Koster-betoging: 31 hoor oor borgtog

Kim Medupe, burgemeester van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, se huis, gastehuis en vier voertuie wat op die perseel gestaan het, is deur betogers aan die brand gesteek. Foto: ANA

31 mense wat verlede week in hegtenis geneem is in verband met die gewelddadige betogings in Koster en Derby in Noordwes, het Maandag vlugtig in die Koster-landdroshof verskyn.

Al die beskuldigdes is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Die staat het nie hul borgtogaansoeke teengestaan nie.

Die hof het beveel dat die beskuldigdes afskrifte van hul onderskeie identiteitsdokumente moet inhandig en dat hulle nie aan enige protesaksies mag deelneem tot die saak teen hulle gefinaliseer is nie. Die saak is daarna tot 28 Junie uitgestel vir ʼn besluit van die direkteur van openbare vervolging.

Altesaam 16 mense is op 25 Mei in hegtenis geneem op aanklag van openbare geweld tydens ʼn diensleweringsbetoging in Koster. Dit kom nadat nog 15 betogers reeds enkele dae vantevore in hegtenis geneem is.

Kim Medupe, burgemeester van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, se huis en nog ʼn gebou wat sy in Reagile besit is tydens die betogings afgebrand, terwyl haar gastehuis in die dorp ook afgebrand is. Nog ʼn raadslid se huis, asook ses voertuie, is ook in Reagile aan die brand gesteek.

Polisiebeamptes op die toneel tydens betogings in Koster in Noordwes (23 Mei 2018). Foto: ANA

Maandag was die R52 tussen Koster en Rustenburg steeds met klippe en vullis versper en betogers het kruiwaens gebruik om hope rommel op dié pad uit te gooi. Die pad is later weer oopgestel vir verkeer en polisiebeamptes is steeds in die gebied ontplooi om die situasie te monitor.

Van die betogers het vandag die hofverrigtinge bygewoon saam met leerders van Mphe-Bana High School wat wil hê die betogings moet einde kry sodat hulle met hul eksamens kan voortgaan.

Leerders het in hul skooluniforms voor die hof plakkate omhoog gehou wat lees “Ons het ʼn reg op onderrig” en “die betoging moet nie ons onderrig ontwrig nie”.

Skole is tydens die betogings gesluit en sommige ondernemings het ook hul deure gesluit gehou. Die betogings het boonop hofverrigtinge beïnvloed omdat prokureurs nie by dié klein plattelandse dorp wes van Rustenburg kon uitkom nie.

Sake is in die meeste gevalle tot 7 Junie uitgestel omdat regspanne nie in die hof teenwoordig was nie.

Die betogers wat Maandag buite die hof saamgedrom het, het egter gesê die betogings sal voortgaan totdat Medupe uit haar amp as burgemeester bedank het en dié wat in hegtenis geneem is op waarskuwing vrygelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

GM ·

Ag lekker man, hul ‘demand’ dat almal op waarskuwing vrygelaat word. Arresteer dan sommer die wat so dreig ook. My jinne, hoe moeilik is dit om wet en orde te handhaaf? Kriminele behoort nie regte te hê nie. Lewendige ammunisie. Probleem opgelos. Hul sal ‘n paar keer so betoog en dan weet hulle gaan seerkry. En hul sou verniet gewerk het, tot daai skade ‘betaal’ was.

Koster ·

Lekker man lekker R1000 borgtog is te heerlik .. eintlik as jy iemand se huis aan die brand steek is dit na my mening ook poging tot moord want jy weet nie of daar mense binne in die huis is nie. Dit is behalwe nog BRANDSTIGTIG en aanhitsing tot geweld en vernietiging van ander mense se privaat eiendom . maar ja .. in SA is die regstelsel 100% aan die kant van die betoger . hulle behoort niks oor te kom nie .. soos al die duisende voor hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.