016 en 2017 afwaarts aangepas. Melkproduksie vir die vorige maand het met meer as 7% gedaal teenoor Maart in die vorige jaar.

“Produsentepryse is verlaag in Augustus, September en Oktober 2015 omdat produksie steeds hoë vlakke gehandhaaf het. Pryse het egter effens toegeneem tot die jaareinde verlede jaar. Verbruikers kan egter nie binnekort enige dalings verwag nie, omdat nog verdere prysverhogings vanaf vroeg vanjaar aangekondig is, en daar nog geen aanduiding is dat dit gaan daal nie,” het Coetzee gesê.

Die negatiewe groei in melkproduksie word steeds gehandhaaf. Boere is onder ernstige druk om hoër insette te lewer en staande produsentepryse en verdere vertragings in die verhoging van produsentepryse kan produksievermoë ernstig beskadig.

Bronne: Agri SA, Graan SA, MPO, RPO

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

tw ·

Hoe nou????? Ons betaal ons ore van ons koppe af in Oos-Londen vir vleis, vanaf slaghuise tot supermarkte en die verskoning elke keer wat ons hoor is dat die droogte die rede is vir die skielike hoe pryse van vleis, nee regtig, nou is ek deurmekaar. Iewers is mense besig om vinnig ryk te word uit n land se nood situasie. Sies!!!

Paul ·

Niemand forseer jou om die duur vleis te koop nie. Gaan na ‘n slaghuis waar dit goedkoper is.

Mededinging druk slegs pryse af as die verbruiker die moeite doen om op te hou om die duur produkte te koop en eerder die mededinger se produk koop.

Kasper ·

Stem met jou saam tw, die verbruiker word van alle kante af uitgebuit. Vleis het kamma goedkoper geword, maar snaaks ek sien nie daai daling in prys by enige slaghuis of supermark nie. Nee die verskoning bly die vleis is so duur a.g.v. die droogte… bla,blabla. Ek se laat die goed begin vrot word in daai supermark yskas. stem met jou beursie!

John ·

Ons boere hou aan wolf-wolf skree. Dan is aartappels R90 en nou word ou uitgeloopte gestoorde aartappels vir R30 aan ons verkwansel. ‘Koop vleis in grootmaat’, is nou die nuutste. Daarvoor is ‘n groot vrieskas nodig. Aai tog! Nog koop. Die boere behandel die stedelinge soos trekdonkies … effe onnosel wat ‘n wortel voor en ‘n stok agter, benodig. Hulle verstaan nie die mense in die stede werk vir ‘n salaris nie en kan net soveel per maand koop. Nie meer nie. Een seisoen reen dit laat, soos nou, en die volgende seisoen weer soos gewoonlik. Was dit vanjaar nie hoogdrama nie? Aai tog! Die gewone burgers is angstig en arm genoeg. Moenie dit oordoen nie, anders trek julle self aan die kortste end.

Daan ·

Johan. Wil jy nie verstaan nie. DIT IS NIE DIE BOERE SE SKULD NIE. Kan jy nie lees nie. Dit is die waardeketting tussen boer en verbruiker waar die fout lê.

Kasper ·

Johan , ek stem saam. Sien weekliks hoe die boere die groente terughou op die plaaslikke mark, net om die prys te kan verhoog. Dan gebruik hulle die verskoning dis die droogte. Twee weke later wil daardie selfde boer sy vrot uie en aartappels wat uitloop op die mark kom smous.. Dan skielik sal hy maar aanvaar wat hy kry. As jy hom vra hoekom die aartappels al uitloop , want dit is duidelik die goed was al lankal gestoor, kry jy nie ‘n reguit antwoord nie.
Ja daar is ook boere wat rerig swaar kry in die droogte, maar baie gebruik dit ook nou om die verbruiker uit te buit( die wat direk lewer aan die mark). Ek praat nie eers hier van die middelmanne wat ook so lekker uitbuit nie..

Pieter dp ·

Johan.

Jy het geen iedee wat op n plaas aan gaan nie. Daar is geen prys bepaaling tussen die boer en die verspryder nie. Die verspryder sè net dood eenvoudig hy gee n X badrag vir jou as boer se goedere en hy bepaal dan ook so doende die Y bedrag wat jy as die verbryker moet op dok.

As dit so goed gaan met landbou, hoekom word die boere al minder en minder. Ek dink jy moet vir n slag na die verspryder kyk en nie na die prodiesent nie.

Boeredogter ·

Ekskuus?

Was jy al ooit ‘n jaar in ‘n boer se skoene?

Ek wonder nog altyd wat sal gebeur as die verbruiker by Pik en Betaal instap en bloot vat wat hy wil hê én dan vir die eienaar (bestuurder) sê: “Ek betaal jou Rx vir die produkte.”

Of jy lewer ‘n diens, maar die man aan wie die diens gelewer is, maak die prys, hy besluit hoeveel hy jou WIL betaal vir die werk wat jy gelewer het.

Gaan kyk na die winsgrens van landbou-insetmaatskappye soos kunsmis, saad, gifstowwe. En vergelyk dit met die risiko wat die boer dra met ‘n winsgrens van dikwels onder 10%.

Boere is aan alle kante prysnemers. Die markagent bepaal die prys, die graankopers (meulenaars) en voerkrale bepaal die prys. Aan die ander kant, bepaal die handelaar van insette die prys en die regering besluit wat diesel en arbeid sal kos.

