Koster-gemeenskap trek laer om dorp op te knap

‘n Boer van Koster het sy padskraper beskikbaar gestel om die pad by die begrafplaas te skraap. (Foto: Verskaf)

ʼn Klein groep inwoners van die Koster-gemeenskap in Noordwes het die afgelope paar maande ʼn wesenlike verskil op dié dorp gemaak wat lank reeds onder swak dienslewering gebuk gaan.

Sowat 2 400 lede van die “Koster: Van toeka tot nou”-blad op Facebook bly sedert April verlede jaar op hoogte van die dorp se sake deur dié blad te volg.

Johan Pienaar, Leona Verster en CF Grundling is die stigterslede van die blad, waar nostalgiese foto’s en herinneringe gedeel word, asook doodsberigte en opdaterings oor wat op dié dorp aangaan.

Pienaar, wat op Koster gebore en getoë is en in 2009 na George in die Wes-Kaap verhuis het, vertel sy liefde vir die dorp het nooit gekwyn nie.

Toe Verster hom verlede jaar nader oor ʼn soort museum wat opgerig moet word vir kosbare foto’s en beelde van die dorp, het Pienaar gedink die beste, maklikste oplossing is om ʼn Facebook-blad te skep.

Intussen het die blad tot 2 400 lede gegroei en volgens Pienaar groei dié blad daagliks. Pienaar vertel die dorp het veral aan die begin van die jaar baie gesukkel met water- en rioolgeriewe en hy wou meer doen om die inwoners van die dorp se ongerief te verlig.

Ander inwoners wou ook graag help, maar was onseker oor waar om te begin. Pienaar het met die idee vorendag gekom om ʼn bankrekening te skep waar lede van die Facebook-blad geld kon inbetaal om by te dra vir opknappings op die dorp.

Hoe die pad gelyk het voordat dit geskraap is. (Foto: Verskaf)

“Ons het die sowat 2 400 lede van die groep uitgedaag om elkeen slegs R100 of meer te skenk ten bate van die dorp se opknappings. Ons het spoedig byna R25 000 ingesamel. Dit is aangewend om projekte regoor die dorp mee aan te pak,” vertel Pienaar aan Maroela Media.

Grundling is in beheer van die geldsake. Die geld is onder meer aangewend om die Koster-begraafplaas skoon te maak en bosse te snoei, en daar is sowat drie weke gelede ʼn tweede keer gesny en gif gespuit.

Inwoners Tina Viljoen en Thys de Beer help ook met die projekte op die dorp.

ʼn Boer met ʼn voerkraal naby die dorp het ook onlangs ʼn padskraper beskikbaar gestel waarmee die pad na die begraafplaas, verby die asgate, ook netjies geskraap is, vertel Pienaar.

“Daar is ook ʼn man wat ons help deur weekliks rommel in die dorp op te tel en ons vergoed hom met die geld wat deur die blad ingesamel word.”

Volgens Pienaar is hulle ook tans in die proses om die dorp se ingangsborde reg te maak. “Dit tel in ons guns dat baie mense op die dorp goedgunstiglik ingestem het om te help met die projekte.”

Hy sê die terugvoer wat hy oor die blad se inisiatief ontvang, is uiters positief. “Dit wat ons doen is sigbaar en mense wat dit nie op die dorp self kan beleef nie, kan dit sien deur middel van ons blad.”

As oudinwoner van Koster lê die welstand van die mense op die dorp hom steeds na aan die hart. “As jy een keer daar gebly het, dan is dit maar net so. Jou grootwordplek bly maar jou tuiste. My ouers het vir baie jare daar gebly en jy ken ook uiteraard baie mense.

“Dit is ʼn klein dorpie en mense is aan mekaar geheg. Ten spyte van die probleme is dit ʼn lekker plek om te bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Mooi so Koster gemeenskap

Tiaan

Ons voorland in meeste dorpe en stede is om self dienste te lewer. Koster stel ‘n goeie voorbeeld.

Alex

Om aan te sluit by n vorige berig van Cyril wat wil opbou wat afgebreek en geplunder was in die looting. Weereens belasting betaler se geld om op te bou. Hier sit jy met n dorp war agteruit gegaan het en ANC doen niks om dit eers reg te maak nie. ‘Ons’ mense moet uit hulle sak uithaal om ANC se plunder en munisipale afbreek reg te maak om weer trots van ‘ons’ mense te herstel.

Ja wat

As ons net almal ons grondbelasting kan terughou dan sal al die dorpe netjies wees.Wel gedaan Koster.

Piet parys

Watter party is in beheer van Koster . Dit help nie om altyd net reg te maak met julle belaste geld nie gooi die burgermeester en kie uit hulle gemakstoele en sny hulle fondse af . Dryf hulle uit