Koster-betogings: ‘Munisipale dienste word vandag hervat’

Die Kgetlengrivier-munisipaliteit. Foto: Molaole Montsho/ANA

Die Kgetlengrivier-munisipaliteit het onderneem dat munisipale dienste in Koster in Noordwes van Woensdag af hervat sal word en dat die nodige stappe gedoen is om uitdagings in die munisipaliteit te takel.

Joseph Mogale, munisipale woordvoerder, het gesê munisipale bedrywighede sal van vandag af “terugkeer na normaal”.

“Water sal voorsien word deur middel van tenks rondom Koster en die ander gebiede wat geaffekteer is. Ons bevestig daar was probleme met watertoevoer en waterkwaliteit nadat ons besef het dat daar inmenging by die waterpompstasie was gedurende die betogings. Dit het die watervoorsiening aan ons gemeenskappe geaffekteer,” het Mogale gesê.

“Die bestuur het daarom met die Magalies Waterraad as die grootmaatwaterverskaffer in gesprek getree en is eers vandag [Dinsdag] in kennis gestel dat die water nie veilig is vir menslike gebruik nie.”

Hy het gesê die bestuur en die raad is tevrede met die vordering wat gemaak is tydens gesprekke met gemeenskapsverteenwoordigers na aanleiding van die betogings wat die dienslewering geraak het.

Chaos het op 23 Mei in dié klein plattelandse gemeenskap wes van Rustenburg ontstaan nadat die inwoners van Reagile op ʼn verwoestingstog gegaan het weens ontevredenheid oor ʼn gebrek aan dienslewering. Kim Medupe, die Kgetlengrivier-burgemeester, se huis, gastehuis en nog ʼn gebou wat aan haar behoort is aan die brand gesteek. ʼn Raadslid se huis, ʼn supermark en verskeie voertuie is ook deur betogers verwoes.

Kim Medupe, burgemeester van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, se huis, gastehuis en vier voertuie wat op die perseel gestaan het, is deur betogers aan die brand gesteek. Foto: ANA

Die betogings het na Derby versprei waar ʼn vragmotor en motor op die R30 tussen Rustenburg en Ventersdorp aan die brand gesteek is.

Altesaam 31 mense is in verband met die betogings in hegtenis geneem en later op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Hulle sal op 28 Junie weer in die hof verskyn.

Mogale het gesê die munisipaliteit “het met kommer kennis geneem” van ʼn negatiewe mediaverklaring wat deur die DA uitgereik is waarin “onregmatige beskuldigings” teenoor die munisipaliteit gemaak word.

Cobus Snyman, DA-raadslid in Kgetlengrivier, het op 31 Mei in ʼn verklaring gesê die frustrasie van inwoners spruit uit die swak bestuur van die ANC-geleide raad.

Snyman het aangevoer die munisipale bestuurder en die finansiële hoof is aangestel sonder dat hulle die nodige ondervinding het. “Dienslewering het heeltemal ineengestort en dit is bevestig deur die 2016/2017-verslag van die ouditeur-generaal,” het hy gesê.

Mogale het gesê die munisipaliteit het die afgelope twee finansiële jare ʼn ongekwalifiseerde oudit-opinie ontvang. “Die bestuur het ʼn ouditverbetering-aksieplan opgestel om aandag te gee aan die belangrike kwessies en sal voortgaan om saam met die ouditeur-generaal te werk om beter oudituitkomste te bereik,” het hy gesê.

Polisiebeamptes op die toneel waar betogings in Koster in Noordwes woed (23 Mei 2018). Foto: ANA

“Hoewel ons munisipaliteit ernstige ingryping benodig, was daar tot dusver nog geen formele kommunikasie van die provinsiale regering af nie. As ʼn munisipaliteit verwelkom ons die ingryping van die nasionale regering en sal ons ons samewerking gee om seker te maak dat dit ʼn invloed op dienslewering het.”

Hy het bygevoeg die korrekte werwingsproses is gevolg om senior bestuurslede in ooreenstemming met die relevante regulasies aan te stel en gesê dit is betreurenswaardig dat die DA beweer die bestuurders is onervare.

Mogale het ook gesê die munisipaliteit het reeds die nodige reëlings met Eskom getref om sy elektrisiteitskuld af te betaal en sal die ooreenkoms ten volle nakom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Hoe kry hulle R1000 borg ? Dit is duidelik dat die regering glad nie beoog om dit te beveg nie. Anargie is wat hulle voor wens en dit is wat hulle gaan kry . Die hele land gaan inplof …binnekort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.