Hoe sal enige regdenkende sakeman só ‘n besigheid bestuur? Ek ken mense, dokters, doktore en andere, wat gedink het hulle kan vinnig geld maak met boerdery. So vinnig soos hul grond aangekoop het, moes hulle maar weer verkoop….
Een prof het dit só verwoord: “Daar is makliker maniere om vinnig van ‘n paar honderdduisend rand ontslae te raak. Weggee is een van hulle.”

Doen dalk moeite, gaan bly vir ‘n jaar by ‘n ware boer en loop elke dag die pad saam met hom. Dan kom praat jy weer.

Paul ·

Die “algemene oorsake van die voortslepende droogte” of moet dit eerder die “gevolge” wees? Ek vermoed hy bedoel “gevolge”.

elsja ·

Boere is prys aannemers kan nie self prys bepaal dit is vat of los

Kasper ·

Gee dit darem vir die ou regering, in die 80’s toe ons ook so droogte gehad het, het die regering net geel mielies ingevoer en die prys van brood en melk vasgepen. Hoekom pen die huidige regering nie ook die prys van basiese stapel-voedsels vas nie?
Ek verstaan ook met die ouens wat die mielies nou huidiglik invoer is ook besig om die pryse kunsmatig hoog te maak, hoekom laat die regering dit toe?

Johann Marx ·

Ek het in ‘n omgewing groot geword waar my pa alles in “tonnemaat ” aangekoop het om bv veevoer mee te vervaardig. Tot vandag toe as ek ‘n item se prys sien, skakel ek dit om na ‘n tonnemaat prys toe. Kyk bietjie hierna: Die boer kry R4 400,00 per ton vir sy mielies. Die supermark verkoop die mieliemeel teen R23 000,00 per ton. Nou vra ek jou, wat se “waarde” is daarby toegevoeg om hierdie prysstygings te regverdig? Dieselfde met vleis. Die boer kry nou R18 000,00 per ton op die hoef, maar die supermark slaghuis verkoop dit een R129 000,00 per ton. Watter waarde het hulle toegevoeg om so ‘n prys te regverdig? Mense moet begin om DIREK by die verskaffer te koop….Maak die supermarkte TOE!!! Hulle is verantwoordelik vir 90% van die stedelinge se finansiële swaarkry!!

Pieter dp ·

Marx jy slaan die spyker op sy kop. Ek dink die boere moet maar hul eie bemarking onder die steedeling doen . En soos jy sè gaan koop by die boer en spaar soo jou geltjies.

Cherokee ·

Johann Marx, somtyds lees ek jou kommentare met ‘n skewe (mondhoeke na ondertoe) trek om my mond en ander tye stem ek met jou saam. Hierdie keer ondersteun ek jou ten volle met wat jy sê. Ek het grootgeword op 700 morg gemengde boerdery en kan saam praat. Ek het ‘separator melk’ gedrink vanuit die roomafskeier en het volroommelk in my mond gespuit vanuit die koei se speen terwyl ek haar gemelk het. Én die ‘droë’ beeste direk daarna met die perd in die veld gaan haal. Dit klink dus asof ons dieselfde taal praat. Die grootste probleem wat ek het met die huidige prysstygings is dat ons die boere jammer kry en die prysverhogings verstaan MAAR(!) pryse daal nooit weer na goeie reën nie! Tydens die sanksiejare was sanksies op die verbruiker toegepas met sanksieverskonings vir die verhoogde pryse. Nooit het pryse weer gedaal na sanksies verwyder is nie. Nou betaal ons meer as gevolg van die droogte maar wanneer dit baie reën sal daar ‘n verhoging wees omdat spesiale behandeling nodig is om muf te voorkom en wanneer daar ‘n normale en standaard jaar is sal ons ‘n verhoging betaal om Zuma se nuwe êrreplain te betaal.

John ·

Ons word hierbo deur mnr Schutte aangese, om vleis op groot maat aan te koop. By wie, die goeie winkelier. Wie wen nou, die winkelier. Boere-organisasies en nie die regering of die handelaars nie, het bogenoemde inligting aan ons oorgedra. Hoekom? As ek ‘n verdere vraag durf vra: Hoekom gebruik ons boere soveel GM-graansaad, as dit deur Europese lande, Rusland en verskeie ander lande afgeskiet word? Ons sojabone is glo deur die bank gemanipuleer so ook die meeste van die mieliesaad. Die sade is glo so droogtebestand. Dink ons graanboere ons hier in die suide is onnosel en hoor nie van die gevare wat dit inhou nie, sodat hulle rekordwinste kan maak, selfs tydens droogtes (Ha, ha). Hulle moet hierdie GM-leuenaars gaan vasvat. Nou voer ons lieflike GM-mielies vir die honger massas in … sonder dat ons gewetens ons pla.

Johann ·

Net jammer die boere vind geen baad by die verhoogde voedsel pryse nie die winkeliers lag al die pad bank toe

Adele ·

Ek se “support” eerder die boere direk. Ek sien op FB melk en vleis word nou direk deur die boere self verkoop. In Walkerville JHB gebruik hulle die skou gronde elke Saterdag om vars groente en vrugte te verkoop. Ek dink die boere moet meer na so iets kyk. So sny ons hierdie groot ketting winkels uit wat “rebates” soek en dan die eind verbruiker so in doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.