‘Kostebesparing nié rede vir Life Esidimeni-tragedie’

Familie van die Life Esidimeni-slagoffers was vroeër tydens die arbitrasieverhore in trane (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Barbara Creecy, die Gautengse LUR vir finansies, het Dinsdag tydens die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor bewerings ontken dat die departement onder finansiële druk was en kostes moes besnoei en daarom besluit het om honderde psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oor te plaas.

Minstens 143 pasiënte het tydens dié oorplasing gesterf en 59 word steeds vermis.

“Die tesourie het nooit geëis dat die departement kostes moet besnoei nie,” het Creecy gesê. Haar opmerking is begroet met ʼn luide handeklap van familielede van die pasiënte wat die verhoor bygewoon het.

Creecy het haar getuienis gelewer voor afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke wat as voorsitter van die verhoor optree. Moseneke het Creecy by die getuielys gevoeg nadat daar tydens die verhoor beweer is die oorplasing van die pasiënte is genoodsaak deur ʼn tekort aan geld.

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het verlede week volgehou die departement het sy kontrak met Life Esidimeni beëindig weens finansiële beperkings.

Mahlangu het gesê die verwydering van die pasiënte uit Esidimeni was daarop gemik om kostes te besnoei aangesien die departement R320 per pasiënt per dag betaal het by Life Esidimeni, in teenstelling met R112 per pasiënt per dag wat hulle by die NRO’s betaal het.

Creecy het gesê hoewel daar geen opdrag was dat die departement kostes moes besnoei nie, was die gesondheidsdepartement wel in die skuld en het hulle nie diensverskaffers betyds betaal nie. Hulle is daarom deur die tesourie onder administrasie geplaas.

Die departement, wat voor 2014 ʼn skuldlas van ongeveer R1,4 miljard gehad het, het reusebedrae aan verskeie hospitale geskuld.

Creecy het gesê toe Nomvula Mokonyane die premier was, het sy die Gautengse departement van gesondheid onder administrasie geplaas. Mokonyane is nou die minister van die water en sanitasie.

“Die eerste ding wat fout was by sentrale hospitale is dat die bestuur nie geweet het wat hul begrotings is nie en hoe om binne daardie begrotings te bestee nie. Toerusting sou aangekoop geword het met geld wat nie daar was nie … niemand het gekyk watter produkte word gekoop voordat hulle bestel en afgelewer is nie,” het Creecy gesê.

Sy het gesê terwyl die provinsiale tesourie die gesondheidsdepartement geadministreer het, was probleme opgelos sonder dat uitgawe of dienste besnoei is.

“Dit was ʼn bestuursprobleem, nie ʼn finansiële een nie,” het sy verduidelik.

Moseneke het Creecy gevra of die idee dat koste vir kerndienste besnoei is ʼn vreemde konsep vir haar was, waarop sy geantwoord het: “Ja, die druk om koste te verminder was nie op kerndienste nie.”

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SKANDVLEK ·

Wat is ‘n kerndiens? Dalk het hulle nie gedink dis ‘n kerndiens nie? Natuurlik is kostebesparing die rede daarvoor. Hulle was in die knyp en moes skielik oor drie jaar ‘n paar miljoen spaar en WAT is makliker as om die wat nie vir hulleself kan dink en praat nie in te doen en te verneuk met goedkoper akkommodasie wat nie eers naastenby gereed was om hulle te ontvang of te versorg nie? Weereens sal ek graag al die name van die plekke wil weet waarheen die mense gestuur is, ek wed julle dit is nog baantjies vir boeties ook . maak familie en vriende ryk deur ‘n klomp mense wat versorging nodit het soontoe te verplaas, dan kan hulle die Sassa toelae eis en niks vir die pasient doen nie. Dit is ‘n skreiende skande, maar as ek so na dinge kyk pass almal die buck .. niemand gaan hiervoor pa staan nie . almal beskuldig almal, en eintlik is dit omdat die geld van die begin af of gemors of wanaangewend is dat daar op hierdie arme siele bespaar is .. JULLE sal hiervoor boet al is dit in die hiernamaals!

Gestremde ·

Met behoorlike ondersoek sal daar gevind word dat daar ‘n groter prentjie rondom die misbruik van geld is as wat voorgegee word. Laat hulle die SA Nasionale Lottery ook ondersoek wat veronderstel is om ‘n deel van hul winste te gee vir gestremdes. Die koste per pasient regverdig nie die R1.4 miljard se verlies nie, as daar ook gedink word dat die SA lottery verder fondse moet voorsien nie. Sien David Makhuru, Gautengse premier het Dinsdagaand verantwoordelikheid vir die Life Esidimeni-tragedie aanvaar maar volgens my is die probleem groter as wat voorgegee word en wil hulle nou die aangeleentheid onder die mat vee, voordat daar n hele blik vol vrot wurms oopgemaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.