Koster-5 se borgtogaansoeke val weer vas

Stefan Nel (links) en Adam Barnard (regs) in die landdroshof in Koster (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die borgtogaansoek van die vyf beskuldigdes wat teregstaan vir die moord op Klaas Mosimanyana Jobontho (32) in Desember in Koster in Noordwes is Maandag vir ʼn tweede keer uitgestel.

Stefan Nel, Donovan Martin, Mustafa Albertyn, Wayne Schroeder en Adam Barnard het weer vlugtig in die landdroshof op Koster verskyn. Dit was Nel se derde verskyning binne ʼn week in verband met sy borgtogaansoek.

Die borgtogverrigtinge vir Martin, Albertyn en Schroeder is tot Maandag (13 Februarie) uitgestel omdat hul woonadresse nog bevestig moet word. Dit was ook die rede vir die vorige uitstel van die saak.

Die borgtogaansoeke van Nel en Barnard sou vandag voortgaan, maar omdat die hof se bandopnemer buite werking was, het landdros Mahlodi Mabapa die verrigtinge tot Donderdag (9 Februarie) uitgestel.

Nel se regsverteenwoordiger, Hekkie Grobler, het ʼn aansoek ingedien dat die verrigtinge in die belang van geregtigheid moet voortgaan deur middel van selfoonopnames en skriftelike aantekeninge. Mabapa het dié versoek van die hand gewys en gesê dat die saak uitgestel moet word om sodoende ʼn regverdige verhoor te verseker.

Barnard het verlede Maandag aan die hof gesê dat hy sy eie verdediging sal behartig.

Nel, Martin en Albertyn word aangekla van moord, dwarsboming van die gereg en die verhindering van die polisie in die uitvoering van hul pligte, terwyl Schroeder en Barnard slegs op laasgenoemde twee aanklagte teregstaan.

Jobontho se ontbinde liggaam is op 21 Desember op ʼn plaas naby Doornlaagte ontdek. Die plaas is op Nel se verloofde se naam geregistreer.

Klaas Mosimanyana Jobontho (Foto: Klaas Mosimanyana Jobontho, Facebook)

Familie van Nel en Barnard het hul misnoeë te kenne gegee oor die borgtogaansoek wat volgens hulle reeds lank sloer. Nel en sy medebeskuldigdes is al vir sowat 53 dae in aanhouding.

Die families glo in hul geliefdes se onskuld en meen dat vertragingstaktieke gebruik word om die saak langer te laat sloer.

“Iemand is onskuldig totdat hy of sy skuldig bevind word, en in hierdie stadium moet onskuldige mense in die tronk sit. Dit is mos nie in die belang van geregtigheid nie,” sê ʼn familielid op voorwaarde van anonimiteit.

Twee van die beskuldigdes het na afloop van die hofverrigtinge ook gesê hulle voel die regstelsel laat hulle in die steek.

Met Nel se borgtogverrigtinge wat Donderdag begin het, het die ondersoekbeampte, sers. Floyd Tsele, tydens ondervraging aangedui dat hy ʼn sterk saak teen Nel het. Hy het ook aangevoer dat Nel nie die volle waarheid vertel nie.

Hy sê daarom moet Nel se borgtogaansoek teengestaan word.

Tsele sou vandag hierop uitgebrei het, maar die saak is uitgestel.

Adv. Tebogo Mogokonyane, staatsaanklaer, het ook aangedui dat die staat Nel se borgtogaansoek gaan teenstaan. Dit word om twee redes gedoen, sê Mogokonyane: omdat Nel se huisadres nog nie bevestig kon word nie en omdat dit nie in die belang van geregtigheid sou wees om hom vry te laat nie.

Grobler het egter aangevoer Nel se pa het ʼn beëdigde verklaring afgelê waarin die beskuldigde se huisadres bevestig word, terwyl sy suster se huisadres as ʼn tweede adres bevestig kan word.

Stefan Nel se borgtogaansoek is Maandag vir die derde keer uitgestel (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Maroela Media het vroeër berig die polisie is op 21 Desember na die betrokke plaas waar die inwoners na bewering die polisie by die hek ontmoet, maar geweier het om beamptes toegang tot die plaas te gee. Die beamptes het toe oor die geslote hek geklim om self toegang te verkry.

Toe die polisie toegang tot die plaas verkry, het hulle bloedspore op die grond gewaar wat hulle na ʼn stoorkamer gelei het waar hulle ʼn ontbinde liggaam gevind het. Die persoon se hande is met ʼn elektriese koord vasgebind en hy het slaanmerke aan sy lyf gehad.

Twee vuurwapens, ammunisie en ʼn slaapsak is ook op die toneel gevind.

Alle aanklagte is voorlopig teen ʼn sesde verdagte, Lourene Janse van Niewenhuisen, teruggetrek hangende die uitslag van die polisie se verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is erg as die regstelsel beïnvloed word deur onbevoegdheid soos die geval hier dan is totale anargie ons voorland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.