Koster-betogings vir eers gestaak

Polisiebeamptes op die toneel waar betogings in Koster in Noordwes woed (23 Mei 2018). Foto: ANA

Betogings in Koster, Noordwes, is Maandag vir eers gestaak hangende die ingryping van die interministeriële taakspan wat ontplooi is om die situasie in die provinsie te stabiliseer.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 25 April ʼn interministeriële taakspan aangestel om dringend die stand van die regering in Noordwes te ondersoek. Die taakspan word gelei deur Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie vir beplanning, monitering en evaluasie.

Inwoners in Koster het Maandagmiddag tydens ʼn vergadering in Reagile ooreengekom om vir eers die betoging te staak en het versoek om Woensdag met verteenwoordigers van die taakspan te vergader.

As deel van die ooreenkoms sal skole Dinsdag heropen, werkers sal toegelaat word om na hul onderskeie werkplekke te gaan en munisipale werkers sal noodsaaklike dienste lewer.

Die gemeenskap sal dan Donderdag weer vergader om te besluit oor die pad vorentoe.

Maroela Media het vroeër berig leerders van die Mphe-Bana High School het Maandag buite die Koster-landdroshof ʼn stille protesaksie gehou om te versoek dat die betogings stopgesit moet word.

Hulle het buite die hof, waar 31 mense verskyn het wat tydens die betogings in hegtenis geneem is, saamgedrom met plakkate wat lui “ons het ʼn reg op onderrig” en “die betoging moet nie ons onderrig ontwrig nie”.

Kim Medupe, burgemeester van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, se huis, gastehuis en vier voertuie wat op die perseel gestaan het, is deur betogers aan die brand gesteek. Foto: ANA

ʼn Vlaag gewelddadige betogings het sedert 23 Mei in die Kgetlengrivier-munisipaliteit gewoed toe inwoners van Reagile buite Koster in opstand gekom het teen ʼn gebrek aan dienslewering.

Kim Medupe, burgemeester van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, se huis en nog ʼn gebou wat sy in Reagile besit, is tydens die betogings afgebrand, terwyl haar gastehuis in die dorp ook afgebrand is. Nog ʼn raadslid se huis, asook ses voertuie, is ook in Reagile aan die brand gesteek.

Die betoging het later tot by Derby versprei waar ʼn vragmotor en motor aan die brand gesteek is.

Altesaam 31 mense is in hegtenis geneem – 16 in Koster en 15 in Derby. Hulle is Maandag op borgtog van R1 000 elk vrygelaat en die saak is tot 28 Junie uitgestel vir ʼn besluit van die direkteur van openbare vervolging.

Die verdagtes staan tereg op aanklagte van openbare geweld, brandstigting en opsetlike saakbeskadiging. Die hof het beveel dat die beskuldigdes afskrifte van hul onderskeie identiteitsdokumente moet inhandig en dat hulle aan geen protesoptredes mag deelneem tot die saak teen hulle gefinaliseer is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris Ws ·

Met die betogings het die polisie toegekyk(gemonitor) hoe die betogers al die paaie blokkeer wat uit Koster lei.Met ander woorde dit dra hul goedkeuring weg dat motoriste AWT LISENSIEGELDE BETAAL se reg om paaie te gebruik hul ontneem word.Ek kan dit nie verstaan nie.Waar is die handhawing van wet en orde dan??

christa ·

hoekom “vir eers”. Die stakers moes lankal vas gevat gewees het. Hulle het gans en al te veel regte. Baie is nog kinders wat op die skoolbanke hoort en hulle geleerdheid nodig het vir ‘n toekoms. Dan wil hulle kla oor agtergeblewendes as ander beter daaraan toe is.

christa ·

Chris daar is geen wette nie…. die Suid Afrika. Dit hoort so dat die polisie net toekyk dis in hulle aard.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.