Kospryse onder groot druk

Verbruikers moet al hoe slimmer dink om meer met hul rande te doen. (Foto: Eskort)

Die prys van brandstof – in sommige provinsies kos petrol nou al meer as R20 per liter – het ʼn regstreekse uitwerking op die prys van basiese voedselitems en Suid-Afrikaners sal hulle moet staal vir hoër kospryse.

Volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) het die prys van 93-oktaan-petrol in die binneland die afgelope 10 jaar met 91,8% toegeneem, oor die afgelope vyf jaar het dit met 60% gestyg en oor die afgelope jaar met 41%.

Arnold Prinsloo, hoof van Eskort, sê voedselpryse kom boonop verder onder druk weens die internasionale verskepingskrisis, hoër kragpryse – met nog tariefverhogings op hande – die bykomende koste om die ligte te midde van beurtkrag aan te hou, en die sukkelende spoorvragvervoerstelsel wat beteken items moet teen groter koste per pad vervoer word.

Stygende insetkoste in die landboubedryf, wat insluit produksiekoste, verwerking, berging, vervoer en verpakking, het beduidend verhoog en maak dit al hoe duurder om kos op die tafel te kry.

Hoewel die meeste voedselitems verhogings gaan sien, gaan dit veel meer tasbaar in die vleis- en varsproduktesektor wees, sê Prinsloo.

ʼn Studie van Knorr het bevind Suid-Afrika het ʼn kultuur van vleis eet en eet dit gemiddeld vier keer per week. Sowat 84% van die bevolking is vleiseters en elke Suid-Afrikaner eet gemiddeld 58 kg vleis elke jaar, in vergelyking met die 40 kg wat hulle gemiddeld in 1994 geëet het.

Die prys van varkvleis het die afgelope jaar gedaal en maak dit ʼn aanloklike opsie vir verbruikers wat meer waarde vir geld soek. En terwyl die Kersete-spyskaart in talle huishoudings opgestel word, is daar nie net kommer oor wat die vleis in die kosmandjie kos nie, maar dikwels ook wat die voedingswaarde daarvan is.

“Wanneer verbruikers moet kies hoe hulle hul rande gaan rek, kry hoeveelheid dikwels voorkeur bo voedingsgehalte,” sê Prinsloo.

Hy sê varkvleis bly egter een van die bekostigbaarste bronne van proteïen en bied boonop heelwat voedingsvoordele. Die proteïeninhoud van laevetvark kan tot 89% wees, wat dit ʼn ryk bron van proteïen maak. Varkvleis bevat ook noodsaaklike aminosure wat die liggaam benodig.

“Met stygende koste wat in elke element van die ekonomie gevoel kan word, sal verbruikers wat veerkragtig en ekonomies te werk wil gaan, meer prysslim moet word en gesonder keuses maak om meer waarde vir geld te kry – soos om dié Kerstyd varkvleis te koop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.